DIEPER DELF: handboek, p 165-172
Lees gerus Ps 25; Jes 58; 59; Matt 5:23-24; 18:15-35; Mark 11:25; Luk 17:3-4 ; Rom 2:1-11; 1 Kor 13:4-7; 2 Kor 5:14-6:1; Kol 3:13, 18- 21.
Ps 25;
251Van Dawid.
א ALEF
Na U, Here, hunker ek.
ב BET
2My God, op U vertrou ek;
laat my tog nie beskaamd staan nie;
laat my vyande nie oor my jubel nie.
ג GIMEL
3Ja, niemand wat op U wag,
sal beskaamd staan nie;
maar hulle wat sonder rede
ontrou is, sal beskaamd staan.
ד DALET
4Here, maak u paaie aan my bekend;
leer my u weë.
ה HE
5Lei my deur u waarheid
ו WAW
en leer my,
want U is die God wat my red;
op U wag ek die hele dag.
ז ZAJIN
6Dink aan u barmhartigheid
en u troue liefde, Here,
want dit is van altyd af daar.
ח GET
7Aan die sondes van my jeug
en my oortredings
moet U nie dink nie;
dink aan my in u troue liefde,
omdat U goed is, Here.
ט TET
8Die Here is goed en reg,
daarom leer Hy sondaars die pad.
י JOD
9Mag Hy verdruktes lei in wat reg is;
mag Hy hulle sy pad leer.
כ KAF
10Al die paaie van die Here
is troue liefde en waarheid
vir hulle wat hou by sy verbond
en sy bepalings.
ל LAMED
11Ter wille van u Naam, Here,
vergewe my sondeskuld,
want dit is groot.
מ MEM
12Wie is die mens
wat vir die Here ontsag het?
Die Here leer hom die pad
wat hy moet kies.
נ NUN
13Sy lewe verloop voorspoedig
en sy nageslag sal die land besit.
ס SAMEK
14Die Here neem
hulle wat vir Hom ontsag het,
in sy vertroue,
en sy verbond is daar
om hulle te onderrig.
ע AJIN
15My oë bly altyd op die Here,
want dit is Hy wat my voete
uit die vangnet bevry.
פ PE
16Draai U na my en wees my genadig,
want ek is eensaam en magteloos.
צ TSADE
17Die benoudheid van my hart
is oorweldigend;
lei my uit my kwellinge.
ר RESJ
18Sien tog my ellende
en my swaarkry raak
en vergewe al my sonde.
19Kyk na my vyande,
hoe baie hulle geword het;
en hoe fel hulle my haat.
שׁ SJIN
20Beskerm tog my lewe en red my;
laat my nie beskaamd staan nie,
want ek skuil by U.
ת TAW
21Mag onskuld en opregtheid
oor my wag hou,
want ek wag op U.
22Bevry Israel, o God,
van al sy benoudheid.
Jes 58;
581“Roep hard uit!
Moenie terughou nie!
Verhef jou stem soos ‘n •ramshoring!
Maak aan my volk
hulle oortredings bekend,
aan die huis van Jakob
hulle sonde!
2Vir My raadpleeg hulle dag ná dag;
kennis van My weë begeer hulle.
Soos ‘n nasie wat geregtigheid uitleef
en nie afwyk van sy God
se beslissings nie,
vra hulle My oor
regverdige beslissings;
die nabyheid van God begeer hulle.
3‘Waarom vas ons,
maar U sien dit nie raak nie,
verootmoedig ons ons,
maar U merk dit nie op nie?’
Kyk, op julle vasdag
kry julle kans vir besigheid,
en jaag julle al julle werknemers aan.
4Kyk, net om te twis
en rusie te maak, vas julle,
en om genadeloos
met die vuis te slaan.
Julle vas nie vandag om julle stem
in die hoogte te laat hoor nie.
5Is die vas wat Ek verkies dan so,
‘n dag van verootmoediging
vir ‘n mens?
Is dit om die hoof te buig soos ‘n biesie,
en in sak en as te lê?
Is dit wat julle vas noem?
is dit ‘n dag wat die Here
se goedkeuring wegdra?
6Is dit nie hierdie vas
wat Ek verkies nie,
dat julle die boeie
van goddeloosheid losmaak,
die stroppe van die juk
stukkend ruk,
verdruktes vry wegstuur
en elke juk breek?
