
Ek wil voorstel dat jy vandag baie ernstig vir 3 mense bid – mense vir wie jy nie normaalweg intree nie. Begin deur geestelik stil en rustig te raak. Vra die Here vir emosionele vrede. Vra Hom om jou te wys vir wie Hy wil hê jy moet bid. Bid vir hulle. Moenie gejaagd wees nie. Laat die Heilige Gees toe om jou in jou gebed te lei en aan jou duidelik te maak waarvoor jy moet bid (Rom 8:26 26So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie.).
Gister het ons oor strategie gepraat. Vandag wil ek jou ’n bietjie omkrap. Om waarde uit vandag se studie te kry, gaan jy eerliker as ooit met jouself moet wees. As jy nie daarvoor bereid is nie, wil ek voorstel dat jy ’n geliefkoosde gedeelte uit die Bybel lees, tyd in gebed deurbring en môre by dag 43 begin. Anders – hier gaan ons.
Dit kan gebeur dat ek (of die gemeente) ’n Godgegewe visie het en dat ek selfs oortuig is van die strategieë wat dit sal waarmaak, maar daar is ’n ander wesenlike vraag. Wat speel normaalweg die bepalende rol in die besluite en keuses wat ek uitoefen? Dis presies waar vandag se opskrif vandaan kom. Jy sien, ons wéét gewoonlik wat die regte teologiese antwoord moet wees – daarom kan ek roem op my belydenis. Die probleem is dat wanneer dit by die praktyk kom, lyk die realiteit meestal anders.
Kom ek noem ’n voorbeeld. In die meeste gevalle word gemeentes se planne vir die jaar deur die begroting bepaal. Ons las ’n persentasie of vyf vir die inflasie-effek by en dan word die begroting opgestel. Ek weet van weinig gemeentes waar die leiers sonder die besoedeling van ’n begroting, EERS vir die Hoof van die Kerk vra wat Hy deur hulle wil doen, voordat die geld daaraan gekoppel word. Ons kan hieroor rasionaliseer soos ons wil – die finansies, of gebrek daaraan, is die bepalende faktor. Ons belydenis dat ons die Here vertrou, klink reg en mooi – maar ons optrede getuig van iets anders. Hierdie is een van die primêre redes waarom ’n opkomende geslag jong gelowiges meermale ontnugter is met die tradisionele kerk.
Jy sien, al ons mooi stories oor visie beteken niks as ons dit nie waarmaak deur ons belydenisse prakties uit te leef nie. In ’n post-moderne samelewing beïndruk mooi woorde alleen nie meer nie. Dit het in elk geval nog nooit vir God beïndruk nie (Matt 7:21-23; 15:8)!
Matt 7:21-23
21“Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die •koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele. 22Baie sal op daardie dag vir My sê, ‘Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie?’ 23Dan sal Ek openlik vir hulle sê, ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!’ ”
Matt 15:8
8“ ‘Hierdie volk eer My met die lippe,
maar hulle harte is ver van My af;

Nou kom ons by die plek waar jy eerlik met die Here en jouself moet wees. Dis wat jy moet doen: Hier is ’n tabel. In die linkerkantse kolom, het ek enkele faktore gelys wat ons keuses of besluite kan beïnvloed. In die tweede kolom is daar in sekere gevalle Bybelse voorbeelde. Die derde kolom is leeg. Kyk na die faktore en lees die Bybelverwysings waar van toepassing. Kyk of jy Bybelse voorbeelde kan invoeg waar dit ontbreek. Dan die moeilike opdrag: Skryf ’n 1 in die ry langs die faktor wat NORMAALWEG die grootste rol speel in jou besluitneming of keuses. Skryf ’n 2 langs die faktor wat normaalweg die tweede grootste invloed op jou besluite het – en so aan.
| Finansiële implikasies bepaal my keuse | Die ryk jong man – Matt 19:16-30 | 1234567 |
| My behoefte aan mag en gesag bepaal my keuse | Versoek van ’n ma – Matt 20:20-28 | 1234567 |
| Die verwagte uitkoms of resultaat bepaal my keuse | 1234567 | |
| Die effek wat dit op my gesin gaan hê bepaal my keuse | 1234567 | |
| My posisie in die gemeenskap bepaal my keuse | Herodus – Hand 12:20-25 | 1234567 |
| Die wil van die Here bepaal my keuse | 1234567 | |
| Omstandighede bepaal my keuse | 1234567 |
Kyk na jou prentjie hierbo en praat met die Here daaroor.
Ten slotte. Ons kan bly leef met ’n onvervulde visie tesame met die frustrasie en ontnugtering wat dit meebring en voortgaan om ons eie planne, inisiatiewe en strategieë te fabriseer. Ons kan die mooi belydenisse wat deur die eeue verwoord is, beaam en selfs uitspreek. MAAR dit alles klink ontstellend baie soos die prentjie wat die Bybel van die Fariseërs in Jesus se tyd skets. Nee, ons moet outentieke volgelinge van Jesus wees. Mense waarvan woorde, dade en belydenisse in harmonie met mekaar is. Mense wat so intiem met Hom die pad loop dat ons kan hoor, kan glo en kan doen wat sy Gees vir die gemeente sê!


DIEPER DELF: Ons is die Plan handboek, p 173-186
Lees gerus Jak 1:19-27; 2:14-26; 1 Joh 3:5-8
Jak 1:19-27;
19Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. 20Want die woede van ‘n mens bewerk nie •geregtigheid voor God nie. 21Doen daarom in sagmoedigheid afstand van alle morele besoedeling en die kwaad wat gedy, en ontvang die woord wat in julle geplant is, en daartoe in staat is om julle •siele te verlos. 22Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie. 23Want wie ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n doener nie, is soos iemand wat sy eie gesig in ‘n spieël sien. 24Hy sien homself, gaan weg en vergeet onmiddellik hoe hy gelyk het. 25Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener. 26As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself; so ‘n mens se godsdiens is vergeefs. 27Dít is suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader: om na weeskinders en weduwees om te sien in hulle ellende, en jouself onbesmet van die wêreld te hou.
Jak 2:14-26;
14Wat baat dit, my broers, as iemand sê dat hy geloof het, maar hy het nie dade nie? Dié geloof kan hom tog nie verlos nie? 15As ‘n broer of ‘n suster sonder klere en daaglikse kos is, 16en een van julle sê vir hulle, “Gaan in vrede, word warm en word versadig,” maar julle gee nie vir hulle wat die liggaam nodig het nie, wat help dit? 17So is geloof alleen, as dit nie op dade uitloop nie, dood.
18Maar as iemand sê, “Jy het geloof en ek het dade,” wys dan vir my jou geloof sonder dade, en ek sal jou uit my dade my geloof wys. 19Glo jy dat God Een is? Goed so. Ook die demone glo dit, en hulle bewe. 20Wil jy weet, o nietige mens, dat geloof sonder dade nutteloos is? 21Is Abraham, ons vader, nie op grond van sy dade regverdig verklaar, omdat hy sy seun Isak op die altaar geplaas het nie? 22Kan jy sien dat die geloof meegewerk het met sy dade, en dat vanuit die dade die geloof volkome geword het? 23En die Skrif is vervul wat sê: “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem.” 24Julle sien dus dat ‘n mens op grond van dade regverdig verklaar word, en nie deur geloof alleen nie. 25Is Ragab, die prostituut, nie ook net so op grond van dade regverdig verklaar, toe sy die boodskappers gasvry ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie? 26Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood.
1 Joh 3:5-8
5Julle weet dat Hy verskyn het om die sondes weg te neem, en in Hom is daar geen sonde nie. 6Elkeen wat in Hom bly, sondig nie meer nie; elkeen wat aanhou sondig, het Hom nie gesien, en Hom nie leer ken nie.
7Kinders, laat niemand julle mislei nie: wie doen wat reg is, is regverdig, soos Hy regverdig is. 8Wie sonde doen, is uit die Duiwel, omdat die Duiwel van die begin af sondig. Hiervoor het die •Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig.

WENK: Probeer om telkens wanneer jy vandag belangrike keuses moet maak, te let op dít wat die swaarste weeg in die bepaling van jou keuse.

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!
Inhoudsopgawe
Kopiereg
Dr. Frans Hancke.
Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).
Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie
Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za


