“Daarna kom Jesus met sy dissipels by ‘n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My. Hy het ‘n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verby gaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”
Matt. 26: 36-39
Almal van ons ken alleen wees. Dit is iets wat ons deur ons lewe telkens beleef. Dit kan in afsondering wees, of dit kan ook in ‘n groep mense wees, soos familie of vriende. Dis wanneer mens nie regtig aanklank vind by die mense rondom jou nie, of onbegrip vir jou as mens beleef. Mense se opinies en uitkyk op die lewe is so verskillend, dat dit mens totaal alleen en eensaam kan laat. Maar ons hoef dit nie in doodsbenoudheid te beleef soos Christus gedoen het nie; en mens kan leer om daarmee saam te leef. Ons is almal uniek. Ons ervarings is verskillend en ons kyk na dinge verskillend.
Die mense rondom verstaan ook nie altyd die konteks nie en soek net die beste vir hulleself. Soos ook die dissipels, Johannes en Jakobus, gedoen het, wat besef het dat Christus na die Vader gaan. Hulle wou graag die ereplek langs Hom hê. Maar helaas, die motiewe is verkeerd, en dit is die Vader wat besluit wie waar sal sit eendag. Ons hou ons besig met onbenullighede, om in aansien te styg. En daar was mense wat Sy dood aktief gesoek het, en hulle daarvoor beywer het met slinkse planne. Self Sy menslike salwing het onmin onder die dissipels laat ontstaan, ter wille van finansiële gewin en onder die dekmantel van wat vir die armes gedoen kan word.“”Wat kan ek vir u doen?” vra Hy vir haar. Sy sê vir Hom: “Belowe my dat hierdie twee seuns van my in die koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.” Toe antwoord Jesus: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink?” “Ons kan,” antwoord hulle. Jesus sê toe vir hulle: “Ja, my beker sal julle drink. Maar om aan my regter- en my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie die Vader dit gereed gemaak het.”” (Matt. 20: 21-23);“In daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester. Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het egter gesê:”nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.”” (Mat 26: 3-5); Christus se salwing word volledig beskryf in Matt. 26: 6-13; Mark. 14: 3-9 & Joh. 12: 1-8.
Kan ons, ons egter regtig indink in die alleen wees van Christus? Hy het presies geweet wat kom en dit het Hom doodsbenoud gemaak. Hy het ook in sy menswees ‘n tyd beleef dat Hy nie seker was of Hy daarvoor kans sien nie. Hy het egter reeds vir Judas op sy pad van verraad gestuur, en Hy het geweet dat Petrus en die ander dissipels hom sou verloën. So dit kon alleenlik by God wees wat hy hierdie lydensbeker by Hom verby kon laat gaan. In Sy gebed daar by Getsamane vra Hy vir Petrus, Johannes en Jakobus om saam met Hom te waak, terwyl Hy sy bekende gebed tot God bid om die lydensbeker by Hom te laat verby gaan. Wanneer Hy na die dissipels tergkeer vind Hy hulle elke keer aan die slaap. Hulle het nie eers kans gesien om een uur saam met Hom te waak nie. Hoe verskriklik alleen was Hy? Sonder mense wat bereid was om die moeite te doen om saam met Hom wakker te bly. “Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eers een uur lank saam met My waak nie? Waak en bid dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.” (Matt. 26); “Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe: “’Ek sal die herder doodmaak, en die skape van sy kudde sal uuitmekaar gejaag word.’” (Matt. 26: 31-34)
Christus was egter bereid om in hierdie angswekkende alleentyd tog die lydensbeker te drink, omdat dit die Vader se wil was, en ter wille van almal wat in Hom geglo het, en ook wat in die toekoms sou glo. Ons moet besef dat Hy reeds die wêreld en die dood oorwin het, vir ons as gelowiges. Ons moet getrou bly aan die waarheid en toewyding aan die Vader, om ons dankbaarheid vir hierdie grootse liefde en die genade gawe, uit te leef. “Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle nou? Kyk daar kom ‘n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” (Joh. 16: 31-33); “Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; en ter wille van hulle wy Ek My aan U te, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.” (Joh 17: 18-19); Judas se verraai voornemens word in Matt. 26: 14-16 beskryf.


