Stof tot nadenke: God se inslag in Christus se geboortelyn

Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van Sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heillige Gees wat nuwe lewe gee.
Tit. 3: 5

Ons verstaan nie altyd die ervarings wat ons op die lyf loop en wat soms selfs traumatiese lewensveranderinge in ons lewens teweeg bring nie. Dit is dikwels eers wanneer mens terugkyk na enige sulke ervarings dat mens besef dat dit dui op die inslag van God in ons lewens. Vandag wil ek kyk na soortgelyke gebeure, vir daardie tyd se lewensstyl en aanvaarde standaarde, wat die voorgeslag lewens lyn van Christus bepaal het. Ons weet dit kon net die inslag van God in daardie mense se lewens gewees het wat die gebeure so laat plaasvind het.

Die geslagregister van Jesus word hoofsaaklik deur die mans van daardie tyd uiteengesit om die deurgaande lyn aan te dui. Daar is egter enkele vroue wat genoem word, en wanneer mens na die enkele aantal van die vroue gaan kyk, weet mens dat dit alleen deur die inwerking van God se wil so kon gebeur het (“Die geslagregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham:- Abraham het Isak verwek, Isak het Jakob verwek, Jakob het Juda en sy broers verwek, Juda het Peres en Serag by Tamar verwek,Peres het Gesron verwek, Gesron het Ram verwek, Ram het Amminadab verwek, Amminadab het Nagson verwek, Nagson het Salmon verwek, Salmon het Boas by Ragab verwek, Boas het Obed by Rut verwek, Obed het Isai verwek en Isai het Dawid, die koning, verwek.- Dawid het Salomo by die vrou van Urija verwek,- Salomo het Abia verwek, Aia het Asa verwek, Josafat het Joram verwek, Joram het Ussia verwek, Ussia het Jotam verwek, Jotam het Agas verwek, Agas het Hiskia verwek, Hiskia het Manasse verwek, Manasse het Amon verwek en in die tyd van die wegvoering na Babilon- het Josia Jojagin en sy browers verwek.- Ná die wegvoering na Babilon, het Jojagin Sealtiël verwek, Sealtiël het Serubbabel verwek,_ Serubbabel het Abihud verwek, Abihud het Eljakim verwek, Eljakim het Asor verwek, Asor het Sadok verwek, Sadok het Agim verwek, Agim het Elihud verwek, Elihud het Eleasar verwek, Eleasar het Mattan verwek, Mattan het Jakob verwek en Jakob het Josef verwek, die man van Maria uit wie Jesus gebore is.” (Matt. 1: 1-16)). Die geslagregister maak mens soms deurmekaar met al die tongknoop name.

Die vyf vroue wat in die geslagregister van Jesus verskyn, het almal ‘n interessante oorsprong, en was ook vroue wat nie noodwendig deur die samelewing van daardie tyd die regte beroep beoefen, of lewensstyl gehad het nie.

Tamar was ‘n kanaänietiese meisie, wat as bruid op dertien-jarige ouderdom deur Juda, die broer van Josef, as bruid vir sy oudste seun gekies is. Die verhaal van Tamar speel af na die val van Sodom en Gomorra, en het die jong meisie oortuig dat God almagtig is. Sy het dus alles in haar vermoë gedoen om die weë van God te volg. Die jangman, Er, was ‘n wreedaard en het Tamar baie sleg behandel. Hy het eendag dood neergeslaan. Volgens die gebruik van daardie tyd, moes Tamar toe met die tweede seun trou; wat ook gebeur het. Die seun, wat geweier het om haar ‘n eerste nageslag vir sy oudste broer te gee, is ook dood. Juda was nou bang om ook sy derde seun aan Tamar te gee as man, omdat hy gevrees het dat ook die derde seun sou sterf (Gen. 38: 1-11). Die seuns het gesterf omdat hulle nie guns in die oë van die Here gehad het nie (“Maar Er, Juda se eersgeborene, was sleg in die oë van die Here, en die Here het hom laat sterf.” (Gen. 38: 7); “wat hy (Onan, tweede seun van Juda) gedoen het was verkeerd in die oë van die Here, en Hy het hom laat sterf.” (Gen. 38: 10)). Selfs haar eie ouers wou haar nie as dogter terugneem in die huis, nadat Juda haar, as weduwee, teruggestuur het huistoe nie. Sy moes as slaaf in haar eie ouerhuis werk. Toe sy opsluit besef dat sy nie, soos wat sy gedink en gehoop het, met die derde seun gaan trou nie, het sy nadat sy gehoor het dat Juda se vrou oorlede is, as prostituut langs die pad gestaan waar Juda moes verbygaan. Daar langs die pad het hy vir Peres en Serag by Tamar verwek (Gen. 38: 12-19). Hy het nie geweet dat dit Tamar was nie, en toe hy hoor dat sy ‘skoondogter’ swanger is wou hy haar laat verbrand. Tamar het egter van sy persoonlike items as pand geneem vir die betaling wat hy later vir haar sou gee. Toe Juda besef dat hy sy eie skoondogter as prostituut misbruik het, het hy besef hoe verkeerd hy opgetree het. Hy het haar verder onder sy beskerming, as skoondogter versorg. Wanneer mens die verhaal lees, laat dit mens koud word oor die onverskillige manier wat jong meisies behandel is in daardie tye, maar dit was God se plan – en het uiteindelik tot die geboorte van Jesus Christus gelei.

