Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 27 Februarie 2023

VISIO DIVINA #6
27 FEB – Deel 1

In Ravenna, Italië, is ’n Basilika uit die 6de eeu (vandag ’n wêrelderfenisgebou). Die toneel van Jesus se bergpredikasie is uniek in vergelyking met ander ikone oor dieselfde skrifgedeelte. Wat jou in hierdie ikoon opval is dat daar net elf dissipels is? Is Judas Iskariot die afwesige? Maar kyk weer, geen een van die dissipels kyk na Jesus terwyl Hy praat nie.

Duidelik is dit die verheerlikde Jesus met sy rooi-purperkleed aan (die kleur van koningsgesag). Is die glans te helder om direk na Jesus te kyk? Of, is dit dat hulle saam met Jesus in die kyker se rigting (m.a.w. ons) kyk terwyl Hy praat.

Sien ook raak, daar is net 6 boompies (3 weerskante van Jesus). Iets kort! Sewe is tog die volmaakte getal? Waar is die sewende boom? Kyk dieper as die oppervlakte, dan herken jy Jesus, die boom van die ewige lewe is; die ware wingerdstok.

Kan jy sien hoeveel betekenis word versluier in ’n enkele prentjie waarby jy dalk te vinnig verbystap? En dit gebeur daagliks…

VISIO DIVINA #6
27 FEB – Deel 2

Teksvers: “Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig; sy koninkryk sal nie vernietig word nie, sy heerskappy sal nooit eindig nie. Hy red en bevry…” (Daniël 6:27-28).

In Dag #2 het ons reeds gesien waarom die versoekinge van Jesus so belangrik is – die mag van die bose kon nie die koms van die koninkryk van God weerhou nie. Soos Jesus gesê het, “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie” (Mark 1:15). Máár, as ‘n volk nog altyd net onder die verdrukking van sterk volkere geleef het (dink maar aan Egipte; Assirië, Babilonië, die Grieke, en nou die magtigste – die Romeine), hoe sal hulle ooit weet hoe om die koninkryk van God om hulle te herken?

En tweedens, hoe leef ’n mens as burger van die koninkryk van God?

Eenvoudig: God illustreer vir ons die styl van burgerskap deur self ’n mens te word wat tussen mense lewe sodat hulle kan sien. Die Seun (die Koning van God se koningkryk) nooi uit: “Kom agter My aan, Ek sal julle wys!” Dit is die wonder van God se genade: ons hoef nie éérs “reg” te wees om toegang tot die koninkryk te ontvang nie; ons is kláár reg; en dan begin ons oefen om so te leef. En algaande leer jy dat dit die enigste wyse is hoe jy ooit gelukkig sal kan wees (of in Jesus se woorde: “geseënd is diegene…).

Met die bergpredikasie (in Matt 5 en Luk 12) leer Jesus ons presies wat die beginsels is vir mense wat burgers van God se koninkryk word: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt 5:3). Presies wat die profeet Jeremia eeue voor dit geleer het: “Gelukkig is dié mense wat op die HERE vertrou en hulle verwagting in Hom stel” (Jer 17:7 NLV).

Hier is ’n vraag om oor na te dink: beskou jy jouself, nou, daar waar jy is, as die gelukkigste mens wat jy ken?

GEBED: Here, waarom raak ek soms so ongeduldig-ongelukkig oor omstandighede as ek by U hoor dat ek ‘n geseënde is? Maak my oë oop vir U seëning!

Op Dag 6 van ons Lydingstydreeks #VISIODIVINA luister ons na die musikant en
liriekskrywer Jon Guerra se verwerking van die Saligspreuke: “The Kingdom of God.”

Uit die lirieke

Blessed are the poor who have nothing to own
Blessed are the mourners who are crying alone
Blessed are the guilty who have nowhere to go

For their hearts have a road to the kingdom of God
And their souls are the songs of the kingdom of God
And they will find a refuge, for theirs is the kingdom of God

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.