“Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor wat julle sal drink, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Let op die voëls van die hemel: Hulle saai nie en hulle maai nie, en hulle versamel niks in skure nie. Tog sorg julle hemelse Vader vir hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie?”
Matt. 6: 25-26
Hoe kom ons by die punt om in totale oorgawe aan God te leef? Ons is so besig om te beplan, te bespreek, beangs te wees oor die toekoms, om bymekaar te maak, sodat ons genoeg kan hê in ons oudag. Tog het Christus self vir ons daarop gewys hoe sinloos dit alles is. Net soos God vir die insekte, die voëls en alle ander diere sorg, deur middel van die seisoene. Plante groei sonder kunsmis en produseer die saad en vrugte, volgens elke plant se tyd, wat elke dier nodig het om te oorleef. God wys ons elke dag hoe Hy sorg vir die wêreld. Dis nie nodig om ons te bekommer oor die dag van môre nie. Ons kan slegs wik, maar God beskik oor wat op die lewenspad gebeur.
Hierdie oorgawe beteken nie noodwendig dat mens alles wat jy doen met oorgawe doen nie; veral nie as jy dit wat jy doen op eie inisiatief aanpak en alles insit wat jy het nie. Dit moet deur God geïnisieer wees en gedryf deur die leiding van die Heilige Gees. Elke ding wat jy doen moet tot eer van God wees. Ons moet dus elke dag met volle oorgawe aan God leef. In ons woorde; in ons dade; in ons gedagtes, moet elke ding tot eer van God wees. ‘n Anonieme aanhaling stel dit so goed: “My lewe is ‘n melodie van God. Op my eie kan ek slegs klank voortbring, maar as my lewe ten volle aan Hom oorgegee is, sing Hy sy lied deur my – ‘n perfekte melodie.”
“Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind. Wat sal dit ‘n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor?” (Matt. 16: 25-26)
Dit is nie altyd so maklik nie. Hoe maklik vorm ons ‘n verkeerde oordeel oor iemand, of iets wat iemand doen? Dit is asof ons net regstaan om fout te vind in wat ander doen of aanpak. Ons ken dikwels nie die agtergrond, of het enige idee van die rede vir ‘n daad van diens van ‘n ander nie. Tog vind ons dit so maklik om daardie splinter in ‘n ander se oog raak te sien. Laat ons mekaar as broers en susters aanvaar as mense wat ook met oorgawe vir Christus wil leef. Want Christus het ons duidelik daarop gewys dat ons nie Sy volgeling kan wees, as ons nie vir Hom liewer het as enigeen waaraan ons kan dink in hierdie wêreld nie.
“Want ook die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys.” (Mark. 10: 45); “As iemand na My kom en My nie liefhet bo sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja selfs sy eie lewe nie, kan nie my dissipel wees nie.” (Luk. 14: 26)
Laat elkeen van ons na Jesus Christus kom en deur ons oorgawe word soos die borrelende fontein, wat Christus vir ons kom moontlik maak het. Laat ons die woorde van Christus inneem sodat ons ook deur die Gees kan lewe in die lig. Laat ons ook in verwondering praat oor God, die Vader, die Seun, Jesus Christus, en die Trooster, die Heilige Gees, wat dit vir ons moontlik maak om in oorgawe te kan leef, deur die genade wat hulle ons gegee het. Laat ons saam sing tot eer en verheerliking van al hulle wonder dade elke dag van ons lewe.
“Die water wat Ek hom gee, sal in hom ‘n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe.” (Joh. 4: 14): “…julle ondersoek die Skrifte, omdat julle dink dat die ewige lewe daarin te vinde is. Maar julle wil nie na My kom, sodat julle lewe kan hê nie.” (Joh. 5: 39-40); “Die woorde wat Ek tot julle gespreek het, is Gees en is lewe.” (Joh. 6:63); “Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Joh. 8: 12); “Sing vir Hom, besing Hom; praat met oorgawe oor al sy wonderwerke.” (1 Kron. 16: 9)


