‘n Goeie begin vir die Dagsorgsentrum vir 60Plussers (Wolwedans Bejaardesorg Gemeenskapprojek)

Op 10 September 2025 het die lank verwagte Bejaardesorg Gemeenskapprojek ‘n aanvang geneem, onder die bekwame leiding van Aletia Nortje en andere van die Getuienisbedieng (NG Kerk) en in samewerking van verskeie ander Kerke (o.a die AGS en ander Charismatiese Kerke) asook die Gemeenskapsforum van Groot-Brakrivier.

Dit was ‘n vrolike meelewende belewenis en almal teenwoordig is betrek by die musikante en sprekers se insiggewende gesprekke en vrolike lus makertjies.

Die geleentheid is geopen op gepaste wyses deur Paul Smuts en Pastoor Gerry Gertse van die AGS van Greenhaven.

Morris Makona en Walthin Jansen van die Youth Café se band het ook met meesleurende woorde en kitaar begeleiding, van die ouer garde tot trane geroer.

Die eerste spreker was Leigh Abrahams, ‘n ‘Wellness Coach’ van SANRAL en opgeleide versorger. Sy het die gehoor ingelig oor badveiligheid en die moontlike gevare, asook hoe om die potensiële gevare te verminder.

Die tweede spreker was Monia Bredenkamp. Sy is ‘n Opleiding en Opvoeding ko-ordineerder van Gemeenskapsprojekte by YFC Options Sorgsentrum in George. Sy het ‘n motiverings inslag in haar praatjie gehad en ook die die groep op vrolike en aktiewe wyse betrek om bietjie bene te rek.

Dit was ‘n mooi geleentheid wat afgesluit is met lekker koffie, tee en verversings. Dit was ‘n goeie begin vir die Wolwedans 60 + bediening!