Die volgende vrou wat genoem word in die geslagregister van Jesus, is Ragab, ‘n Moabitiese vrou. Die prostituut wat die Israeliete toegang gegee het tot Jerigo, en wat die enigste was, saam met die mense wat in haar huis was tydens die val van Jerigo se mure, wat die aanval oorleef het, aangesien sy verwyder is voordat die aanval plaas gevind het. Volgens Hebreërs het Ragab deur haar geloof oorleef omdat sy die spioene in vrede ontvang het (“Deur geloof het Ragab, die prostituut, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het.” (Heb. 11
:31); (“Is Ragab, die prostituut, nie ook net so op grond van dade regverdig verklaar, toe sy die boodskappers gasvry ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie?” (Jak. 2: 25)). Salmon was die pa van Boas, wat hy by Ragab verwek.

Rut is die derde vrou wat genoem word in die geslagregister van Jesus. Sy wat deur haar man en as skoondogter van Naomi, tot geloof gekom het, wou Naomi nie alleen laat terugkeer na haar land en Bethlehem nie. Rut het terwille van oorlewing op die landerye van Boas, are, wat die snyers laat val het, gaan versamel, sodat sy en Naomi kon oorleef (“Rut, die Moabiet , het vir Naomi gesê: Kan ek maar na die lande toe gaan en by die gerwe, agter iemand wat my goedgesind sal wees, gaan are optel?” – “Gaan maar, my dogter,” het Naomi haar geantwoord. Sy het geloop en gaan are optel in die lande agter die snyers. En dit was toe so dat dié deel van die land aan Boas, uit die geslag van Elimeleg, behoort.” (Rut 2: 2-3)). Sy het uieindelik guns, en die beskerming van Boas geniet. Naomi was familie van Boas en het vir Rut aangemoedig om op die landerye van Boas te gaan are optel. Boas het by Rut, ‘n Moabitiese jongvrou, en skoondogter van Naomi, vir Obed, verwek.

Die vierde vrou wat pertinent genoem word in Jesus se geslagregister is, Batseba, die vrou van Urija, wat ‘n Hetiet was. Die kontroversieële verhaal wat goed bekend is, en vertel hoe Dawid vir Urija in die voorste linies in die oorlog laat plaas het, sodat hy sou sterf. So, ook Batseba, as vrou van Urija, word in die geslagregister genoem as ma van Salomo. Psalm 51 is ‘n bekende Psalm waar Dawid om genade smeek vir sy ootreding voor God (“Wees my genadig, o God, volgens u troue liefde; wis my oortredinge uit volgens u groot ontferming…” (Ps. 51: 3)). En tog is hierdie kindjie, wat in liefde verwek is, en ook as een van die wyste konings van daardie tye genoem word, ‘n belangrike skakel in die geslaglyn van Jesus.

Die laaste, en vyfde vrou, wat pertinent genoem word in die geslagregister van Jesus, is Maria. Maria se verhaal is die ongelooflike verhaal van ‘n swangerskap wat deur God self gewil is. Dit het egter nie gekeer dat Josef skrikkerig was om met haar te trou nie (“Terwyl hy daaroor nagedink het, het daar skielik ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en gesë: “ Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees.” (Matt. 1: 20)).

Dit is dus duidelik dat selfs in hierdie geslagregister van Jesus, het daar vroue uit ander kultuurgroepe en van twyfelagtige gebruike, maar wat God as Here aanvaar het, ‘n onvergeetlike plek in die gesiedenis van ons geloof gekry. Dit maan ons om nie veroordelend te wees teenoor enigiemand nie. Dit beklemtoon die belangrikheid van geloof in die Enigste, Ware en Drie-enige God, en dat dit die belangrikse faktor is in mens se lewe. God kan elkeen van ons gebruik, as ons ons harte vir Hom oopmaak en Jesus Christus as Verlosser aanvaar. Die Heilige Gees sal leiding neem as ons Hom toelaat om beheer oor te neem, en nie ons eie wil laat geskied nie. Dan sal ons ook moontlik, soos Jeremia, van God kan hoor “As jy jou bekeer, en Ek jou toelaat om jou te bekeer, sal jy in my diens staan.” (Jer. 15: 19). Ons kan seker weet dat God in beheer is.