Week 3 Dag 14 – Op my eie: Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Die opskrif laat mens dink aan die TV advertensie: “I do it with only one hand!”

Gebed

Miskien moet jy eers stil word en die Here bewustelik toelaat om albei jou hande te bind – sodat Hy (alléén) kan werk – sonder jou bydrae , soos die Engelse spreekwoord sê: “Let go and let God!”

Lees die Skrif

Lees Hand 1:4, 8; 2:14, 36, 41-47; 4:31; 7:54-60; 2 Kor 4:13.

Hand 1:4, 8;

4Terwyl Hy met hulle saamgeëet het, het Hy hulle beveel: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het. 

8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.”

Hand 2:14, 36, 41-47;

14Daarop staan •Petrus op, verhef sy stem en spreek hulle toe: “Jode, en julle almal wat in Jerusalem woon – dit moet julle weet, luister goed na my woorde:

36“Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.”

41Diegene wat sy boodskap aangeneem het, is gedoop, en op daardie dag is ongeveer drieduisend mense toegevoeg.

EERSTE GEMEENTE

42Hulle het bly volhard in die leer van die •apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede. 43Almal is met ontsag vervul en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind. 44Al die gelowiges was bymekaar en het alles gemeenskaplik besit. 45Hulle het hulle eiendom en besittings verkoop en aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het eensgesind volhard om die tempelterrein daagliks te besoek, aan huis die brood te breek en hulle maaltye met uitbundige blydskap en met opregte harte te geniet. 47Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.

Hand 4:31;

31Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees, en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig.

Hand 7:54-60;

54Toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hulle harte en het hulle op hulle tande begin kners oor hom. 55Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het stip na die hemel gekyk en die heerlikheid van God gesien, en Jesus wat aan die regterhand van God staan. 56En hy het gesê: “Kyk, ek sien die hemele geopen en die •Seun van die Mens aan die regterhand van God staan.” 57Maar hulle het luidkeels geskreeu, hulle ore toegedruk en soos een man op hom afgestorm. 58Nadat hulle hom uit die stad uitgesleep het, wou hulle hom stenig. Die getuies het hulle boklere neergesit by die voete van ‘n jong man bekend as Saulus. 59En hulle het Stefanus gestenig, terwyl hy uitroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” 60Hy het op sy knieë geval en met ‘n harde stem uitgeroep: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!” En met dié woorde het hy ontslaap.

2 Kor 4:13

13Maar aangesien ons dieselfde Gees van die geloof het – soos geskryf staan, “Ek het geglo, daarom het ek gepraat” – glo ons ook, en daarom praat ons.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Matt 10:19-20; Joh 15:26-27; Hand 4:31, 33; 10:38; Rom 15:19; Ef 3:16.

Matt 10:19-20;

19En wanneer hulle julle oorlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe en wat julle moet sê nie, want wat julle moet sê, sal op daardie oomblik aan julle gegee word. 20Dit is immers nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.

Joh 15:26-27;

26“Wanneer die Parakleet kom wat Ek van die Vader af aan julle sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. 27En julle moet ook getuig, omdat julle van die begin af by My is.

Hand 4:31, 33;

31Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees, en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig.

 33Die •apostels het ook kragtig getuig oor die opstanding van die Here Jesus, en groot genade het oor hulle almal gekom. 

Hand 10:38;

38hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Hy het die land deurreis, goed gedoen en almal wat onder die mag van die Duiwel was, genees, omdat God met Hom was.

Rom 15:19;

19deur kragtige tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God. Gevolglik het ek die verkondiging van die evangelie van Christus heeltemal voltooi, van Jerusalem af en rondom, tot sover as Illirikum. 

Ef 3:16.

16Ek bid dat Hy vir julle na die rykdom van sy heerlikheid dít sal skenk:
om deur sy Gees met krag
na die innerlike mens versterk te word,

Skryf / Vul in

Kan ’n mens sê: Die Heilige Gees het iets te doen met my getuienis? Waarom sê jy so?


