Gebedsgids Julie 2024

GEBEDSGIDS – JULIE 2024

Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor (Jes 65:24).

Maandag 1 Julie – Volhard in gebed

Ons prys die Here vir soveel lewens en gesindhede van mense wat Hy elke dag verander as gevolg van volgehoue gebed. Dank Hom vir getroue bidders en hou aan om die Here te vertrou vir wysheid en insig om mense se geestelike behoeftes met liefde en begrip aan te spreek.

Dinsdag 2 Julie – Gevangenes

Bid vandag vir gevangenes in eensame opsluiting. Vra dat hulle die Here Jesus persoonlik sal ontmoet (Hand. 9:17), oortuig sal word van sonde en hul lewens aan Hom sal oorgee.

Woensdag 3 Julie – Uitvoering van die Groot Opdrag

Kom ons dank ons Hemelse Vader vandag vir instansies soos Radio-Kansel, Feba Radio, die Televisie, die Internet en ander moderne tegnologie wat meehelp om die Evangelie tot aan die uithoeke van die wêreld te verkondig – bid vir betrokke personeel en dat God se Koninkryk uitgebrei sal word deur suiwer Woordverkondiging.

Donderdag 4 Julie – Kinders in Sirië

Die krisis in Sirië raak reeds 5,5 miljoen kinders. Nagenoeg 1 000 kinders steek daagliks die grens na Libanon oor as vlugtelinge. Bid asseblief vir kinders wat sonder ouers en familie vlug. Pleit asseblief vir die vrede van God in die harte van hierdie kinders (Psalm 44:23).

Vrydag 5 Julie – Indië

Bid vir kerke (huisgemeentes) wat deur Hindu ekstremiste gesluit is. Bid dat die gemeentelede weer bymekaar sal kom om te aanbid of dat elkeen van hulle ‘n tuiste by ‘n nuwe geloofsgroep sal vind.

Saterdag 6 Julie – Bybelgenootskap van SA

Here baie dankie dat ons u Woord in ons eie taal het, daarmee kon grootword en vry is om dit met ander te deel. Seën die Bybelgenootskappe wêreldwyd. Gee wysheid aan hulle wat besig is met vertalings.”

Sondag 7 Julie – Woordverkondiging

Dankie Vader dat ons U Woord kan lees en bestudeer. Ons bid vandag vir die verkondiging en verspreiding van die Evangelie wêreldwyd. Maak ons gehoorsame hoorders en daders van die Woord.”

Maandag 8 Julie – Persoonlike Toewyding

Bid vir ‘n begeerte om heiligheid en gehoorsaamheid na te streef eerder as om tevrede te wees met ‘n skyn van geestelikheid. Bid vir reinheid en getrouheid in ons huweliksverhoudings. Bid dat ons as gelowiges waarlik Godvrugtig sal lewe.

Dinsdag 9 Julie – Every Home For Christ, Suid-Afrika (EHCSA)

Hierdie internasionale organisasie strewe om hul naam gestand te doen en werk saam met plaaslike gemeentes. Bid asseblief vir die uitreikspan se beskerming en veiligheid wanneer hulle die huise in die verskillende townships, voorstede en informele nedersettings besoek. Bid datgesinne gered sal word en dat elke Huis Christus as hoof sal hê.

Woensdag 10 Julie – Verslaafdes

Vader, dankie dat ons vir elke verslaafde kan bid. Hulle soek sekuriteit in afhanklikheidsmiddels en ander maniere van verslaafdheid. Open asseblief hulle oë om U raak te sien en te weet net in U is daar vrede, liefde en antwoorde op alle probleme.

Donderdag 11 Julie – Grootbrak se Leraars

Ons bid vir ons leraars en hul gesinne, mag hulle elke dag Jesus se liefde uitleef. Dankie dat U hulle hier geplaas het en hulle in U geanker is, dat hulle hul afhanklikheid van U besef. Seën hulle met U liefde en troue sorg. Laat hulle tot seën en inspirasie vir elke lidmaat wees.

