“Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, as die eiendom van God beseël.”
Eff. 1: 13
In hierdie Pinkstertyd, word ons weereens bewus van die aandeel van die Heilige Gees in God se werk. Jesus Christus wat nie net met water gedoop was nie, maar ook met die Heilige Gees gedoop is, in die teenwoordigheid van God self. Christus self het ons attent gemaak op hoe belangrik die Heilige Gees is. Johannes Calvyn het dit ook mooi verwoord: “As ons die Heilige Gees van God erken as die fontein van waarheid, sal ons die waarheid nooit verag nie, in watter vorm dit ook al kan voorkom…”
”Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ‘n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook ‘n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” (Matt. 3: 16-17); ”
Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.” (Mark. 3: 29);
”Elkeen wat teen die Seun van die mens iets sê, kan vergewe word, maar hy wat teen die Heilige Gees laster kan nie vergewe word nie.” (Luk 12: 10);
”Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.” (Joh. 16: 7)
Van die begin van die skepping was die Gees van God reeds teenwoordig. Telkens in die Bybel hoor ons van die Gees wat met die mense is wat deur God gelei word om Sy volk Israel te lei. Dis duidelik dat die leiding, insig en die krag van die Gees afkom. Keer op keer is dit deur die bystand van die Gees wat oorwinning behaal word. Ook tydens die trek deur die woestyn, is dit die Gees wat hulle van raad voorsien. Telkens wanneer God iemand wil gebruik, gee Hy ons dus die toerusting deur die bystand van die Heilige Gees.
”In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.” (Gen. 1: 1-2);
“Ek sal dan afkom en daar met jou praat, en Ek sal van die Gees wat op jou is, op hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou die verantwoordelikheid vir die volk dra, sodat jy dit nie alleen hoef te doen nie.” (Num. 11: 17);
“Toe sê die Here vir Moses: “Neem vir Josua seun van Nun, ‘n man op wie my Gees is, en lê hom die hande op.”” (Num. 27: 18);
“Die Gees van die Here het vir Gideon in besit geneem. …” (Rig. 6: 34);
“Toe het die Gees van die Here op Jefta gekom, en hy het deur Gilead en Manasse en verbygetrek tot by Mispa in Gilead, en van daar af het hy teen die Ammoniete opgetrek.” (Rig. 11: 29);
“Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy het die leeu kaalhand uitmekaar geskeur asof dit ‘n bokkie was.” (Rig. 14: 6)
Job wat deur sy moeilike tye en baie verdriet tot die insig kom dat dit die Gees van God is wat ons insig gee. Ook JH Bovinck het in sy getuienis sy geloof in die Heilige Gees so mooi gestel: “Ek glo in ‘n geheimsinnige Iemand wat naby my is, wat binne-in my is, wat my armsalige gespartel en gespook sien, en wat my dan stilletjies vashou en my ongemerk van binne uit weer innerlike krag gee. Ek het vele male in my lewe ervaar as ek wegsink en meegevoer word deur die strome van die lewe wat my na onder wil trek. Maar ek het ook beslissende momente in my lewe ondervind dat ek opgetel en hoog bo die water gedra word…En altyd weer was ek oortuig dat daar Iemand in my moet wees, Iemand wat my vashou, Iemand wat my saggies maar ferm in die arms toevou. Ek glo in die Heilige Gees!” Ons weet dat die Heilige Gees meer kan doen in ‘n minuut, as wat ons in ‘n hele leeftyd sal kan doen.
”Maar dit is die gees in die mens wat die mens insig gee, die gees wat van die Almagtige af kom. Dt is nie die baie jare wat verstandig maak en aan oumense insig gee in wat reg is nie.” (Job 32: 8-9)
Hoe kan ons dan stil bly? Ons word verseker dat ons die krag en woorde sal ontvang wanneer ons dit ookal mag nodig kry. Ons moet lewende getuies wees, deur ons wandel en deur ons dade, van die wonderlike genade gawes wat ons van God, die Vader, Die verlosser, Jesus Christus en die Voorspraak, die Heilige Gees ontvang. Sodat die hele wêreld kan sien aan wie ons behoort.
”Leer my om U wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op ‘n gelyk pad lei.” (Ps. 143: 10);
“Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees.” (Mark 13: 11);
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld.” (Hand. 1: 8)


