Voet in die hoek! Dis hoe dit hier gegaan het die afgelope maand of twee. Die hekke is nou weer wawyd oop in Japan, ná die 7e vlaag van Corona verby is. Alhoewel alle maskers nog nie die trekpas gekry het nie, is daar beslis meer interaksies en ontmoetings.
Ons is veral dankbaar dat ‘n onlangse jeugbyeenkoms (met ‘n braai ingesluit) en verskeie kampe regtig goed verloop het, in groot getalle. Dit het vir heelwat nie-Christene) ‘n kans gegee om die evangelie te hoor, en verál vir Carina geleentheid gebring om haar getuienis en ervaringe te deel (sien foto, méér in video hierby). Ons is bemoedig en aangespoor. Intussen het Carina heelwat ander aanbiedings en werk as deel van RCJ Kita Kobe gemeente. My (Stéphan) se onlangse aanbiedings oor pastorale sorg – vir lidmaat toerusting in ons ring van 34 gemeentes – was baie geseënd. Vandag is ek oppad na Saitama (naby Tokyo) vir gaslesings by ‘n ander kweekskool.
Hierdie kort nuusflits se doel is om ‘n nuwe kort video (3 minute) te deel, wat ons onlangse bediening en lewe opsom. Gebruik dit gerus in jou kleingroep of gemeente / erediens, as terugvoer oor Missie Japan se werk. Kliek hier onder.
Verder wil ons vra, bid asseblief saam vir die volgende sake:
1. Opkomende besoek van Missie Japan leiers aan Kobe, Shikoku eiland, Aichi en Tokyo, 4-16 November, met Dr. Nico Mostert (uitvoerende sekretaris) en Ds. Johann Winterbach (voorsitter): vir betekenisvolle ontmoetings, goeie gesprekke, visie vir die pad vorentoe.
2. Visum aansoek van Ds. Tobie en Annalie de Wet, as brug-sendelinge, DV vanaf April 2022, vir 3 jaar by RCJ Niihama gemeente in Shikoku.
3. Carina se aanbiedings (Sondagskool) by RCJ Kita Kobe, veral ook haar gasvryheidsbediening, vroue byeenkomste, voorbereidings vir Kersfees geleenthede ens.
4. Stéphan se werk (buiten klasgee by KRTS): o.a. gaslesings in Saitama (20 Okt); preek en aanbieding by RCJ Naha gemeente in Okinawa eiland (30 Okt); seminaar aanbieding by Oos Kanto-area se rings-byeenkoms van 12 gemeentes (3 Nov).
Ons waardeer jou omgee en saam-stap, saam-bid vir ons. Dis nodig!
Vreugde,
Stéphan, Carina en gesin