Week 8 Dag 37 – Soos ek sê nie soos ek maak nie – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Gebed

Probeer vandag ontvanklik-stil wees in God se teenwoordigheid. Fokus jou gedagtes op sy sorg en liefde. Luister wat Hy deur sy Gees vir jou sê.

Lees die Skrif

Lees 1 Kor 13 en hou in gedagte dat hierdie bekende hoofstuk ook maar net ’n ten dele -prentjie van liefde kan skilder. God se liefde is nie in woorde of gedagtes vertaalbaar of uitdrukbaar nie!

1 Kor 13
LIED VAN DIE LIEFDE

131Al praat ek die tale
van mense en engele,
maar ek het nie liefde nie,
dan het ek ‘n weergalmende ghong
of ‘n kletterende simbaal geword.
2En al profeteer ek,
en begryp ek alle geheime,
en besit ek alle kennis,
en al het ek al die geloof
om berge te versit,
maar ek het nie liefde nie,
is ek niks!
3Al deel ek al my besittings uit,
en gee ek my liggaam oor,
sodat ek my daarop kan beroem,
maar ek het nie liefde nie,
baat dit my niks.

4Liefde bly geduldig,
liefde gee om,
liefde is nie jaloers nie,
spog nie,
en is nie verwaand nie.
5Liefde tree nie onbehoorlik op nie,
jaag nie eiebelang na nie,
is nie liggeraak nie.
Dit hou nie boek van die kwaad nie,
6is nie bly oor onreg nie,
maar is saam bly oor die waarheid.
7Dit bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verduur alles.

8Liefde faal nooit nie.
Maar profesieë,
dit sal tot ‘n einde kom;
of tale, dit sal ophou;
of kennis, dit sal tot niet gaan.
9Want ons ken gedeeltelik,
en ons profeteer gedeeltelik,
10maar wanneer die volmaakte gekom het,
sal wat gedeeltelik is, ophou bestaan.
11Toe ek nog ‘n kind was,
het ek gepraat soos ‘n kind,
gedink soos ‘n kind,
geredeneer soos ‘n kind.
Noudat ek volwasse is,
het ek die dinge van ‘n kind agtergelaat.
12Nou sien ons wel ‘n geheimnisvolle beeld,
soos in ‘n spieël,
maar eendag van aangesig tot aangesig.
Nou ken ek slegs gedeeltelik,
maar eendag sal ek ten volle ken,
soos ek ten volle geken is.

13En nou bly geloof, hoop en liefde,
hierdie drie –
maar die grootste hiervan is die liefde

Gister het ons agtergekom dat leierskap in God se Koninkryk ’n uiters belangrike funksie vervul. Inteendeel, die Bybelse getuienis bevestig dat die Here byna sonder uitsondering deur leiers werk. Voordat ons met vandag se studie begin, moet ons van ’n ander belangrike vertrekpunt sekermaak. Leiers word nie deur hulself aangestel nie. Waar mense leiersrolle beklee as gevolg van eie ambisie of agendas, stuur dit op ’n katastrofe af – en daarvan getuig die kerkgeskiedenis. Ware, outentieke geestelike leiers se mandaat kom van Jesus, die Hoof van sy Kerk!

Skryf / Vul in

Nou wil ek hê jy moet skryf. As ek sou sê: “Leiers moet kan … ”, dan sal jy die sin natuurlik op verskillende maniere kan voltooi. Ek wil hê jy moet dit hier doen.


Daar is seker eindelose antwoorde moontlik, maar ek wil graag hê dat ons vier sleutelaspekte van geestelike leierskap vandag uit die Bybel sal ontdek.

Lees die Skrif

Lees Joh 10:3-4, 27; 14:6-14.

Joh 10:3-4, 27;

3vir hom maak die hekwagter oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit. 4Wanneer hy al sy eie skape uitgelei het, gaan hy voor hulle uit, en hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken.

27My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. 

Joh 14:6-14.

6Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.” 8Filippus sê toe vir Hom: “Here, wys ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” 9Jesus sê vir hom: “Ek is al so ‘n lang tyd by julle, en het jy My nie leer ken nie, Filippus? Wie My gesien het, het die Vader gesien. Waarom sê jy dan, ‘Wys ons die Vader?’ 10Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is; of glo dan op grond van die werke self. 12Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie in My glo, hy sal ook die werke doen wat Ek doen, en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader gaan. 13En wat julle in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik mag word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

  • Wat sou jy dink is die kernbegrip wat hier na vore kom?

Geestelike leiers moet kan HOOR

Jesus is telkens die voorbeeld van wat ware geestelike leierskap beteken. In Johannes 14 kom die belangrikheid van sy verhouding en kommunikasie met die Vader na vore. Hy tree nie sommer net op nie. Hy doen dit wat Hy van die Vader hoor en sien. Geestelike leiers moet die vermoë hê om God se stem te hoor. Hulle moet so intiem met Hom verkeer dat hulle nie hul eie ding sal doen nie! Geestelike leiers kan die kerk net lei as hulle van die Hoof van die kerk hoor.

Lees die Skrif

Lees 1 Kor 11:1; Heb 13:7.

1 Kor 11:1;

111Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van •Christus volg.

Heb 13:7.

7Hou altyd julle leiers in gedagte, dié wat die woord van God aan julle verkondig het; gee ag op die uiteinde van hulle lewensloop, en neem hulle geloof as voorbeeld. 

  • Wat dink jy is die kernbegrip wat hier na vore kom?

Geestelike leiers moet kan DOEN

Het jy al gewonder waar kom vandag se opskrif vandaan? Ek het grootgeword met hierdie tong-in-die-kies gesegde – maak soos ek sê en nie soos ek maak nie. Die skrywer aan die Hebreërs is uitgesproke daaroor dat leiers die verantwoordelikheid het om die voorbeeld te stel. Hulle moet dit wat hulle leer self toepas. Ons sou sê hulle moet dit kan modelleer. Dit beteken dat leiers ’n besondere verantwoordelikheid het om self reg te lewe. Mattheus wys gereeld daarop (veral in die bergpredikasie) hoe Jesus beklemtoon dat die evangelie nie ’n saak van praatjies is nie. Geleerdes sê dit gaan nie net oor ortodoksie (die regte leerstellings) nie, maar ook oor ortopraksie (die regte manier om dit uit te leef)!

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus Matt 3:8; 5:16; 7:21-23; 23:1-39; Joh 4:34; Jak 1:22.

Matt 3:8;

8Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. 

Matt 5:16;

16“Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.”

Matt 7:21-23;

21“Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die •koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele. 22Baie sal op daardie dag vir My sê, ‘Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie?’ 23Dan sal Ek openlik vir hulle sê, ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!’ ”

Matt 23:1-39;

231Toe het Jesus vir die skare en vir sy dissipels gesê: 2“Die skrifkenners en •Fariseërs sit op die stoel van Moses. 3Doen en onderhou dan alles wat hulle vir julle sê. Maar moenie doen wat hulle doen nie, want hulle praat net en doen nie. 4Hulle bind swaar vragte saam, ja, moeilik om te dra, en lê dit op die mense se skouers, maar self is hulle nie bereid om met ‘n vinger aan die vrag te raak nie. 5Al hulle dade is bedoel om deur die mense gesien te word. Hulle maak immers hulle gebedsrieme breër en die tossels langer. 6Hulle hou van die ereplek by feesmaaltye en die voorste sitplekke in die •sinagoges, 7om op die markpleine begroet en om deur die mense as ‘rabbi’ aangespreek te word. 8Maar julle, julle moet julle nie as ‘rabbi’ laat aanspreek nie; want net Een is julle Leermeester, en julle is almal broers. 9En moet niemand op aarde as julle ‘vader’ aanspreek nie; want julle het net een Vader, Hy wat in die hemel is. 10Julle moet julle ook nie as leraars laat aanspreek nie, omdat net Een julle Leraar is, naamlik die •Christus. 11Die belangrikste onder julle moet julle dienaar wees. 12Wie homself verhef, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhef word.”

13“Wee julle, skrifkenners en •Fariseërs, skynheiliges! Want julle sluit die mense uit die •koninkryk van die hemele uit. Self gaan julle nie in nie, en boonop laat julle die mense wat probeer ingaan, nie toe om in te gaan nie.

15“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle deurkruis land en see om ‘n enkele proseliet te werf, en wanneer dit gebeur, maak julle hom ‘n kind van Gehenna, dubbel so erg as julleself.

16“Wee julle, blinde leiers! Julle sê, ‘Wie by die heiligdom van die •tempel sweer – dit beteken niks nie; maar wie sweer by die goud van die heiligdom, is gebonde.’ 17Dwase en blindes! Wat is belangriker, die goud of die heiligdom wat die goud heilig? 18Verder sê julle, ‘Wie by die altaar sweer – dit beteken niks nie; maar wie sweer by die offergawe daarop, is gebonde.’ 19Blindes! Wat is belangriker, die offergawe of die altaar wat die offergawe heilig? 20Wie dan sweer by die altaar, sweer daarby en by alles daarop. 21Wie sweer by die heiligdom, sweer daarby en by Hom wat dit bewoon. 22En wie by die hemel sweer, sweer by die troon van God en by Hom wat daarop sit.

23“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat. 24Blinde leiers! Julle sif die muggie uit, maar sluk die kameel in.

25“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roofsug en onbeheersdheid. 26Blinde Fariseër! Maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal ook die buitekant skoon wees.

27“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle is soos witgekalkte grafte wat van buite pragtig lyk, maar van binne is julle vol doodsbeendere en elke vorm van •onreinheid. 28So lyk julle inderdaad ook van buite vir die mense regverdig, maar van binne is julle vol skynheiligheid en wetteloosheid.

29“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle bou die grafte vir die profete en versier die grafmonumente van die •regverdiges. 30En julle sê, ‘As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons nie saam met hulle deel gehad het aan die bloed van die profete nie.’ 31Daarmee getuig julle teen julleself dat julle kinders is van hulle wat die profete vermoor het. 32Maak julle dan maar die maat van julle vaders vol. 33Slange, addergeslag! Hoe sal julle die oordeel van die Gehenna ontvlug? 34Daarom, kyk, Ek stuur vir julle profete en wyses en skrifkenners. Julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig, en julle sal sommige van hulle in julle •sinagoges gesel en hulle van dorp tot dorp vervolg. 35So sal alle regverdige bloed wat op aarde vergiet is, vir julle toegereken word, van die bloed van Abel, die regverdige, tot by die bloed van Sagaria, die seun van Beregja, wat julle tussen die heiligdom en die altaar vermoor het. 36•Amen, Ek sê vir julle: Al hierdie dinge sal op hierdie geslag neerkom.”

37“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie. 38Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. 39Want Ek sê vir julle, van nou af sal julle My beslis nie weer sien nie, totdat julle sal sê,
‘Geseënd is Hy wat kom
in die Naam van die Here.’ ”

Joh 4:34;

34En Jesus sê vir hulle: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.

Jak 1:22.

22Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie.

Lees die Skrif

Lees Matt 20:25-28; Fil 2:5-11.

Matt 20:25-28;

25Maar Jesus het hulle nader geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel, en die maghebbers oor hulle gesag uitoefen. 26So mag dit nie by julle wees nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, 27en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. 28Net so het die •Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee.”

Fil 2:5-11

5Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:
6Hoewel Hy in die gestalte van God was,
het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie,
7maar Hy het Homself daarvan leeggemaak,
deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy in die vorm van ‘n mens verskyn het,
8het Hy Homself verneder,
deurdat Hy gehoorsaam
geword het tot die dood toe,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook uitermate verhoog
en aan Hom die Naam geskenk
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elke knie sal buig –
van diegene in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde –
11en elke tong sal bely,
“Jesus Christus is die Here!”
tot eer van God die Vader.

Wat sou jy dink is die kernbegrip wat hier na vore kom?

Geestelike leiers moet kan DIEN

Van die redes waarom mense baiekeer streef om leiers te word, lê opgesluit in die mag en die voorregte wat dit meebring. Meermale is die feit dat die leier gedien word deur die volgelinge van die byvoordele waarna mense hunker.
Dit is presies daar waar geestelike leierskap fundamenteel van die tradisionele siening verskil – geestelike leiers is diensknegte by uitnemendheid!
(Vergelyk die spreekwoord “to lead by example” .)

