Die Mosselbaai Ringsitting is ‘n byeenkoms wat jaarliks plaasvind, alhoewel die volgende eers weer in 2024, as gevolg van die Sinodale byeenkoms volgende jaar. Die agt gemeentes (Brandwacht, Danabaai, Groot-Brakrivier, Hartenbos, Herbertsdale, Mosselbaai, Mosselbaai-Suid en Reebok) bied die vergadering alternatiewelik aan en dus vind dit slegs plaas elke 8-9 jaar in ‘n gemeente.
Heerlike sang gedurende die loop van die dag, onder die entoesiastiese leiding van Ds. Johan Engelbrect (Hartenbos) op die kitaar en Ds. Pierrie Kies op die klavier (Mosselbaai), het die gemaklike stemming en samesyn van die vergadering weergegee.
Ds. Willem Smit van Hartenbos open die vergadering en gee die stoel oor aan Elize Barnardt van Caritas, wat ‘n paneel van drie dames voorgestel het. Die sprekers het gewissel van ‘n maatskaplike agtergrond (Marlise Labuschagne van Helpende Hand en Solidariteit van die Wes-Kaap Streek), narratiewe terapeut (Stefanie Minnaar van Ouer-Tiener Harmonie) wat spesifiek met ouer-kind verhoudings werk en ‘n praktiserende sielkundige (Magriet Oberholser). Die tema van die oggend was om die behoefte bepaling asook aanspreek van emosionele behoeftes in gemeentes na die Covid tyd uit te lig.
Helpende Hand en Solidariteit wat spesialiseer in die bou van netwerke en betrokke is by ouetehuise, kinderhuise, ens. binne die Afrikaanse-sprekende kultuur, help gesinne om weer op hulle voete te kom in die moeilike emosionele en finansiële tye waarin ons leef en meer spesifiek na Covid.
Magriet Oberholser noem dat ons nie ‘n padkaart gehad het vir die Covid-tyd nie. Lande, regerings, medici en gewone mense moes dus blindelings rigting vind in ‘n vreemde en onverwagte a-sosiale tydperk. Dit het mense weer laat besef wat die belangrikheid van die basiese behoeftes is. Nabyheid en aanraking van familie en vriende.
Stefanie Minnaar lig die belangrikheid van breinfunksie en aksies wat verskil tussen ouers en kinders uit. Sy beklemtoon die belangrikheid van kommunnikasie en begrip vir mekaar se angste en vrese. Sy maan teen vinnige reaksies op wat ander sê en doen, aangesien daar nie altyd begrip is vir hoe belangrik sekere dinge vir die ander persoon is nie.
Onder die fasilitering van Elize Barnardt wys die sprekers op die nodigheid om begrip te hê vir die mense om jou. Van die vrae uit die gehoor raak aan die belangrikheid om jou eie en ander se stresvlakke te verstaan. Mens moet besef dat dit positiewe stres ‘n normale reaksie is om goed te presteer. Dit is egter belangrik om begrip te hê vir die verlammende effek van negatiewe stres (Sien grafiek), wat nie bydra to prestasie nie.
Al vier die sprekers het daarop gewys dat dit belangrik is om die mense om jou fisies aan te raak om vertrouensverhoudings en omgee te reflekteer. Mens moet besef dat ‘Gesprekswerk is pynwerk’ en kan baie uitmergelend wees. Daar is ‘n plek vir elke mens, waar mens nuwe krag kry. Vir sommige is dit geloof, stilte, musiek, oefening, die natuur, ens. Elkeen moet dus besef waar hy/sy weer kan herstel. Die sprekers los ons met die volgende gedagtes:
Marlize: Sy vind haar rustigheid en hersteltyd in stiltetyd en haar motto is om ‘n plek beter te laat wanneer sy wegstap.
Stefanie: Laat ons met die teks vers: “Ek (God) weet wat ek vir jou beplan het.”
Magriet reken dat elkeen sy energie-fonteine moet ken. Vir haar is dit lees, lag, musiek, ens. Dit is wat ons help om die volgende tree te gee.
Die Mosselbaai Ringsvergadering self het ingelui met ‘n nagmaalsbediening gelei deur Ds. Danie Goosen met die baie gepaste teks verse van Joh. 7: 37-38. “As iemand dors het, laat hy na My kom en drink! Met die een wat in my glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit my binneste vloei.”
Die Gasvryheidbediening het die besoekers op kleurvolle en smaakvolle wyse ontvang en onthaal, ten spyte van beurtkrag, wat aan die orde van die dag was.