Week 5 Dag 21 – Troebel water – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Praat God vandag nog met ons soos in Bybelse tye? Vir baie gelowiges is dit nie ’n uitgemaakte saak nie. Alhoewel ons seker sal saamstem dat Hy wel in die Bybelse tye gepraat het, glo baie Christene dat God om een of ander rede besluit het om dit nie meer vandag só te doen nie.

Gebed

Praat met God en laat Hom toe om ook met jou te praat…

Lees die Skrif

Lees Gen 1 en tel hoeveel keer daar staan: Toe het God gesê . In Gen 3 kry ’n mens die indruk dat God in die koelte van die vroeë aand met Adam en Eva wou kommunikeer. Hulle kruip egter weg omdat hulle teen Hom gerebelleer het – maar Hy roep na hulle. God is ’n kommunikerende wese – van die skepping af is dit duidelik. Hy kommunikeer ook met Kaïn, Abel, Noag, Abraham, Moses, die profete en in die laaste dae doen Hy dit deur sy Seun (Heb1:1-2). Ons is na sy beeld geskep met die vermoë om te kommunikeer – waarom sal Hy dan nou, strydig met sy aard, ophou om met sy mense te praat?

Gen 1

SKEPPING

11In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was woes en leeg, en donkerte was oor die •oerwater. Maar die Gees van God het oor die water gesweef,

3en God het gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.
4God het gesien dat die lig goed was.
God het toe die lig en die donker
van mekaar geskei.
5God het die lig dag genoem
en die donker het Hy nag genoem.
En dit was aand en dit was oggend –
dag een.

6God het gesê: “Laat daar ‘n gewelf wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen water en water.” 7God het die gewelf gemaak, en Hy het die water wat onder die gewelf was, geskei van die water wat bo die gewelf was. Dit het toe so gebeur. 8God het die gewelf hemel genoem.
En dit was aand en dit was oggend –
‘n tweede dag.

9God het gesê: “Laat die water wat onder die hemel is, op een plek bymekaarkom, sodat die droë grond sigbaar word.” Dit het toe so gebeur. 10God het die droë grond ‘land’ genoem en die versamelplek van die water het Hy ‘see’ genoem. God het gesien dat dit goed is.

11God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit – gewasse wat saad gee, bome wat op die land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin hulle saad is.” Dit het toe so gebeur. 12Die land het toe groen plante voortgebring, gewasse wat saad gee volgens elkeen se aard, en bome wat vrugte dra waarin hulle saad is, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is.

13En dit was aand en dit was oggend –
‘n derde dag.

14God het gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om skeiding te maak tussen dag en nag. Hulle moet daar wees vir tekens en vir vaste tye, en vir dae en jare. 15Hulle moet daar wees as ligte aan die hemelgewelf om lig te gee op die aarde.” Dit het toe so gebeur.

16God het die twee groot ligte gemaak,
die groot lig om te heers oor die dag,
en die klein lig om te heers oor die nag,
en ook die sterre.

17God het hulle aan die hemelgewelf geplaas om lig te gee op die aarde, 18en om te heers oor die dag en die nag, en om skeiding te maak tussen die lig en die donker. God het gesien dat dit goed is.

19En dit was aand en dit was oggend –
‘n vierde dag.

20God het gesê: “Laat die water wemel met lewende wesens, en laat voëls oor die aarde vlieg langs die hemelgewelf.” 21God het volgens hulle aard die groot seediere geskep en al die lewende wesens wat rondbeweeg, waarvan die water wemel, en alle vlieënde voëls, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is. 22God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar, word meer en vul die water in die seë; en laat die voëls meer word op die land.”

23En dit was aand en dit was oggend –
‘n vyfde dag.

24God het gesê: “Laat die land lewende wesens voortbring volgens elkeen se aard: mak diere, kruipende diere en wilde diere van die land, volgens elkeen se aard.” Dit het toe so gebeur.

