Stof tot nadenke: Die nabyheid van God

Maar wat my betref, die nabyheid van God is vir my goed. Ek het my Heer, die Here, my skuilplek gemaak, sodat ek van al u werk kan vertel.
Ps. 73: 28

Ons herdenking van Hemelvaart is agter die rug. Ons is nou in hie herdenkingstyd tussen die Hemelvaart en die uitstorting van die Heillige Gees, waarna menige apostels en dissipels spontaan begin getuig het. Tog voel ons mense dikwels asof God nie na aan ons is nie. Ons wil ook die doringbos ervaring of die Sinaiberg ervaring hê wat Moses gehad het toe hy direk met God gepraat het, al kon hy God nie sien nie (“Moses het gesien daar is ‘n doringbos aan die brand, maar dié doringbos word sowaar nie verteer nie. Toe dink Moses, ek moet afdraai, sodat ek na hierdie buitengewone verskynsel kan kyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie? Toe die Here sien dat hy afgedraai het om dit van nader te bekyk, het God na hom geroep uit die doringbos: “Moses! Moses!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” Toe sê die Here: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond.” (Eks.3: 2-5); (“’Die Here, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: “Ek gee noukeurig aandag aan julle en aan wat julle in Egipte aangedoen word”…” (Eks. 3: 16)). Elkeen van ons wens soms dat ons daardie soort van ervarings kan beleef, net soos Thomas wat eers vir Jesus wou gesien het na die opstanding, voordat hy kon glo.

Jesus Christus het egter gekom, en Hy was soms moedeloos met die vrae van die dissiples (“Jesus sê vir hom: “Ek is al so ‘n lang tyd by julle, en het jy My nie leer ken nie, Fillipus? Wie My gesien het, het die Vader gesien. Waarom sê jy dan, ‘Wys ons die Vader? Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en Sy werke doen.” (Joh. 14: 9-10)). Jesus beloof ons ook dat ons die Vader alleen deur Hom sal ken (“Thomas sê vir Hom: “Here ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg ken?” Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.” (Joh. 14: 5-7)). Juis omdat die dissipels Hom gesien, en deur God gedring was om dit wat hulle beleef het vir ons op te teken, is ons bevoorreg om die Evangelie van Jesus Christus te ken en te weet dat dit die Waarheid is wat ons vandag in die Bybel lees. Hy het die dissipels op elke moontlike manier voorberei op wat op hulle wag (“Daar kom ‘n tyd dat Ek nie meer deur gelykenisse met julle sal praat nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel. Op daardie dag sal julle in my Naam bid. Daarmee sê Ek nie vir julle dat Ek tot die Vader vir julle sal bid nie; want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het.” (Joh. 16: 25–27)).

Jesus Christus het ons ook beloof dat Hy vir die Vader sal vra om vir ons ‘n parakleedt (wat soms verstaan word as ‘advokaat’, ‘berader, ‘helper’ of ‘trooster’) te stuur (“As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou. En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Parakleetd gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.” (Joh. 14: 15-17)). Op hierdie wyse is God altyd by ons, en hoewel ons op die oomblik uitsien na die herdenking van die uitstorting van die Heilige Gees, is die Heilige Gees reeds by ons en ontvang ons daagliks krag om in hierdie wêreld voort te gaan ((“…die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het. Vrtede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie.” (Joh. 14: 26-27); (“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” (Hand. 1: 8)).

God is dus so na aan ons, dat ons daagliks in Sy hand kan leef, onder leiding van die Heilige Gees ((“Ons is die getuies van hierdie gebeure, en so ook die Heilige Gees, wat God gegee het aan hulle wat aan Hom gehoorsaam is.” (Hand. 5: 32); (“En God die kenner van harte, het dit bevestig deurdat Hy die Heilige Gees aan hulle, net soos aan ons, geskenk het.” (Hand. 15: 8); (“En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” (Rom. 5: 5)), en deur die genadegawe van Jesus Christus. Ons kan met blydskap en vrede vervul wees in die seker wete dat God se nabyheid elke dag ‘n belewenis is (“Mag God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heillige Gees. ” (Rom. 15: 13)), en dat ons met vreugde kan getuig, omdat ons duurgekoop is (“Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ‘n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duurgekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.” (1 Kor. 6: 19-20)). Dis ook met hierdie wonderlike wete wat ons elke Sondag se seëngroet kan ontvang in die eredienste (“Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle almal.” (2 Kor. 13:13)).

Ons moet dus hierdie kosbare pand, wat aan ons toevertrou is deur die Heilige Gees, bewaar (“Bewaar die kosbare pand wat aan jou toevertrou is deur die Heilige Gees wat in ons woon. ” (2 Tim. 4: 14)). Sodoende bly ons binne die verbond wat God ook met ons gesluit het (“Ook die Heilige Gees getuig teenoor ons; want nadat Hy gesê het, “Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met hulle sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle harte gee, en dit op hulle verstand neerskryf, “sê Hy ook: “Aan hulle sondes en hulle wettelose dade sal Ek nie meer dink nie.” Waar daar vergifnis hiervoor is, word ‘n offer vir sondes nie meer gebring nie.” (Heb. 10: 15-18)). Ons kan, net soos Paulus, sonder vrees uitsien na die laaste pylvak en die bevryding van ons liggame (“En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame. ” (Rom. 8: 23)), want God is so naby aan ons, soos die suurstof wat ons longe vul met elke ademteug (“In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is. Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid.” (Eff. 1: 13-14)).