Vrydag 12 Julie – Getuienis Naweek

Die Groot Opdrag wat Jesus vir sy Kerk in Hand 1:8 gee is dat ons sal getuig. Om ons opnuut weer in te lig en te inspireer het ons Getuieniskommissie hiérdie naweek gereël. Kom ons bid dat lidmate en besoekers erns sal maak om die uitstallings en byeenkomsteby te woon en dat die Here die naweek besonderlik sal seën. Bid ook vir die sprekers, dat hulle God se wil vir elkeen van ons bekend sal maak.

Saterdag 13 Julie – Getuienis Naweek

Loof en dank die Here dat ons in ‘n land woon waar ons die vryheid het om te getuig; van God se liefde en sy verlossingsplan in Jesus Christus; getuig wat Hy vir jou beteken en dat daar ‘n Ewigheid is om na uit te sien. Bid vir, en ondersteun ons gemeente se aksies om ons Here te gehoorsaam.

Sondag 14 Julie – Getuienis Naweek

Dank die Vader dat ons weer hierdie naweek opnuut bewus kon word van ons Here se opdrag om getuies te wees in ‘n stukkende wêreld. Kom ons bid dat ons met ons lewens getuies sal wees, dat ons woorde, dade en gesindheid, toonbeelde van God se liefde sal wees.

Maandag 15 Julie – Gebed vir Lewende lidmate

Here oortuig my van sonde, bekeer my van alle vorms van hoogmoed en selfsug. Gee dat ek U sal ken as die Amen, die Getroue en die Waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God. Verlos my van geestelike louheid en en maak my ontvanklik vir Christus se teregwysings” (Op. 3).

Dinsdag 16 Julie – Reddingsfokus – Mishandelde vroue

Dra vandag alle vroue wat in hulle huise mishandel word en te bang is om hulp te vra, op aan God. Vra dat die Here Jesus vir hulle ‘n uitweg uit hul situasie sal wys, hoe om te bid en Hom te leer ken as hul persoonlike Redder. Niks is vir ons God en Vader onmoontlik nie.

Woensdag 17 Julie – Landbou

Ons bid vir ons boere wat worstel met droogtes en arbeidskwessies. Dat daar genoeg kos geproduseer sal word en niemand honger sal ly nie. Seën elke werker met ywer en entoesiasme om te werk asof vir die Here. Vra vir gesonde verhoudings en wedersydse respek. Ons bid dat Jesus se liefde op elke plaas geleef sal word en U Vrede oor elkeen die wag sal hou. Bid vir die bewaring van plaasbewoners.

Donderdag 18 Julie – Blinde oë word oopgemaak in Indië

In die Noorde van Indië is ‘n mediese bediening besig om uit te reik na die armste onder die armes. Loof die Here vir duisende mense wat jaarliks gehelp word. Bid vir die pasiënte wat die Evangelie hoor en ‘n Bybel ontvang; ± 50% van hierdie pasiënte het tot geloof in Jesus gekom.

Vrydag 19 Julie – Irak

Christene word vervolg en gemartel omdat hulle aan Jesus behoort. Laat ons wat in ‘n land woon waar ons godsdiensvryheid het, met volharding bid vir ons broers en susters. Christene in Irak word deur ekstremiste, wat aan die IS behoort, gedwing om uit sekere gebiede te vlug. Ons bid dat hulle aan Jesus sal vashou en Sy wil sal soek vir hul lewens.

Saterdag 20 Julie – Liefdeloosheid

Woede en bitterheid vertroebel verhoudings met mense en bo-al met God. Bid vir Christene wat hiermee worstel, dat hulle Jesus se liefde sal ervaar wat hulle in staat sal stel om te vergewe. Jesus het gesê “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekar liefhê (Joh. 15:12).

Sondag 21 Julie – Studente Bearbeiding

Studente by al ons kolleges en universiteite word, benewens hul studies, met baie eksterne invloede en ander kwessies gekonfronteer. Dit is goed dat ons die bearbeiding finansieël ondersteun, maar ons gebede is nodig om hulle getrou en op die Christelike weg, koers te hou.