25God het die wilde diere van die aarde
gemaak volgens elkeen se aard,
die mak diere volgens elkeen se aard,
en al die diere wat op die grond kruip
volgens elkeen se aard.
God het gesien dat dit goed is.

26God het gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding, sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.”

27God het die mens geskep na sy beeld,
na die beeld van God
het Hy hom geskep,
manlik en vroulik het Hy hulle geskep.

28God het hulle geseën; God het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, vermeerder, vul die aarde en onderwerp dit. Heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde rondbeweeg.”

29God het gesê: “Kyk, Ek gee vir julle al die gewasse wat saad dra, wat op die oppervlakte van die hele aarde is, en al die bome waaraan daar vrugte is, wat saad dra. Vir julle sal dit as voedsel dien. 30En vir al die diere van die aarde en vir al die voëls van die hemel en alles wat rondbeweeg op die aarde waarin lewensasem is, gee Ek al die groen gewasse as voedsel.” Dit het toe so gebeur.

31God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed.

En dit was aand en dit was oggend –
die sesde dag.

Heb1:1-2
1In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun.
Hom het Hy aangestel
as erfgenaam van alle dinge,
en deur Hom het Hy
ook die wêreld geskep.

Skryf / Vul in

Lees 2 Tim 3:16-17 en skryf die 6 dinge neer waarvoor die Skrif nuttig is.

2 Tim 3:16-17
16Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, 17sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.


Dink na / Besin

Die Bybel is dus die belangrikste manier waardeur God met ons kommunikeer. Sy Woord is waar, maar hoekom is daar dan so baie verskillende interpretasies daarvan? Is Hy uitgelewer aan die manier waarop ons sy Woord interpreteer? Dink oor hierdie stelling

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Vgl ook Joh 17:17; Heb 6:18; 2 Pet 1:17-21; 1 Joh 1:5.

Joh 17:17;
17Heilig hulle deur die waarheid – u woorde is die waarheid.

Heb 6:18;
18Die doel daarvan was dat, deur hierdie twee onveranderlike dinge, waarvolgens dit vir God onmoontlik sou wees om te lieg, ons wat vrygekom het, ‘n kragtige bemoediging sou hê om stewig vas te hou aan die hoop wat voorlê. 

2 Pet 1:17-21;
17Nadat Hy van God die Vader eer en heerlikheid ontvang het, toe die luisterryke Majesteit die stem tot Hom laat kom het wat sê, “Hy is my Seun, my geliefde Seun, in wie Ek My verbly,” 18het ook ons daardie stem gehoor wat uit die hemel kom, terwyl ons saam met Hom op die heilige berg was. 19En daarom beskik ons oor die profetiese woord, wat nog vaster staan. Julle doen die regte ding as julle daarop fokus, soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek, en die môrester opgaan in julle harte. 20Dit moet julle veral besef: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie. 21Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie; maar, meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is.

1 Joh 1:5
5Dit is die boodskap wat ons van Hom gehoor het, en wat ons aan julle bekend maak: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

Skryf / Vul in

Lees Jer 17:9-10. Wat sê God, volgens Jeremia, oor die mens se hart?

Jer 17:9-10
9Die hart is bedriegliker as alles;
dit is ongeneeslik.
Wie kan die hart verstaan?
10“Ek, die Here, deursoek harte
en toets niere,
om elkeen te vergeld
volgens sy optrede,
volgens die vrug van sy dade.”


Lees 2 Pet 1:20-21; 3:16c – Is die verkeerde interpretasie van die Skrif ’n moderne verskynsel? (Lees gerus ook Matt 22:29; Joh 5:39-40.)

2 Pet 1:20-21;
20Dit moet julle veral besef: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie. 21Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie; maar, meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is.

2 Pet 3:16c
16soos in al sy briewe waarin hy oor hierdie sake praat. Daarin kom sekere moeilik verstaanbare dinge voor, wat onkundige en onstandvastige mense tot hulle eie ondergang verdraai – soos hulle ook met die ander geskrifte maak.