Kom ons vertel die verhaal van Die Mossie met die Spiere verder:
Elkeen van die diere het gedoen wat hulle kon doen. Leeu, buffel, renoster,
olifant en mossie het hulle eie vernuf gewys. Ons is dikwels as Kerk van die
Here Jesus Christus, net soos hulle. Ons voer ons eie kragtoertjies uit en ons
dink dan boonop dat dit darem nie te sleg met ons eie bediening gaan nie. Ons
doen ook net die goed wat vir ons moontlik lyk en wat met ons eie krag
uitvoerbaar is! Kan jy jouself indink dat leeu vir een oomblik getwyfel het oor sy
vermoë om die boomtak middeldeur te byt? Tog roep God ons om in sy krag
selfs dit te doen wat onmoontlik lyk en om in sy krag grense oor te steek na
waar niemand anders dit sou waag nie
In die Skrifgedeeltes wat jy hierbo gelees het, gee Jesus duidelik opdrag aan sy dissipels om in Jerusalem te wag op die gawe van die Gees. Hy beloof dat hulle krag sal ontvang om sy getuies te wees in Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld.

Skryf / Vul in

Het hierdie belofte wáár geword? Waarom sê jy so? Kan jy aan
Bybelgedeeltes dink wat jou siening bevestig? Vertoon jou eie lewe die bekragtiging van die Gees? Reageer op bogenoemde:


Ons kan dus sonder twyfel aanvaar dat getuienis sonder die Heilige Gees kragteloos, kunsmatig en sonder enige effek sal wees, want alleen deur sy krag word voortvlugtendes kragtige getuies! Meer nog: Dit was nie die skielike ontdekking of benutting van hul eie talente wat die verskil gemaak het nie, maar die kragtige werking van die Heilige Gees! Wees dus versigtig vir die eeu-oue verskoning van: “Ek kan nie, ons het nie geld nie, daar is nie tyd nie, dis nie op die begroting nie, ons het nog nooit vantevore so iets gedoen nie, dit sal nooit werk nie”, ens. Hierdie stellings sê veel eerder iets van jou geloof in, ervaring en siening van, asook jou verhouding met God!

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Matt 10:19-20; 26:69-74; Hand 2:14; 4:19- 20; 10:1-3; Hand 10:13-20, 34-35; Fil 2:12-13; 4:13; 2 Tim 3:1-5.

Matt 10:19-20;

19En wanneer hulle julle oorlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe en wat julle moet sê nie, want wat julle moet sê, sal op daardie oomblik aan julle gegee word. 20Dit is immers nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.

Matt 26:69-74;

VERLOËNING DEUR PETRUS

(Mark 14:66-72; Luk 22:56-62; Joh 18:15-18,25-27)

69•Petrus het buite gesit, in die binnehof. ‘n Sekere diensmeisie het na hom gekom en gesê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.” 70Hy het dit egter voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” 71En ‘n ander diensmeisie het hom na die poort sien loop, en sê toe vir die mense daar: “Hierdie man was saam met Jesus die Nasarener.” 72Weer het hy dit ontken, met ‘n eed: “Ek ken die man nie.” 73Ná ‘n rukkie het die omstanders nader gekom en vir Petrus gesê: “Jy is beslis ook een van hulle; trouens, jou uitspraak verklap jou.” 74Daarop begin hy vloek, en sweer: “Ek ken die man nie!” En onmiddellik het ‘n haan gekraai. 

Hand 2:14;

14Daarop staan •Petrus op, verhef sy stem en spreek hulle toe: “Jode, en julle almal wat in Jerusalem woon – dit moet julle weet, luister goed na my woorde:

Hand 4:19- 20;

19Petrus en Johannes het hulle egter geantwoord en gesê: “Of dit reg is voor God om eerder na julle te luister as na God, moet julle self oordeel; 20want ons kan nie swyg oor wat ons gesien en gehoor het nie.” 

