Week 8 Dag 36 – Die nek van die plek – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Gebed

Begin deur een van jou geliefkoosde Psalms deur te lees. Probeer om as ’t ware in die vel en agter die pen van die digter in te kom. As jy dit stadig en met nadenke gelees het, wil ek hê jy moet dit weer doen, maar hierdie keer hardop – verpersoonlik wat daar geskryf is en lees dit asof jy tot God bid. As jy jou stilwordtyd só ingelei het, moet jy jou deur die Gees laat lei wat jy vir God moet sê – en hoe jy moet luister …

Skryf / Vul in

Vandag is die dag om jou kunstalent in te span. Hier is ’n blok waarin jy ’n skets gaan teken. Begin deur die volgende Skrifgedeeltes te lees: Ef 4:15; 5:23; Kol 1:18; 2:19.

Ef 4:15;
15maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof 

Ef 5:23;
23omdat die man die hoof is van die vrou, soos Christus ook hoof is van die •kerk; Hy is Verlosser van die liggaam. 

Kol 1:18;

18Hy is die Hoof van die liggaam,
die kerk.

Kol 2:19.
19en hou nie vas aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam ontwikkel, ondersteun en saamgebind word deur gewrigte en spiere, met groeikrag wat van God kom.

Nou is dit tyd om te teken. Kyk of jy in die blok die kern van dit wat jy in die Skrifgedeeltes gelees het kan illustreer.


Lees die Skrif

Dis weer tyd vir lees. Lees Rom 12:4-5; 1 Kor 12:12, 18, 20; Ef 3:6; 4:25; 5:30 ; Kol 3:15.

Rom 12:4-5;
4Want soos ons baie ledemate in een liggaam het, en nie al die ledemate dieselfde funksie vervul nie, 5net so is ons, al is ons baie, een liggaam in •Christus, en individueel lede van mekaar.

1 Kor 12:12, 18, 20;

12Want soos die liggaam ‘n eenheid is, maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met •Christus.

18Maar nou het God die ledemate, elke enkele een van hulle, in die liggaam geplaas volgens sy besluit.

20Maar nou is daar wel baie ledemate, maar net een liggaam.

Ef 3:6;

6naamlik dat die heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is. 

Ef 4:25;

25Daarom, vermy die leuen, en praat elkeen die waarheid met sy naaste, want ons is lede van een liggaam.

Ef 5:30 ;

30Ons is immers lede van sy liggaam. 

Kol 3:15

15Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar.

Skryf / Vul in

Nou gaan ons die kunswerk voltooi. Probeer om jou skets af te rond deur dit wat jy nou gelees het in die blok by jou vorige probeerslag te voeg.


Ongelukkig kan ek nie sien wat jy geteken het en daarop kommentaar lewer nie – dalk is dit ook maar goed so! Die twee groepe Skrifgedeeltes gebruik twee beelde:

  1. Dat Christus die Hoof van die Kerk is.
  2. Dat die kerk as ’n liggaam met ledemate voorgestel word.

Ek hoop dus dat jou prentjie iets van ’n liggaam en ’n kop (hoof) voorstel. Ek gebruik graag hierdie beeld wanneer ek oor leiers in die gemeente praat en ek hoop dit gaan vir jou ook ’n paar vars perspektiewe gee. Ek stel die leiers graag as die nek van die liggaam voor. Dit is moontlik dat die liggaam nog sonder ’n arm, been of hand kan oorleef, maar sonder ’n kop of nek is dit nie moontlik nie. Dus, sonder Jesus as Hoof en sonder leiers as die nek, kan die gemeente as liggaam nie funksioneer nie.

Die nek vervul verskeie funksies. Dit verbind die liggaam met die hoof en skep in daardie sin die kanaal waardeur die bloedtoevoer en senuweestelsel gekanaliseer word. Dieselfde geld vir die gemeente. So vorm die leiers die lewensbelangrike slagaar waardeur die Hoof met sy gemeente kommunikeer. As die leiers nie in verbinding met die Hoof bly nie, is daar byna ’n terminale toestand in die gemeente. Leiers moet ’n intieme verhouding met Jesus, die Hoof, hê en genoeg tyd met Hom deurbring om sy wil te kan interpreteer. Die leiers moet die verantwoordelikheid en aanspreeklikheid opneem om te kan sê: “So spreek die Here.”

’n Koplose gemeente is ’n lyk – ’n neklose gemeente sal ook nie kan funksioneer nie. Ons stem nou seker saam dat leiers ’n ontsaglik belangrike rol in God se Koninkryk speel; ook dat die Bybelse getuienis deurlopend bevestig dat die Here telkens mense roep en toerus as leiers.

Skryf / Vul in

Ek wil hê jy moet ’n paar Bybelse leiers aan die nek-gedagte beoordeel. Hieronder is vier kolomme. Kies drie Bybelse leiers waarvan jy genoeg weet. Skryf hulle name bo-aan kolomme 02, 03 en 04. Aan die linkerkant het ek ’n paar norme gelys wat die nek (leiers) behoort te vertoon. Dink ’n bietjie aan die drie leiers en beoordeel hulle elkeen na aanleiding van dié eienskappe. Skryf jou reaksie in die toepaslike blokkie.

Leier (02)Leier (03)Leier (04)
Intiem aan die Hoof
en res van liggaam
verbind
Vorm kanaal
waardeur die Hoof
met die liggaam
kommunikeer
Weet hy kan niks
sonder die Hoof
doen nie
Beskou self nie
belangriker as die
Hoof nie
Weet dat daar nie
liggaam sonder die
onderskeie ledemate kan wees nie
Dink na / Besin

Dit is nou tyd om iets te doen met die insigte wat jy vandag gekry het. Jy moet een van twee dinge doen.

Gebed

As jy self enige leiersrol in die kerk vervul:
Dink en beoordeel jouself na aanleiding van dit wat God deur sy leiers in die gemeente wil doen. Gebruik tyd om met Hom daaroor in gebed te praat.
As jy nie ’n leiersrol vervul nie:
Hoe dink jy vaar die gemeente waaraan jy behoort, se leiers na aanleiding van wat ons vandag bespreek het? Gebruik die tyd om vir jou leiers te bid.

Wenk
Week 8 Dag 36 Wenk - Spreuke
Week 8 Dag 36 Wenk – Spreuke
Week 8 Dag 36 Die geheim is leierskap
Week 8 Dag 36 Die geheim is leierskap
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Ons is die Plan handboek, p 145-164
Lees gerus ook Spr 8:15-21. God regeer deur mense: Hand 13:1-3; 1 Tim 3:1-13; 5:8; Tit 1:5-9

Spr 8:15-21

15Deur my regeer konings,
en hooggeplaastes vaardig
regverdige dekrete uit.
16Deur my voer •aanvoerders bevel,
ook vooraanstaandes –
almal wat regverdige beslissings neem.
17Wie my liefhet, het ek self ook lief,
en wie my soek, sal my vind.
18Welvaart en eer is by my,
bestendige rykdom en geregtigheid.
19My vrugte is beter as goud,
as fyngoud,
my opbrengs beter
as uitgesoekte silwer.
20Op die pad van geregtigheid
loop ek
– presies op die paaie
van regverdigheid –
21om hulle wat my liefhet,
besittings te laat erf.
Hulle voorraadkamers maak ek vol.

Hand 13:1-3;

1In die plaaslike •gemeente in Antiogië was daar profete en leermeesters, onder andere Barnabas, Simeon bekend as Niger, Lucius van Sirene, Manaen, ‘n jeugvriend van Herodes die tetrarg, en Saulus. 2Toe hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het.” 3Toe die gemeente klaar gevas en gebid het, het hulle hulle die hande opgelê en weggestuur.

1 Tim 3:1-13;

31Dié uitspraak is betroubaar.
VEREISTES VIR OPSIENERS EN DIAKENS
As iemand na ‘n amp as opsiener streef, begeer hy ‘n goeie taak. 2‘n Opsiener moet onberispelik wees: ‘n man met net een vrou, beheersd, verstandig, goed gemanierd, gasvry, en in staat om onderrig te gee. 3Hy moet nie ‘n dronkaard of veglustig wees nie, maar inskiklik, vredeliewend, en nie geldgierig nie. 4Hy moet met volkome waardigheid sy eie huishouding goed bestuur en sy kinders onderdanig hou.

5Maar as iemand sy eie huishouding nie behoorlik kan bestuur nie, hoe sal hy na die •gemeente van God kan omsien?6Hy moet nie ‘n pasbekeerde wees nie, sodat hy nie verwaand word, en in dieselfde oordeel as die Duiwel beland nie. 7Boonop moet hy ‘n goeie reputasie onder die mense buite die gemeente hê, sodat hy nie in die skande en in die Duiwel se strik beland nie.

8Net so moet diakens hulle waardig gedra, nie uit twee monde praat nie, hulle nie oorgee aan baie wyn nie, nie inhalig wees nie, 9terwyl hulle met ‘n skoon gewete aan die geheimenis van die geloof vashou. 10Maar laat hulle eers getoets word, en as hulle onberispelik bevind word, laat hulle dan as diakens optree. 11Net so moet vroue waardig wees, nie skindertonge nie, sober, betroubaar in alles. 12Diakens moet net een vrou hê, en hulle kinders en hulle eie huishoudings goed bestuur. 13Want wie hulle dienswerk as diakens goed doen, verwerf groot aansien vir hulleself, en verkry groot vrymoedigheid deur die geloof in •Christus Jesus.

1 Tim 5:8;

8Maar as iemand nie na sy eie mense omsien nie, en veral nie na sy huisgenote nie, het hy die geloof verloën, en is hy slegter as ‘n ongelowige.

Tit 1:5-9
EIENSKAPPE VAN ‘N GOEIE OUDERLING

5Hiervoor het ek jou in Kreta laat agterbly: dat jy onafgehandelde sake kan afhandel, en in elke dorp ouderlinge kan aanstel, soos ek aan jou opgedra het. 6Dit moet iemand wees wat onberispelik is, ‘n man met een vrou, en met gelowige kinders, wat nie van losbandige gedrag beskuldig kan word, of opstandig is nie. 7Want ‘n opsiener moet, as bestuurder oor die huishouding van God, onberispelik wees: nie eiesinnig of humeurig nie, iemand wat nie te veel drink of skoorsoekerig is of oneerlike wins najaag nie, 8maar gasvry, lief vir die goeie, verstandig, regverdig, toegewyd en selfbeheersd. 9Hy moet hom hou aan die betroubare woord, in ooreenstemming met die lering, sodat hy deur die gesonde leer kan bemoedig, en ook hulle wat dit teengaan, verkeerd kan bewys.


Sien Figuur 8 van Bylae 2, p 173

Week 8 Dag 36 Figuur 8
Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za