Matt 22:29
29Jesus het hulle egter geantwoord: “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie, en ook nie die krag van God nie.

Joh 5:39-40
39Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle dink dat die ewige lewe daarin te vinde is. En dit is juis hulle wat oor My getuig. 40Maar julle wil nie na My kom, sodat julle die lewe kan hê nie.


Nou moet jy die langste Psalm in die Bybel onder oë neem. Lees die volgende verse van Psalm 119 en kyk of jy kan agterkom watter gesindheid die skrywer teenoor God en sy Woord (Wet) openbaar. Verse: Psalm 119:1-4, 10-11, 31-32, 47-48, 54-57, 174-175.

Psalm 119:1-4, 10-11, 31-32, 47-48, 54-57, 174-175

1191Gelukkig is mense
wie se lewenspad onberispelik is
en wat die wet van die Here volg!
2Gelukkig is hulle
wat hou by sy bepalings,
wat Hom met hulle hele hart soek;
3wat ook nie onreg pleeg nie,
maar net sy paaie volg!
4U het self u opdragte gegee,
sodat mense dit noukeurig sal nakom.

10Met my hele hart soek ek U;
laat my tog nie afdwaal van u bevele nie.
11In my hart koester ek u woord,
sodat ek nie teen U sondig nie.

31Ek hou aan u bepalings vas;
Here, laat my nie beskaamd staan nie.
32Die pad van u bevele
volg ek geesdriftig,
want U verruim my insig.

47Ek vind vreugde in u bevele
wat ek liefhet;
48ek reik uit na u opdragte
wat ek liefhet;
ek dink na oor u voorskrifte.

54Maar u voorskrifte
was vir my liedere
in ‘n plek waar ek
‘n vreemdeling was.
55Ek het u Naam
in die nag onthou, Here,
en ek het u wet nagekom.
56Dit het deel geword van my –
dat ek by u opdragte hou.
57U, Here, is my deel,
ek het onderneem om u woorde
na te kom.

174Ek verlang na u verlossing, Here;
u wet is my vreugde.
175Hou my lewend
sodat ek U kan loof
en laat u beslissings my help.


Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Ps 119:14-16, 24, 71-72, 97, 103, 111-114,127-131, 162-165, 167, 172.

Ps 119:14-16, 24, 71-72, 97, 103, 111-114,127-131, 162-165, 167, 172

14Oor die pad van u bepalings
is ek verheug
soos oor enige rykdom.
15Oor u opdragte wil ek nadink;
ek wil op u paaie let.
16In u voorskrifte vind ek vreugde;
ek sal u woord nie vergeet nie.

24Nog steeds is u bepalings
my grootste vreugde;
hulle is my raadgewers.

71Dit is goed vir my
dat ek verneder was,
sodat ek u voorskrifte kon leer.
72Die onderrig uit u mond
is vir my beter as duisende
stukke goud en silwer.

97Hoe lief het ek u wet –
die hele dag dink ek daaroor na.

103Hoe strelend is u woord vir my verhemelte,
meer as heuning vir my mond.

111Ek het u bepalings as blywende
erfporsie ontvang;
ja, dit is die vreugde van my hart.
112Ek rig my hart daarop
om u voorskrifte uit te voer –
vir altyd, tot die einde toe.
113Dubbelhartige mense haat ek,
maar u wet het ek lief.
114My skuilplek en my skild is U;
op u woord vestig ek my hoop.

127Daarom het ek u bevele lief,
ja, meer as goud, as suiwer goud.
128Daarom volg ek alle opdragte
oor alles;
elke pad van bedrog haat ek.
129U bepalings is wonderlik;
daarom hou ek daarby.
130As u woorde oopgaan, gee dit lig;
dit gee insig aan onkundiges.
131Met ‘n oop mond hyg ek,
want ek hunker na u gebooie.

