Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 2 April 2023

VISIO DIVINA #40

2 APRIL – PALMSONDAG

Iets “gebeur” met my wanneer ek na hierdie kunswerk van Oleksandr Antonyuk kyk. Die Oekraïene kunstenaar vertel dat hy nie die sigbare wêreld wil uitbeeld nie, maar die onsigbare. Hier skilder hy ‘n toneel wat ons goed ken: Jesus se intog in Jerusalem. Hy noem dit die “nederige Messias”.

Die meeste klassieke ikone (sien Deel 2) beeld Jesus uit op ‘n rydier wat eerder na ‘n perd lyk. Hierdie Jesus ry vier en regop. Sommige beeld Hom uit met sy arm omhoog vir ‘n tradisionele seëngroet; of as ‘n gesagsfiguur met ‘n skrifrol onder sy arm. Oral is groot skares wat hom tegemoet kom; sommige ikone verbeeld selfs die nuuskieriges in boomtoppe. Almal het swaaiende palmtakke; hul klere uitgesprei op die grond.

Oleksandr Antonyuk se Jesus lyk anders. Hoe sien jy Jesus hier? Wat beeld Hy vir jou uit? Watter emosies maak Hy in jou wakker?

VISIO DIVINA #40 – Deel 2

In hierdie ikoon sien jy dat die skare die profeet Sagaria se profesie onthou: “Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie…” (Sag 9:9). Jy lees van die opgewonde mense wat Jesus by die poorte van Jerusalem inwag: “Die koning van Israel,” jubel hulle (Joh 12:13). Palmtakke swaaiend in die lug: “Hosanna!” Alles gaan nou kan verander. Maar wat ‘n ontnugtering wag daar nie op hulle nie!

Ek wonder of Oleksandr Antonyuk nie wel vir ons iets van Jesus se “binnegedagtes” kon uitbeeld nie? Hierdie Jesus lyk broos. Bykans geheel geklee in rooi. Peinsend. Vooruitskouend. Met sy hand op sy hart.

Die hele stad (het) in beroering gekom en gevra: “Wie is hierdie man?” (Matt 21:10). Inderdaad. Wie?

VISIO DIVINA #40 – Deel 3

Op Palmsondag was Jesus die mense se held. Tog, ses dae later sou Pontius Pilatus aan hulle ‘n keuse gee, waarop die ganse skare uitroep: “Kruisig Hom!” Waarom? Die Messias wat hulle verwag het, is nie die Messias wat hulle gekry het nie!

Wie is Hy?” wou die mense weet. Deur die eeue “fassineer” Jesus mense steeds. En almal het verskillende antwoorde. Net soos ons ook maar ook. Het ons nie almal prentjies wat ons van Jesus koester nie? Vir sommige is Hy bloot ‘n historiese figuur. Vir ander ‘n wonderwerker. Daar is ‘n “liewe” Jesus en ‘n blondekop-blou-oog Jesus. ‘n Mooi netjies-verpakte Jesus wat ne te veel van jou vra nie. Vir ander is Hy weer ‘n aktivistiese redder met ‘n vuis in die lug. G’n wonder ons wil ook uitroep, “Sal die regte JESUS opstaan asseblief.”*

Wie is hierdie man?” is die Palmsondag-vraag. Dit is nie ‘n vraag wat vermy kan word nie; want ook Jesus wou ‘n antwoord hierop hê. “Wie sê die mense is Ek?” En julle?” vra Hy die dissipels, “wie sê julle is Ek?” (Matt 16:15).

Die gemeente van Korinte wou dit ook weet. Daarom antwoord Paulus hulle: “Christus (is) die krag van God en die wysheid van God” (1 Kor 1:24).

Is dit die antwoord wat jy ook sou gee?

GEBED: Hou aan om die vraag vir my ook te vra, Here, sodat ek U as krag en wysheid van God sal leer ken.

*Titel van Prof Johan Cilliers se boek.

­­­­­­­­­­­­———-

Op Dag 40 van ons Lydenstydreeks, #VisioDivina, kyk ons na ‘n video gerig op Palmsondag. Daar is geen verdere inligting hieroor beskikbaar nie, behalwe dat die kopiereg aan Sharefaith behoort. Die woorde verskyn op die skerm.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun