
Begin vandag met lof aan die Here. Jy kan een van die lofpsalms in die Bybel lees en aan die Here lof bring vir sy liefde, sorg en getrouheid. Prys Hom ook vir dit wat jy rondom jou kan hoor, sien, ruik en voel. Gebruik tyd om aan Hom hulde te bring!
Ons het heelwat tyd spandeer aan die gedagte van ’n visie. Ons het ooreengekom dat visie belangrik is, dat dit van God moet kom, dat dit eintlik sy plan met en deur ons is en dat ons dit in woorde moet kan omsit.
Dit is alles goed en wel. Ons kan oortuig wees dat die visie van die Here kom, ons kan dit mooi in woorde beskryf, ons kan selfs getuig hoe ons daarvan oortuig geraak het, maar as dit net by ’n goed geformuleerde visie bly, gaan NIKS verander nie. Die visie moet in vervulling kom, of in die terme van vandag se opskrif, moet die tekkie en die teer tog iewers bymekaarkom. Hoe gebeur dit?

Lees Jos 6
Jos 6
61Jerigo se poorte was egter dig gesluit vanweë die Israeliete; niemand het daar uitgegaan of ingegaan nie. 2Die Here sê toe vir Josua: “Kyk, Ek gee Jerigo, sy koning en sy dapper krygers in jou hand. 3Julle moet om die stad trek, al die krygsmanne. Jy moet een keer om die stad gaan. Ses dae lank moet jy só maak: 4Sewe priesters moet sewe •ramshorings voor die ark dra. Op die sewende dag moet julle sewe keer om die stad trek, terwyl die priesters op die horings blaas. 5En wanneer daar lank op die horing van die ram geblaas word, moet al die manskappe, sodra julle die geluid van die ramshorings hoor, ‘n baie harde oorlogskreet aanhef. Die stadsmuur sal dan ineenstort, en die manskappe moet bo-oor klim, elke man reg voor hom uit.”
6Josua, seun van Nun, het toe die priesters ontbied en vir hulle gesê: “Dra die verbondsark. Sewe priesters moet die horings van sewe ramme voor die ark van die Here dra.” 7Hy sê toe vir die manskappe: “Trek op en gaan om die stad; die gewapende manne moet voor die ark van die Here optrek.”
8Net toe Josua dit vir die manskappe gesê het, het die sewe priesters wat die horings van sewe ramme voor die Here dra, opgetrek en op die ramshorings geblaas, terwyl die verbondsark van die Here hulle volg. 9Die gewapende manne het voor die priesters wat op die ramshorings blaas, geloop, terwyl die agterhoede die ark volg. Daar is aanhoudend op die ramshorings geblaas. 10Aan die manskappe het Josua die opdrag gegee: “Julle mag nie ‘n oorlogskreet aanhef en julle stemme laat hoor nie. Daar mag nie ‘n woord uit julle monde kom nie, tot die dag dat ek vir julle sê, ‘Skreeu!’ dan moet julle die oorlogskreet aanhef.”
11Josua het die ark van die Here om die stad laat trek. Dit het een keer om die stad gegaan. Daarna het hulle na die kamp teruggegaan en in die kamp oornag. 12Josua het vroeg die môre opgestaan. Die priesters het die ark van die Here gedra, 13en die sewe priesters wat die horings van sewe ramme voor die ark van die Here dra, het aanhoudend op die ramshorings geloop en blaas. Die gewapende manne het voor hulle geloop, en die agterhoede het die ark van die Here gevolg. Daar is aanhoudend op die ramshorings geblaas. 14Op die tweede dag het hulle een keer om die stad getrek en na die kamp teruggekeer. So het hulle dit ses dae lank gedoen. 15Op die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, opgestaan en op dieselfde manier sewe keer om die stad getrek. Net op daardie dag het hulle sewe keer om die stad getrek. 16Die sewende keer het die priesters op die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Hef die oorlogskreet aan, want die Here gee die stad aan julle! 17Die stad en alles wat daarin is, is onder die ban vir die Here. Net Ragab, die prostituut, mag leef, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat ons gestuur het, versteek het. 18Bly net weg van die bangoed, anders neem julle van die bangoed terwyl julle die stad met die banvloek tref. Julle sal die kamp van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort. 19Al die silwer en die goud en al die voorwerpe van brons en yster is heilig vir die Here; na die skatkamer van die Here moet dit gaan.”
20Die manskappe het die oorlogskreet aangehef en die priesters het op die ramshorings geblaas. Ja, net toe die manskappe die geluid van die ramshoring hoor, het hulle ‘n harde oorlogskreet aangehef. Die stadsmuur het ineengestort, en die manskappe het elkeen reg voor hom uit bo-oor geklim, die stad in. Hulle het die stad ingeneem 21en alles wat in die stad was, deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref – van man tot vrou, kind tot oumens, ja, selfs die beeste, skape en donkies.
22Vir die twee manne wat die land verken het, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut. Bring die vrou en al haar mense uit, soos julle haar met ‘n eed beloof het.” 23Die jong manne wat die verkenners was, het toe gegaan en Ragab, haar vader en moeder, haar broers en almal wat by haar hoort, na buite gebring. Haar hele familiegroep het hulle na buite gebring en hulle buite die kamp van Israel laat bly.
24Die stad en alles wat daarin was, het hulle afgebrand. Net die silwer, die goud en voorwerpe van brons en yster het hulle oorhandig vir die skatkamer van die huis van die Here. 25Maar vir Ragab, die prostituut, en haar familie – almal wat by haar hoort – het Josua laat leef. Sy het in Israel bly woon tot vandag toe, omdat sy die boodskappers wat Josua gestuur het om Jerigo te verken, versteek het.
26Josua het in daardie tyd ‘n eed afgelê:
“Vervloek voor die Here is die man
wat opstaan en hierdie stad,
Jerigo, herbou:
Ten koste van sy eersgeborene
sal hy die fondamente lê,
en ten koste van sy jongste
sal hy die poortdeure oprig.”
27Die Here was met Josua, en sy roem het deur die hele land versprei.