162Ek verheug my oor u woord,
soos iemand wat ‘n groot buit
gevind het.
163Ek haat en verafsku valsheid,
maar u wet het ek lief.
164Sewe keer per dag loof ek U
oor u regverdige beslissings.
165Groot vrede is daar vir hulle
wat u wet liefhet;
vir hulle is daar
geen struikelblokke nie.

167Ek kom u bepalings na;
ja, ek het dit baie lief.
168Ek kom u opdragte
en u bepalings na,
want al my paaie lê oop voor U.

172My tong besing u woord,
want al u gebooie is regverdig.

Nie net is ons ingesteldheid teenoor die Bybel uiters belangrik nie, maar die Here gee ook sy seën wanneer ons met die regte ingesteldheid deur sy Woord, met Hom omgaan. Sonder die regte beweegrede sal ’n mens nie die Here deur sy Woord hoor praat nie (Ps 119:9-11,92,118-120).

Ps 119:9-11,92,118-120

9Hoe sal ‘n jongmens sy lewenspad
suiwer hou?
Deur te hou by u woord.
10Met my hele hart soek ek U;
laat my tog nie afdwaal van u bevele nie.
11In my hart koester ek u woord,
sodat ek nie teen U sondig nie.

92As u wet nie my vreugde was nie,
sou ek in my ellende
vergaan het.

118U verwerp almal wat dwaal,
weg van u voorskrifte af;
want hulle bedrog is misleidend.
119Soos metaalskuim verwyder U
al die goddeloses van die aarde;
daarom het ek u bepalings lief.
120My lyf bewe omdat U
vrees inboesem;
ja, vir u beslissings is ek vol ontsag.


Ons moenie beoordelaars van die Woord wees nie – ons moet eerder met dieselfde liefde wat die digter van Psalm 119 vir God en sy Woord openbaar, voor God’s Woord buig en Hom gehoorsaam. Ware Woord-studie loop uit op aanbidding van God.

Skryf / Vul in

Lees Ps 1:1-2; 119:147-148.

Ps 1:1-2;
11Gelukkig is die mens
wat nie die raad
van goddeloses volg,
nie op die pad van sondaars
gaan staan
en nie in die byeenkoms
van spotters sit nie,
2maar wat vreugde vind
in die wet van die Here
en sy wet dag en nag
mymerend prewel.


Ps 119:147-148
147Voor die oggendskemer
roep ek al om hulp;
op u woorde wag ek.
148Met oop oë gaan ek
elke nagwaak in,
sodat ek oor u woord kan nadink

Hoe dikwels moet ons volgens hierdie Skrifgedeeltes met die Woord omgaan? Waarom?


Die Olimpiese atleet raak nie fiks deur dan en wan oordadig te oefen, of net ’n paar keer per week ’n paar oefeninge te doen nie. Nee, dit vra 4 jaar van getroue, toegewyde, gefokusde oefening. So moet ons die Bybel daagliks getrou lees en oordink met die verwagting en ingesteldheid om God se stem te hoor.

Josua het die onbenydenswaardige taak gehad om Moses se skoene vol te staan.
“Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend” (Eks 33:11).

Skryf / Vul in

Lees nou Jos 1:5-9

Jos 1:5-9
5Solank jy leef, sal niemand voor jou kan standhou nie. Soos Ek by Moses was, sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie. 6Wees dapper en sterk, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met ‘n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee. 7Wees net baie dapper en sterk, sodat jy die hele wet wat Moses, my dienskneg, jou beveel het, nougeset uitvoer. Moenie links of regs daarvan afwyk nie, sodat jy sukses kan behaal oral waar jy gaan. 8Hierdie •boekrol van die wet mag nie uit jou mond verdwyn nie. Jy moet dit dag en nag mymerend prewel, sodat jy alles wat daarin geskryf is, nougeset kan nakom; want dan sal jy voorspoedig wees op jou pad; dan sal jy sukses behaal. 9Het Ek jou nie beveel, ‘Wees dapper en sterk’ nie? Moenie paniekbevange wees nie en moet jou nie laat afskrik nie, want die Here jou God is by jou, oral waar jy gaan.”

en kyk wat was die Here se belofte aan Josua?
Watter voorwaarde het Hy gestel vir die belofte?


Dit moet deel van ons lewe wees om God intiem deur sy Woord te leer ken.

Dink na / Besin

’n Laaste gedagte: God verlang meer om met ons te praat as wat ons begerig is om sy wil te ken. Dink ’n bietjie oor hierdie stelling
Daarom is ons verhouding met Hom vir God baie belangriker as dit wat ons vir Hom kan doen. Die Bybel is die basis vir hierdie verhouding (Hos 6:6; 11:8-9) – so leer ons Hom ken.

Hos 6:6;
6want Ek verwag troue liefde,
nie offers nie;
kennis van God,
eerder as •brandoffers.”

Hos 11:8-9
8“Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim?
Hoe kan Ek jou oorlewer, Israel?
Hoe kan Ek jou prysgee soos Adma,
jou maak soos Sebojim?
My hart is diep ontroer in My,
die deernis brand in My.
9Ek sal nie in my brandende toorn
optree nie;
Ek sal nie omdraai en Efraim
vernietig nie;
want Ek is God, nie ‘n mens nie –
die Heilige in jou midde;
Ek sal nie in woede kom nie.”

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Vgl ook Joh 15:3, 7, 15; 17:14, 17; 1 Joh 1:3; 3:1.

Joh 15:3, 7, 15;
3Julle is egter reeds skoon deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.

7As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur.

15Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat ‘n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.

Joh 17:14, 17;
14Ek het aan hulle u woorde gegee; maar die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.

7Heilig hulle deur die waarheid – u woorde is die waarheid.

1 Joh 1:3; 3:1
3Ja, wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons ook aan julle, sodat ook julle aan ons verbonde kan wees. En ons verbondenheid is aan die Vader en aan sy Seun Jesus •Christus.

31Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! En dit is ons ook. Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat hulle Hom nie leer ken het nie.

Gebed

Praat met die Here en vertel Hom van jou ervaring terwyl jy met hierdie dag se studie besig was. Vertel Hom van jou emosies, maar ook van jou begeertes.
Wees stil en ontvanklik – verlustig jou in sy teenwoordigheid en vra Hom om op ’n besondere manier met jou te praat.

Week 5 Dag 21 Die lewende God is n kommunikasie wese
Week 5 Dag 21 Die lewende God is n kommunikasie wese
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: handboek, p 76-81
Lees gerus ook 1 Sam 15:22-23; Jak 1:22-27; 1 Joh 5:3.

1 Sam 15:22-23;
22Daarop het Samuel geantwoord:
“Is daar vir die Here vreugde
in •brandoffers en •maaltydoffers,
soos in gehoorsaamheid
aan die stem van die Here?
Kyk, om gehoorsaam te wees
is beter as maaltydoffers,
om te luister
beter as die vet van ramme.
23Ja, opstandigheid
is soos die sonde van waarsêery,
en eiesinnigheid
soos die euwel van huisgode.
Omdat jy die woord
van die Here verwerp het,
het Hy jou as koning verwerp.”

Jak 1:22-27;
22Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie. 23Want wie ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n doener nie, is soos iemand wat sy eie gesig in ‘n spieël sien. 24Hy sien homself, gaan weg en vergeet onmiddellik hoe hy gelyk het. 25Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener. 26As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself; so ‘n mens se godsdiens is vergeefs. 27Dít is suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader: om na weeskinders en weduwees om te sien in hulle ellende, en jouself onbesmet van die wêreld te hou.

1 Joh 5:3
3Want dit is die liefde vir God, dat ons sy gebooie onderhou, en sy opdragte is nie ‘n swaar las nie; 

Wenk

WENK: As jy ernstig is oor jou verhouding met God, doen dan moeite en maak (ekstra) tyd om in sy teenwoordigheid te verkeer en sy Woord te bestudeer.

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za