7Is dit nie bedoel om vir
hongeriges jou brood te breek,
om aan magteloses
en haweloses onderdak te bied nie?
Wanneer jy iemand sien
wat kaal is, moet jy hom bedek,
en jou nie afsydig hou van jou
eie vlees en bloed nie.”
8Dan sal jou lig deurbreek
soos die oggendskemering;
en jou herstel
sal spoedig aanbreek.
Jou geregtigheid sal jou vooruitloop;
die heerlikheid van die Here
sal jou agterhoede dek.
9Dan sal jy roep en die Here
sal antwoord.
Jy sal om hulp roep,
en Hy sal sê: “Hier is Ek!”
As jy die juk uit jou midde verwyder,
die vingerwysery
en verderflike gepraat,
10as jy hulle wat honger is,
jou empatie laat ervaar,
die mens wat verdruk word,
versadig laat word,
sal jou lig in die duisternis skyn;
jou donkerte sal soos helder dag wees.
11Die Here sal jou voortdurend lei;
in dor plekke sal Hy jou keel verkwik,
jou gebeente sal Hy sterk maak.
Jy sal soos ‘n natgeleide tuin wees,
soos ‘n waterbron waarvan
die water nie teleurstel nie.
12Sommige uit jou sal die oeroue
puinhope herbou,
die fondamente van geslagte gelede
sal jy weer oprig.
Jy sal genoem word:
die een wat bresse toebou,
die een wat paaie herstel,
sodat mense daar kan woon.
13As jy jou voet terughou
van die Sabbat,
jou daarvan weerhou
om te doen wat jy wil
op my heilige dag,
en die Sabbat ‘n vreugde noem,
eerbied toon vir dit wat heilig is
vir die Here,
die dag eer deur nie te doen
wat jy gewoonlik doen nie,
deur nie geleentheid te vind
om jou besigheid te doen
en ‘n saketransaksie
te bespreek nie,
14dan sal jy jou vreugde vind
by die Here.
“Ek sal jou laat ry op die hoogtes
van die aarde.
Ek sal jou die erfenis van jou vader
Jakob laat geniet.”
Ja, die mond van die Here
het gespreek.
Jes 59;
591Kyk, die hand van die Here
is nie te kort om te verlos nie,
sy oor is nie hardhorend,
sodat Hy nie kan hoor nie.
2Maar julle sondeskuld,
dit het skeiding gebring
tussen julle en julle God.
Julle sondes het Hom sy gesig
vir julle laat verberg,
sodat Hy nie luister nie;
3want julle handpalms
is deur bloed besoedel,
en julle vingers
deur sondeskuld.
Julle lippe praat leuens,
julle tonge prewel ongeregtigheid.
4Niemand beroep hom
op geregtigheid nie,
en niemand bepleit sy saak
met die waarheid nie.
Hulle vertrou op nietighede,
en maak valse uitsprake.
Hulle raak swanger van moeilikheid,
en gee geboorte aan onheil.
5Hulle broei die eiers van kobras uit,
en weef spinnerakke.
Wie van daardie eiers eet, sterf;
en as dit stukkend gedruk word,
peul daar adders uit.
6Hulle spinnerakdrade deug nie
vir klere nie –
met hulle handewerk kan mense
hulleself nie bedek nie.
Hulle handewerk is onheilswerk –
dade van geweld is in hulle hande.
7Hulle voete hardloop na die kwaad;
hulle haas hulle om onskuldige
bloed te vergiet.
Hulle planne is planne van onheil;
daar is verwoesting en vernietiging
op hulle hoofpaaie.
8Die pad van vrede ken hulle nie.
Daar is geen regverdige optrede
op hulle roetes nie.
Hulle maak self hulle paaie
vol kinkels;
niemand wat daarop loop,
ervaar vrede nie.
9Daarom is regverdigheid
ver van ons,
geregtigheid bereik ons nie.
Ons wag op die lig,
maar kyk, daar is duisternis –
op ‘n ligskynsel,
maar ons dwaal in die donker.
10Ons tas soos blindes aan ‘n muur,
asof sonder oë tas ons rond.
Ons slaan helder oordag neer,
asof dit skemeraand is;
ons slaan tussen gesondes neer,
asof ons dooies is.
11Soos bere grom ons almal,
soos duiwe kla ons aanhoudend.
Ons wag op regverdigheid,
maar daar is niks nie –
op verlossing,
maar dit bly ver van ons.
12Want ons oortredings voor U is baie,
ons sonde getuig teen ons.
Ja, ons oortredings is met ons,
en ons sondeskuld – ons ken dit:
13Ons oortree teenoor,
en verloën die Here;
ons draai weg van ons God af
deur te praat oor afpersing
en wat vals is.
Ons het swanger geraak
van leuentaal,
en prewel dit uit die hart.
14So is regverdigheid teruggedwing,
en bly geregtigheid ver weg staan.
Ja, op die dorpsplein
struikel die waarheid,
en openhartigheid
kan nie daar kom nie.
15So gebeur dit dat trou ontbreek.
Wie afwyk van die kwaad,
word beroof.
Die Here sien dit,
en dit is verkeerd in sy oë dat daar
geen regverdigheid is nie.
16Hy het gesien dat daar niemand is nie,
en was verbaas dat niemand tussenbeide tree nie.
Sy voorarm het Hom bygestaan,
en sy geregtigheid,
dit het Hom ondersteun.17Hy het geregtigheid aangetrek
as ‘n harnas,
met die helm van verlossing
op sy hoof.
Hy trek klere van wraak
as sy uitrusting aan;
Hy draai Hom toe in ywer
soos in ‘n mantel.
18Volgens verdienste vergeld Hy:
woede vir sy teenstanders,
en wat hulle verdien, vir sy vyande.
Die eilande vergeld Hy
volgens verdienste.
19In die weste sal hulle ontsag hê
vir die Naam van die Here,
in die ooste vir sy heerlikheid.
Want Hy sal kom soos ‘n rivier
in ‘n vernouing,
wat deur die wind van die Here
voortgedryf word.
20“’n Losser sal na Sion kom;
Hy sal na dié in Jakob kom
wat hulle bekeer van oortredings,”
is die uitspraak van die Here.
21“Wat My betref,
dit is my verbond met hulle,”
sê die Here:
“My Gees wat op jou rus
en my woorde wat Ek
in jou mond gelê het,
sal nie uit jou mond wyk,
of uit die mond
van jou nageslag,
of uit die mond
van jou nageslag se nageslagte nie,
van nou af en vir altyd,” sê die Here.
Matt 5:23-24;
23“En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, 24laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe.
Matt 18:15-35;
15“As jou broer teen jou sondig, moet jy hom teregwys waar julle twee alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. 16As hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke saak bevestig mag word. 17As hy weier om na hulle te luister, sê dit vir die •gemeente. En as hy ook weier om na die gemeente te luister, laat hy vir jou wees soos die heiden en die •tollenaar.
18“•Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al op aarde bind, sal in die hemel gebind wees, en wat julle ook al op aarde ontbind, sal in die hemel ontbind wees. 19Verder, amen, Ek sê vir julle: As twee van julle op aarde saamstem oor enigiets wat julle vra, sal my Vader in die hemele dit aan julle toestaan. 20Want waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde.”
HERHAALDELIKE VERGIFNIS
21Toe het •Petrus nader gekom en Hom gevra: “Here, hoeveel keer sal my broer teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe keer toe?” 22Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie tot sewe keer nie, maar tot sewentig maal sewe keer.
23“Daarom is die •koninkryk van die hemele soos ‘n koning wat rekenskap van sy slawe wou eis. 24Toe hy hulle skuld begin nagaan, is een wat tienduisend talent verskuldig was, na hom gebring. 25Omdat hy nie kon terugbetaal nie, het die heer beveel dat hy, asook sy vrou en kinders en alles wat hy besit, verkoop word en dat die skuld so terugbetaal moes word. 26Die slaaf het toe voor hom op die grond neergeval, laag voor hom gebuig en gesê, ‘Wees geduldig met my, en ek sal u alles terugbetaal.’ 27Die heer van daardie slaaf het hom innig jammer gekry, hom vrygelaat en sy skuld vir hom kwytgeskeld. 28Maar toe daardie slaaf uitgaan, het hy een van sy medeslawe gekry wat hom honderd denarius geskuld het. Hy het hom aan die keel gegryp, gewurg en gesê, ‘Betaal terug wat jy skuld!’ 29Sy medeslaaf val toe neer en smeek hom, ‘Wees geduldig met my, en ek sal jou terugbetaal.’ 30Maar hy wou nie – inteendeel, hy het weggegaan en hom in die tronk laat gooi, totdat hy die verskuldigde bedrag sou terugbetaal.
