“Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil.”
Spr. 30: 5 83
God is ‘n God van beloftes! Deur die hele Woord van God vind ons telkemale Sy beloftes aan die wat in Hom glo. Hy het egter nie beloof dat daar nie ook swaarkry dae gaan wees nie, maar wel dat Hy altyd by Sy mense sal wees met onderskraging. ‘n Anonieme aanhaling verwoord dit so goed: ‘God het ons nie dae sonder pyn; lag sonder verdriet of sonskyndae sonder reën beloof nie. Maar Hy het ons krag vir die dag en troos vir die trane en lig vir die pad beloof’. God se belofte aan Abraham is die bekendste, en Abraham en sy nakomelinge het daaraan vasgehou dwarsdeur hul lewens.
“Al die nasies van die aarde sal wens om so geseënd te wees soos jou nageslag, omdat jy na my stem geluister het.” (Gen. 22: 18 20);
“Ek sal jou nageslag so talryk maak soos die sterre aan die hemelruim, en aan jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee. Al die nasies van die aarde sal wens om so geseënd te wees soos jou nageslag.” (Gen 26: 4 20);
“Jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde. Jy sal uitbrei na die weste, die ooste, die noorde en die suide. Deur jou en jou nageslag sal die grootfamilies van die aarde geseënd wees. Kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou beskerm oral waar jy gaan. Ek sal jou laat terugkeer na hierdie land, want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek beloof het.” (Gen. 28: 14-15 20);
“En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof regverdig sou verklaar, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.”” (Gal 3: 8 20 )
God het ook aan Koning Dawid ‘n belofte gemaak, omdat hy ‘n man na God se hart was. ‘n Belofte wat Hy nagekom het! Die hoon en pyndood van Jesus Christus, wat vir ons sondes kom sterf het. Maar God en Jesus Christus het geweet daar is ‘n groter doel daaragter. Want sonder Jesus Christus se kruisdood, sou nie een van ons die paal kon haal nie. Dit het dit vir elkeen van ons moontlik gemaak om deel te hê aan die erfdeel wat God in Sy Vader liefde aan ons wou gee.
“En nadat Hy hom (Saul) afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Ísai, gevind, ‘n man na my Hart, wat al my welbehae sal doen. Uit die nageslag van hierdie man het God vir Israel, volgens die belofte, Jesus as Verlosser verwek,…” (Hand. 13: 22-23 20);
“Die belofte dat hy die wêreld as erfdeel sou ontvang, het nie deur die wet na Abraham of sy nageslag gekom nie, maar deur die geregtigheid van die geloof.” (Rom. 4: 13 20);
“Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word.” (Gal. 3: 22 20)
Daar is dus nou geen onderskeid tussen mense nie. Niemand is beter of in hoër aansig voor God nie. God het dit vir elkeen van ons kom moontlik maak om in geloof voor Hom neer te buig, en as Sy kinders aangeneem te word. God het vir ons die Heilige Gees deur Jesus Christus beloof, sodat ons elke oomblik, van elke dag, nie alleen hoef te wees nie.
“En Petrus sê vir hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” (Hand. 2: 38-39 20);
“Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” (Gal. 3: 28-29 20);
“…sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het, in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heililge Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.” (Ef. 1: 12-14 20);
“Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het.” (Ef. 2: 11-14 20)
Ons kan dus elkeen, deur die belofte van die genadegawe van die Verlossing, wat deur Jesus Christus moontlik gemaak is, in nederigheid en ootmoed aanneem, sodat ons tot verheerliking van God kan leef. Jesus het die middelaar van die nuwe testament geword, deur elkeen van ons se sonde op Hom te neem, sodat elkeen van ons, hier naby of daar ver, die ewige lewe kan beërf.
“Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe; sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle wat deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is. Want toe God aan Abraham die belofte gegee het, het Hy omdat Hy by geen meerdere kon sweer nie, by Homself gesweer en gesê: Voorwaar, Ek sal jou ryklik seën en jou grootliks vermeerder. En so het hy die belofte verkry waarop hy geduldig gewag het.” (Heb. 6: 11-15 20);
“En daarom is Hy middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.” (Heb. 9: 16 20);
“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2 Pet. 3: 9 20);
“En dit is die belofte wat Hy ons beloof het, naamlik die ewige lewe.” (1 Joh. 2: 25 20)