Doen die volgende:
Skryf in die eerste blok die visie wat God vir Josua en sy volk gegee het, neer. Soos wat jy verder lees, kyk jy of jy kan identifiseer watter voorskrifte, planne en strategieë die Here vir hulle gegee het om die visie te kan verwesenlik
Visie: (Jos 6:2)
Strategieë: (Jos 6:3-7)
Sien jy wat hier gebeur? ’n Visie bly net ’n droom as daar nie strategieë is wat ons prakties lei om dit tot uitvoering te bring nie. Dit geld vir die gemeente, maar ook vir my as gelowige.
Kom ons gebruik ’n alledaagse voorbeeld en maak dit nog méér prakties. Gestel ’n tennisspeler het ’n droom, ’n visie, om die beste in die wêreld te wees. Die visie kan helder en duidelik wees en hy kan dit selfs goed in woorde uitdruk, maar dit sal ’n droom bly, as hy nie ’n strategie ontwikkel om die beste te word nie. Deel van die strategie sal natuurlik wees om daagliks te oefen. Verstaan jy? Sonder strategie, bly visie net ’n droom. Deur die uitvoering van sinvolle strategieë, kan die visie verwesenlik word.
Die voorbeeld uit Josua maak dit ook duidelik. God gee aan hulle die visie om die beloofde land in te neem. Jerigo is die eerste stad wat oorwin moet word – die visie is duidelik – neem Jerigo in. Maar, dan kom die Here en gee ook die strategieë wat sal lei tot die verwesenliking van die visie.

Ek wil hê jy moet eers aan jou eie lewe dink. Het jy ’n visie? Is daar strategieë wat die visie in vervulling sal laat kom? Baiekeer het ons ’n geldige Godgegewe droom, maar die strategieë om dit waar te maak, ontbreek.
Dink nou aan die gemeente waarvan jy deel is. Is daar ’n visie waarvan julle oortuig is dat dit God se plan met julle is? Is daar strategieë om dit waar te maak? Leef hierdie visie in die hart van al die lidmate? Of staan dit net êrens op ’n kerkmuur geplak?
’n Laaste gedagte. Ons is oortuig dat die Here alleen die Bron en Oorsprong van visie vir die gemeente en individuele gelowiges is. As Hy Hoof van sy Kerk is, dan is visie wat uit enige ander bron ontspring, niks anders as geestelike muitery nie. Dit geld ook vir ons persoonlik, wanneer ons bely dat Hy die Koning van ons lewens is. Nou die vraag: Waarvandaan moet die strategieë vir die vervulling van die visie dan kom? Sekerlik van dieselfde Bron! Kyk weer na Josua 6.

Miskien het jy behoefte om teenoor die Here te bely dat jy, soos ek, Hom met die groot goed vertrou, maar dat jy sommer self verantwoordelikheid neem vir die strategieë, planne en die uitvoering daarvan.


DIEPER DELF: handboek, p 173-186
Lees Eks 3-6 (en verder) en kyk hoe die Here in duidelike terme vir Moses strategieë gee.
Sien Figuur 10 van Bylae 2, p 173


WENK: Skryf jou lewensvisie neer met die strategieë wat dit moet help waarmaak daaronder. Sit dit vir ’n week lank op ’n strategiese plek, sodat jy dit gereeld raaksien. Praat met die Here daaroor – onthou Hy is die Bron van visie en ook ons strategieë.
(Agter in die gids is ’n bladsy met kaartjies vir hierdie doel wat uitgeskeur kan word.)

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!
Inhoudsopgawe
Kopiereg
Dr. Frans Hancke.
Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).
Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie
Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za


