Lydensweek : “Visio Divina” 1 April 2023

VISIO DIVINA #39

1 APRIL – Deel 1

Die laaste “Ek is”-stelling van Jesus in die Johannes-evangelie (“Ek is die wingerdstok”, Joh 15:1) kan ook as ‘n gelykenis (vergelyking) beskou word (alhoewel Johannes dit nooit so noem nie). Sedert die 12de eeu is daar al ikone oor hierdie woorde van Jesus. ‘n Baie meer moderne weergawe (wat op glas geverf word) kom uit Roemenië (in Oos-Europa). Dit word ook die “Mistieke Wynpars” genoem en het spesifiek betrekking op die nagmaal.

Direk uit Jesus se sy groei ‘n wingerdstok – daar waar die soldaat Jesus in sy sy met ‘n spies gesteek het. Die wingerdstok rank oor die kruis en dra reusagtige druiwetrosse. Jesus is besig om een van die druiwetrosse self uit te “pars” in die wynkelk van die nagmaalstafel. Simboliese hoor jy die nagmaalswoorde, “Neem, drink, dit is my bloed wat t.w.v. jou gevloei het…” Inderdaad ‘n lydingstydikoon!

VISIO DIVINA #39

1 APRIL – Deel 2

TEKSVERS: “My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is” (Joh 15:8).

Wanneer Moses wil weet wie die stem vanuit die braambos is, kom die antwoord: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur” (Eks 3:12). Sewe (!) keer in die Johannes-evangelie vra Jesus, “Wil julle weet wie Ek is?” En sewe maal gebruik Jesus (net soos in die gelykenisse) alledaagse metafore: Ek is die brood. Ek is die lig. Ek is die hek. Ek is die herder. Ek is die lewe. Ek is die pad (Joh 6:35; 8:12; 10:7; 10:11; 11:25; 14:6).

Dit is gepas dat ons, op die vooraand van Heilige Week, ons gelykenis-meditasies afsluit met die sewende “Ek is”-stelling: “Ek is die ware wingerdstok en my Vader die boer” (Joh 15:1). Waar Jesaja die volk Israel daarvan beskuldig dat hulle God se wingerd was, en God van hulle “verwag dat dit goeie druiwe sou dra, maar toe bring dit druiwe voort wat suur bly” (Jes 53:1-2), beeld Jesus Homself as die finale wingerdstok uit.

En dan kyk jy weer na die “Mistieke Wynpars” en onthou jy hoe Jesus die aand voor sy kruisiging die kelk gaan oplig en sê, “Drink almal daaruit, want dit is my bloed” (Matt 26:27).

Die antwoord vir elke vraag van ons lewens lê in die “Ek is wat Ek is”! Dit is die Een wat ons (net soos vir Moses) stuur; maar ons dan herinner aan die laaste Ek is-woorde: “sonder My kan julle niks doen nie. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug” (Joh 15:5).

GEBED: Here, Ware Wingerdstok – laat my in U bly soos U in my bly.

———

Op Dag 39 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na Andrew Marcus, komponis en sanger se “Abide in Me” . Die lirieke verskyn in die video.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun