Makhatini vennootskapsvergadering: Oktober 2022 – Saam is ons beter

Soos ons weet, is die vorming van vennootskappe een van die kragtigste samewerkings- en ondersteuningsmetodes wat ons as gelowiges kan ervaar. Dit gee ook vir ons die geleentheid om mekaar oor ons kultuurgrense heen te leer ken en as EEN in Christus tot seën te wees vir die omgewings waarin ons woon en werk.

Op Saterdag 8 Oktober het verteenwoordigers van die Makhathini Vennootskap vir hul twaalfde vergadering by die NG Kerk Strand-Noord byeengekom om oor onder andere te besin oor:

  • die rol wat die vennootskap, insluitend Getuienisaksie, het om te speel,
  • verslag is gegee oor Louwrens van der Westhuizen en Lucky Kunene se elf gemeentebesoeke hier in die Wes-Kaap gedurende Pinkstertyd,
  • verslag is ook gegee oor groepe wat Makhathini die afgelope maande besoek het en
  • die impak van uitreikspanne oor die jare – vanjaar was daar tussen 16 Mei tot einde-Julie vyf uitreikspanne.

Voorsitter, Jan Grobbelaar, verwelkom almal en open met Woordoordenking uit Ge. 28: 10 – 22.

Soos met enige bediening is daar natuurlik ook heelwat uitdagings. Een van die mees uitdagende is natuurlik die groot afstande (tot 100 km) tussen die 23 besoekpunte van die VGK Makhathini wat geestlik versorg moet word. Dit verg nie net effektiewe vervoermiddels nie, maar ook goed-opgeleide kerkleiers. Die NBI is alreeds sinvol hiervoor ingespan en die Veritas-opleiding sal ook van groot hulp kan wees, veral as dit pasklaar aangepas kan word; iets waarmee ds Lourens Schoemann van Msinga alreeds besig is.

Dis ook baie belangrik dat kerkleiers ons Afrika-teologie sal instudeer. Boeke daaroor is alreeds deur NetAct gepubliseer en beskikbaar. Boeke soos African Public Theology is byvoorbeeld van groot waarde in hierdie verband. Daar is meer te sien by Books & Articles – NetACT.

Lucky Kunene deel met ons die uitdagings waarmee Makhathini te kampe het.

Nog ‘n groot uitdaging wat deur Lucky Kunene uitgewys is, was oor hoe om die Zoeloe-kultuur en gewoontes met dié van die Christelike lewenswyse sinvol te help versoen. Hierop het Eddie Orsmond ‘n voorstel gemaak dat kundiges soos prof Piet Jonas in hierdie verband baie insig sal kan help gee.

Daar is groot opgewondenheid oor ongeletterde mense, gewoonlik ouer mense, wat nooit die voorreg gehad het om te kon skoolgaan nie, wat nou die oudio-Bybels gebruik om na die Woord te kan luister. Dit help hulle om hul kennis oor die Woord uit te brei en hul lewens geestelik te verryk.

Een van die grootste uitdagings is om by veranderende tye aan te pas; om strategies planne te maak, veral ten opsigte van kwynende kerkbywoning, veral onder die jeug, die onbetrokkenheid van mans by die kerk, en ook oor hoe die oorgangstyd na Louwrens se komende aftrede vroeg-2024 bestuur moet word.

Baie van die jeug is weeskinders wat sonder ouers grootword en dus nie gesagstrukure ken nie; iets wat baie destruktief inwerk op kerklike gesag. Ons jeug kort dus baie insette en hulp hiermee. Daniël de Wet het aanbeveel dat daar ten opsigte van die jeug dalk nouer saamgewerk kan werk met ons PSD vir Jeugbediening, Andriëtte de Ridder.

Indien julle as gemeentes, of individue, by hierdie vennootskap betrokke wil raak, kan julle gerus kontak maak met Daniël de Wet by missio@kaapkerk.c.za.

Daniël de Wet bid die Here se seën toe op die Makhathini-werkers.