Jesus maak baie seker dat daar geen verwarring oor hierdie saak kan wees nie. Hy sê dit self in duidelike taal, deur sy Gees laat Hy Paulus daaroor skryf en om dit bo alle twyfel te bevestig, demonstreer Hy dit self. Daar kan geen twyfel wees nie – geestelike leiers moet kan dien.

Lees die Skrif

Lees Ef 4:7,11-16; 1 Pet 4:11.

Ef 4:7,11-16;

7Maar aan elkeen van ons is ‘n genadegawe geskenk, soos •Christus dit uitgedeel het. 

11En Hy het sommige as •apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee, 12om die •heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou, 13totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die •Seun van God, en tot ‘n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus. 14Die doel hiervan is dat ons nie meer klein kindertjies sal wees nie, wat deur onstuimige golwe rondgeslinger word en rondgewaai word deur elke wind van lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan; 15maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof 16uit wie die hele liggaam, harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig, volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde.

1 Pet 4:11

11As iemand aan die woord is, laat dit soos woorde van God wees; as iemand dien, laat dit wees vanuit die krag wat God voorsien, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus •Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort, vir ewig en ewig. •Amen.

Wat dink jy is die kernbegrip wat hier na vore kom?

Geestelike leiers moet kan BEMAGTIG

Paulus is uitgesproke daaroor: Die Here gee aan mense verskillende gawes. Hy is ook die een wat leiers aanstel in sy diens. Die rol van leiers is op hulle beurt om gelowiges toe te rus, te bekwaam en te bemagtig sodat hulle die gawes wat die Here aan hulle gegee het in sy diens tot sy eer kan gebruik.

Soos gister, wil ek hê jy moet afsluit deur:

Gebed

As jy self enige leiersrol in die kerk vervul
Dink en beoordeel jouself na aanleiding van dit wat ons vandag oor geestelike leierskap gesê het. Gebruik tyd om met Hom daaroor in gebed te praat.

As jy nie ’n leiersrol vervul nie –
Hoe dink jy vaar die gemeente waaraan jy behoort, se leiers na aanleiding van wat ons vandag bespreek het? Gebruik die tyd om vir jou leiers te bid.

Wenk
Week 8 Dag 37 Spreuke
Week 8 Dag 37 Spreuke
Week 8 Dag 37 Geestelike leiers hoor doen dien en bemagtig
Week 8 Dag 37 Geestelike leiers hoor doen dien en bemagtig
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Ons is die plan, p 145-164
Lees gerus ook Matt 23:13-28; 2 Kor 8:16-24; Fil 2:4-5, 21; 3:17; 4:9

Matt 23:13-28; (Sien Bo)

2 Kor 8:16-24; 1

6En aan God die dank, wat dieselfde ywer in julle belang in die hart van Titus gegee het. 17Want hy het wel ons versoek ontvang, maar het ook baie ywerig en vrywillig na julle toe vertrek. 18En saam met hom het ons die broer gestuur wie se lof in al die •gemeentes besing word oor sy werk vir die evangelie. 19En nie net dit nie: hy is ook deur die gemeentes aangewys as ons reisgenoot in hierdie genadewerk, wat deur ons verrig word tot verheerliking van die Here en as bewys van ons bereidwilligheid. 20So wil ons voorkom dat iemand ons verdink oor hierdie ruim som wat ons behartig. 21Want ons is bedag op wat reg is, nie net voor die Here nie, maar ook voor mense. 22Saam met hulle stuur ons ons broer, vir wie ons dikwels en in vele opsigte getoets, en ywerig bevind het, en wat nou nog yweriger is, deur sy groot vertroue in julle. 23Wat Titus betref, hy is my deelgenoot en medewerker in julle belang. Wat ons broers betref, hulle is gesante van die gemeentes, ‘n eer vir •Christus. 24Lewer dan aan hulle voor die gemeentes die bewys van julle liefde en van ons trots op julle.

Fil 2:4-5, 21;

4deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.
5Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:

21Almal soek net hulle eie belang, nie dié van Jesus •Christus nie.

Fil 3:17;

7Broers, volg dan my voorbeeld, en let op hulle wat so leef volgens die voorbeeld wat ons aan julle gestel het,

Fil 4:9

9Wat julle van my geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees.

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za