31“Toe sy medeslawe sien wat gebeur het, was hulle baie ontsteld en het vir hulle heer alles gaan vertel wat gebeur het. 32Daarop ontbied sy heer hom en sê vir hom, ‘Jou slegte slaaf! Al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld omdat jy my gesmeek het. 33Moes jy nie ook jou medeslaaf begenadig soos ek jou begenadig het nie?’ 34En sy heer het kwaad geword en hom aan die folteraars oorgegee totdat hy al die skuld sou terugbetaal. 35So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”
Mark 11:25;
25En wanneer julle staan en bid – as julle iets teen iemand het, vergeef hom, sodat julle Vader in die hemele julle ook julle oortredings kan vergeef.”
Luk 17:3-4 ;
3Wees dus op julle hoede. As jou broer sondig, wys hom tereg, en as hy berou het, vergewe hom. 4En as hy sewe maal op een dag teen jou sondig, en sewe maal na jou terugkom en sê, ‘Ek het berou’, moet jy hom vergewe.”
Rom 2:1-11;
21Daarom is daar vir jou, o mens, wat oordeel, wie jy ook al is, geen verontskuldiging nie. Met die oordeel wat jy oor die ander persoon uitspreek, veroordeel jy immers jouself, omdat jy wat oordeel, dieselfde doen. 2Ons weet dat God se oordeel na waarheid oor mense kom wat sulke dinge doen. 3Dink jy, o mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen terwyl jy dieselfde dinge doen, dat jy God se oordeel sal vryspring? 4Of verag jy die rykdom van sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld, en besef jy nie dat God se goedheid jou tot bekering wil bring nie? 5Deur jou hardkoppigheid en onbekeerlike hart is jy besig om toorn teen jouself op te stapel op die dag van toorn, wanneer die regverdige oordeel van God geopenbaar sal word. 6“Hy sal elkeen beloon volgens sy dade:” 7die ewige lewe aan diegene wat deur volgehoue goeie werke streef na heerlikheid, eer en onsterflikheid, 8maar toorn en gramskap aan diegene wat uit eiesinnigheid ongehoorsaam is aan die waarheid en gehoorsaam aan die ongeregtigheid. 9Verdrukking en benoudheid wag vir elke mens wat aanhou kwaad doen, eerstens vir die Jood, maar ook vir die Griek. 10Maar heerlikheid, eer en vrede wag vir elkeen wat die goeie doen, eerstens vir die Jood, maar ook vir die Griek. 11Want God beoordeel niemand volgens sy uiterlike nie.
1 Kor 13:4-7;
4Liefde bly geduldig,
liefde gee om,
liefde is nie jaloers nie,
spog nie,
en is nie verwaand nie.
5Liefde tree nie onbehoorlik op nie,
jaag nie eiebelang na nie,is nie liggeraak nie.
Dit hou nie boek van die kwaad nie,
6is nie bly oor onreg nie,
maar is saam bly oor die waarheid.
7Dit bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verduur alles.
2 Kor 5:14-6:1;
14Die liefde van •Christus dryf ons, omdat ons tot dié insig gekom het dat, indien Een vir almal gesterf het, almal dan gesterf het; 15en Hy het ter wille van almal gesterf, sodat dié wat leef, nie meer vir hulleself sal leef nie, maar vir Hom wat ter wille van hulle gesterf het en opgewek is.
16Gevolglik ken ons van nou af niemand meer na sy uiterlike nie. Selfs al het ons Christus eens na die uiterlike leer ken, ken ons Hom nou nie meer so nie. 17Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. 18En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het. 19Dit bestaan daarin dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie; en Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou. 20Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen! 21Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.
61As medewerkers van God doen ons ‘n ernstige beroep op julle om nie die genade van God tevergeefs te ontvang nie!
Kol 3:13, 18- 21.
13Verdra mekaar en, as enigiemand ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe.
18Vroue, julle moet onderdanig wees aan julle mans, soos dit gepas is vir mense in die Here. 19Mans, julle moet julle vroue liefhê, en nie verbitterd teenoor hulle raak nie. 20Kinders, julle moet julle ouers in alle opsigte gehoorsaam, omdat dit vir die Here aanneemlik is. 21Vaders, julle moenie julle kinders treiter, sodat hulle moedeloos word nie.