Hand 10:1-3;

101Daar was ‘n man in Caesarea bekend as Cornelius, ‘n centurio van die sogenaamde Italiaanse kohort soldate. 2Hy, en ook sy hele huis, was godsdienstig en godvresend, het baie liefdadigheid aan die volk bewys en gereeld tot God gebid. 3Hy het teen die negende uur van die dag in ‘n visioen duidelik ‘n engel van God na hom sien binnekom wat vir hom sê: “Cornelius!”

Hand 10:13-20,

13Toe kom daar ‘n stem tot hom: “Staan op, Petrus, slag en eet!” 14Maar Petrus het geantwoord: “Onder geen omstandighede nie, Here! Want ek het nog nooit iets wat besoedel of •onrein is geëet nie.” 15Maar die stem het weer, ‘n tweede keer, na hom gekom: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.” 16Dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is dadelik weer in die hemel opgeneem.

17Petrus was nog aan die twyfel oor wat die visioen wat hy gesien het, kon beteken, toe die mans wat deur Cornelius gestuur is, skielik by die poort aankom, nadat hulle oor Simon se huis navraag gedoen het. 18Hulle roep toe en vra of Simon, ook bekend as Petrus, daar tuisgaan. 19Terwyl Petrus nog nadink oor die visioen, sê die Gees vir hom: “Kyk, daar is drie manne wat na jou soek. 20Maak gereed, klim af en gaan sonder aarseling saam met hulle, want Ek het hulle gestuur.”

Hand 10:34-35;

34Petrus het toe begin praat en gesê: “Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, 35maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is.

Fil 2:12-13;

12Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was – nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook nog veel meer in my afwesigheid – werk met vrees en bewing aan julle verlossing. 13Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.

Fil 4:13;

13Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee. 

2 Tim 3:1-5.

31Dit moet jy weet: In die laaste dae gaan daar moeilike tye kom; 2want die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig, aanmatigend, godslasterlik, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, goddeloos, 3ongevoelig, genadeloos, beledigend, sonder selfbeheersing, wreed, sonder liefde vir die goeie, 4verraaiers, roekeloos, hooghartig, lief vir plesier eerder as vir God, 5mense wat wel ‘n skyn van godvresendheid voorhou, maar wat die krag van godvresendheid misken. Bly weg van sulke mense.

Skryf / Vul in

Wat beteken die stelling: ” you must talk to God about people before you talk to people about God!”, vir jou in die praktyk?


Gebed

Die tong-in-die-kies opskrif (Sommer so op my eie) mag dalk meer waar wees as wat ons sou wou erken. Indien jy die behoefte het om weer voor God stil te raak en te reageer op sy Woord, doen dit met die verwagting dat Hy met jou sal praat.

Week 3 Dag 14 Die Heilige Gees gee die krag
Week 3 Dag 14 Die Heilige Gees gee die krag
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Ons is die Plan handboek, p 72-74
Lees gerus ook: Joh 15:5-8; Ef 3:20-21; Fil 4:10-13.

Joh 15:5-8;

5Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy soos ‘n loot buite uitgegooi, en verdroog. Hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur. 8Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.”

Ef 3:20-21;

20Aan Hom, wat deur sy krag wat in ons werk, die mag het om oneindig meer te doen as alles wat ons bid of dink, 21aan Hom kom toe die heerlikheid in die •kerk en in •Christus Jesus, deur alle geslagte heen, vir ewig en ewig. •Amen.

Fil 4:10-13

10Ek is in die Here besonder bly dat julle nou uiteindelik opnuut aan my gedink het. Eintlik het julle wel aan my gedink, maar julle het net nie die geleentheid daarvoor gehad nie. 11Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. 12Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. 13Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.

Wenk

WENK: Stel jouself vandag daarop in om bewustelik op God die Heilige Gees te vertrou; op sy wil en vermoëns, eerder as op dit waartoe jy (op jou eie) in staat is of nie.

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za