“Simon Petrus vra Hom toe: “Here, waarheen gaan U?” Jesus het hom geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy volg.””
(Joh. 13: 36)
Ons is almal oppad deur hierdie aardse lewe. Dit is vir elkeen van ons om te besluit waarheen ons oppad is, want dit alles gaan nie oor waardeur ons gaan in hierdie lewe nie, maar waarheen ons oppad is, daardie finale eindbestemming. Dit is tydens ons reis deur hierdie lewe, wat ons die besluit moet neem, oor waarheen ons oppad is. Soos Joseph Bailey dit so goed stel, ’is dit ons wat besluit wat ons bestemming sal wees wanneer ons sterf’. Ons eind bestemming is nie ‘n kwessie van toeval nie, maar dis ‘n kwessie van keuse, so ons moet iets self daaraan doen. Dit neem ons so dikwels baie lank in ons lewe om tot die besef te kom wat die ware betekenis van die lewe is. Stephen Butler Peacock het besluit dat ‘Dit nie te doen het met die volmaakte bestemming wat ons bereik nie, maar met hoe ons elke minuut van elke dag kies om hierdie lewensreis aan te pak.’
Ons is gered om vir mekaar daar te wees. Ons moet dus ons reisgenote in ag neem op die pad. Vir die Here gaan dit nie net oor of ons die bestemming bereik nie, maar hoe ons met mekaar tydens hierdie reis oor die weg kom. Ons kan nie verwag dat God vir ons hierdie bestemming skep nie. Dit is ons taak hier op aarde om die bestemming, wat God reeds geskep het vir elkeen van ons, te ontdek. Volgens Henrietta Mears ‘Bereik die man wat saam met God stap, altyd sy bestemming.’
Christus het ons duidelike aanduidings gegee deur Sy antwoorde op die apostels se vrae. Hy het vir ons telke male genoem dat Hy die lig is vir hierdie wêreld. So ons moet Hom volg. Ons moet die duisternis agterlaat en Hom volg, want as jy in duisternis sonder die lig lewe, weet jy nie waarheen jy oppad is en wat jou eindbestemming gaan wees nie. Hy maak ons attent daarop dat Hy lankal reeds daar plekke vir ons gaan voorberei het. Ons weet waarheen Hy gegaan het. Dit is die eind bestemming om ‘n keuse voor te maak.
“Jesus het toe vir hulle gesê: “Nog ‘n kort tydjie is die lig by julle. Terwyl julle die lig het, leef daarvolgens, sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis leef, weet nie waarheen hy gaan nie.” (Joh. 12: 35);
“”Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek voorberei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook daar kan wees waar Ek is. Julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.” (Joh. 14: 1-4);
“Maar wie sy broer haat, is in die duisternis, en wandel in die duisternis, en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë blind maak.” (1 Joh. 2: 11)
Die lewe van Abraham het ons ook duidelik gewys, dat ons na God moet luister, en gehoor gee aan Sy leiding deur die Heilige Gees. Dit is dan wanneer ons die oorwinning van Jesus Christus kan beleef, in genade en met die geloof wat God in ons verwek het. Dit is dan alleen hoe ons die oorwinning en die onoortreflike eind bestemming kan bereik. Dit is ook met hierdie wete dat ons die sterflike self se einde kan trotseer, sodat ons met onverganklikheid beklee kan word wanneer ons volg in Christus se voorbeeld. Hou vas aan die wete dat Jesus Christus ook vir jou die dood so oorwin het!
“Deur geloof was Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te trek na ‘n plek wat hy as erfenis sou ontvang, en hy het weggetrek, sonder om te weet waarheen hy gaan.” (Heb. 11: 8);
“Maar aan God die dank, wat aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.” (1 Kor. 15: 57);
“Want hierdie verganklike liggaam moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike liggaam met onsterflikheid. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee word, sal die woord wat geskryf staan, vervul word: “Die dood is verslind in oorwinning. “Dood, waar is jou oorwinning? Dood waar is jou angel?”” (1 Kor. 15: 53);
“Want dit is die liefde vir God, dat ons sy gebooie onderhou, en sy opdragte is nie ‘n swaar las nie; want elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin – ons geloof.”