Maandag 22 Julie – Gesinslewe

Kom ons bid vir alle gesinne in ons geloofsgemeenskap. Mag daar gesonde verhoudings wees, ware liefde, wedersydse respek en eerbied vir mekaar. Bid dat gesinne saam die Here sal dien en so getuies vir Jesus Christus sal wees. Jos. 24:21 “Ons sal net die HERE ons God dien en net na sy stem luister.”

Dinsdag 23 Julie – Kerk van Christus wees

Bid vir ‘n nuwe insig in lidmate se verhouding met God en ons lewe voor sy aangesig – dat ons as lidmate van Grootbrak, Geesvervuld en geloofwaardig sal wees. In waarheid binne die wil van die Here en deur die krag van die Heilige Gees sal leef. Ander moet ons as Christus-volgelinge erken.

Woensdag 24 Julie – Evangelie aan Vreemdelinge

Dra vandag elke vreemde winkeleienaar of smous in jou omgewing aan die Here op. Vra vir die Here hoe jy hulle kan leer ken en hulle vertroue kan wen en om uiteindelik ook die evangelie aan hulle te kan bedien. Bid dat hulle oop sal wees vir die evangelie (Joh. 3:16).

Donderdag 25 Julie – Gebed vir Gevangenis-bedieninge

Bid vir alle projekte wat gerig is op die rehabilitasie en redding van gevangenes. Pleit dat die Evangelie van Jesus Christus altyd deel van sulke programme sal wees. Bid dat gevangenes hulle waarlik met die nuwe mens in Christus sal bekleë (Ef. 4:24).

Vrydag 26 Julie – Jemen – Arabië

Gelowiges in Jemen is veheug oor 50% meer dopelinge in 2023 as in 2022 en versoek dat ons sal volhard in voorbidding vir die Jemeense Kerk. Die leier vra dat ons sal bid dat hulle getrou sal wees terwyl hulle die Evangelie van Jesus Christus verkondig. Jemen is nr. 5 op die Wêreldwaarnemings-lys vir 2024 en die vlak van vervolging is uitermatig hoog.

Saterdag 27 Julie – Sewentig maal Sewe

Kom ons bely ons traagheid om mekaar te vergewe. Bid vir gewilligheid om te vergewe, dat die Here ons sal leer hoe om te vergewe soos Hy ons vergewe het, nie boek te hou nie (70 x 7).

Sondag 28 Julie – Getuienisbediening

Here hoe bevoorreg is ons nie, om vanmore en elke Sondag ongehinderd saam met mede-gelowiges in U teenwoordigheid te aanbid. Ons bid vir die verkondiging van U Woord oor die wêreld heen. Here help ons om die erediens op straat en oral waar ons mag wees te gaan voortsit.

Maandag 29 Julie – Getuienisvergadering

Vra die Here se seën op hierdie vergadering vanmiddag om 15:30. Bid vir die leiding van die Heilige Gees, sodat besluite, verdere projekte en aksies daartoe sal lei dat Grootbrak-gemeente waarlik ons leuse, “Jesus vir almal”, sal weerspieël. Dit is ons roeping as getuies vir Christus.

Dinsdag 30 Julie – Huwelike

Ons bid vir elke huwelik, dat Christus Jesus die fondament van elke huwelik sal wees. Bid vir liefde, respek en vertroue. Dat mans hulle vrouens sal koester, versorg en bederf. Mag elke vrou die kroon op haar man se kop hou. Onthou : Wat God dan saamgevoeg het mag geen mens skei nie (Mark 10:9).

Woensdag 31 Julie – Oorloë en Rampe

Bid vir ware vrede en herstel waar daar oorlog gevoer word of natuur-rampe dood en verlies veroorsaak. Vra vir beskerming van gelowiges en dat hulle deur hul liefde en omgee versoening en genesing sal bring. Mag leiers verstandig wees en na God draai vir oplossings.

Om in enige aspek van die Christelike lewe te groei neem tyd,

en die sleutel is om elke dag aan Jesus se Voete te sit.

-Cynthia Heald.