Week 3 Dag 13 – Soos ek: Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

God maak mense uniek. Dit veroorsaak dat ons God nie eenders beleef nie, maar juis op ’n eiesoortige manier hoor, aanbid en dien. Daar bestaan dus ’n verband tussen hoe jy deur God geskep is en hoe jy Hom beleef.

Wees dankbaar en bly oor jou unieke self
Een van die bevrydendste ontdekkings waartoe ’n mens kan kom, is dat jy jouself aanvaar soos God jou gemaak het. Ek bedoel hiermee, nie net die deel wat jy in die spieël kan sien nie, maar ook jou persoonlikheid en hoe God jou biologies aanmekaargesit het met sekere familie-eienskappe wat niks met sonde te doen het nie, maar met gene en DNA.

Wees dankbaar en bly oor jou spiritualiteit (die manier hoe jy God beleef en met Hom omgaan)
Sodra jy jouself aanvaar soos wat God jou gemaak het, sal jy ook groter vrede hê met die manier waarop jy God hoor, beleef, aanbid en dien. Jy sal nou-nou verstaan dat ’n groot deel van hoe jy God hoor, beleef, aanbid en dien te make het met hoe God jou aanmekaargesit het. Daar bestaan dus nie iets soos ’n beter of ’n slegter spiritualiteitstipe nie. Dit is wel so dat jy binne jou bepaalde spiritualiteit minder of meer gehoorsaam aan God kan leef.

Die kinderverhaal van Eben de Jager (2000), Die Mossie met die Spiere, help ons om nie net oor ons eie plek in God se koninkryk en kerk na te dink nie, maar ook oor die plek wat ander saam met ons inneem.

Die verhaal speel êrens in die bos af. Die groot en sterk diere spog onder mekaar oor wie nou eintlik die sterkste is. Koning Leeu byt ’n boomtak middeldeur dat jy net spaanders sien vlieg. Bof Buffel bestorm ’n boom en ontwortel dit. Ronnie Renoster rol met sy groot horing die boom om en om. Ollie Olifant slinger die groot boom met sy slurp tot binne-in die rivier. Wanneer daar ’n doodse stilte in die bos toesak, kom Manie Mossie parmantig vorentoe gevlieg. Manie Mossie sê daar is iets wat hy kan optel wat nie een van die bos se boelies sal kan optel nie. Dit ontlok ’n groot rumoer in die bos soos die diere reageer op Mossie se uitlating. Mossie steur hom aan min, buk agtertoe en pluk ’n veer uit sy lyf. Hy laat die veer val en daag toe al die sterk diere uit om die veer van die grond af op te tel. Onnodig om te sê dat nie een van die sterk diere van die bos die veer van die grond af kon optel nie. Toe dit sy beurt is, pik Manie Mossie met sy bekkie die veer op, swaai dit heen en weer en laat dit weer val Hierdie voorval het die boelies van die bos ’n bietjie oor hulleself laat dink. Hulle het ook oor hulle eie spiere nagedink en besef dat selfs Manie Mossie spiere het – maar, was sy spiere in sy bekkie of in sy kop?

  • Daar is vir almal plek in die bos – vir leeu, buffel, renoster, olifant en Mossie.
  • Elkeen se spiere verskil.
  • ’n Mens kan maar net begin droom oor wat in die bos sou gebeur as die diere vir mekaar se spiere waardering sou hê, as hulle mekaar nie meer as kompetisie sou sien nie, maar as hulp en ondersteuning.

Dit sou ook ’n kwade dag wees as die bosbewoners vergadering hou en net olifant mag sy mening uitspreek en sy spiere gebruik.

Lees die Skrif

Lees Ps 139:13-18; Ef 1:7-14, 22-23; 4:1-7, 11-16.

Ps 139:13-18;

13Dit is immers U wat my niere
geskep het,
my in die moederskoot geweef het.
14Ek prys U omdat ek
op ‘n ontsagwekkende,
wonderbaarlike wyse gemaak is.
Wonderbaarlik is u werke
en ek besef dit maar te goed.
15My skelet was nie vir U verborge
toe ek in die geheim gemaak is nie,
toe ek kunstig geweef is
in die dieptes van die aarde.
16U oë het my vormloosheid gesien.
En in u •boekrol is hulle almal
opgeteken –
dae wat beplan is,
toe nie een daar was nie.
17En vir my, hoe kosbaar
is u gedagtes, o God –
hoe oorweldigend
is die volle getal daarvan!
18As ek dit tel,
is dit meer as die sand.
Word ek wakker,
dan is ek steeds by U.

Ef 1:7-14, 22-23;

7In Hom het ons die bevryding deur sy bloed,
die vergewing van ons oortredings
uit die rykdom van sy genade,
8wat Hy oorvloedig aan ons geskenk het,
saam met alle wysheid en insig.
9Hy het die geheimenis van sy wil
aan ons bekend gemaak,
soos Hy dit goedgedink en in Christus voorgeneem het,
10om die volheid van die tye te bestuur,
en om alle dinge
– die dinge in die hemel en die dinge op die aarde –
onder een Hoof in Christus saam te bring,
11In Hom is ons ook as erfgename uitverkies,
voorbestem volgens die voorneme
van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur,
12sodat ons,
wat van die begin af ons hoop op Christus gevestig het,
kan bestaan tot lof van sy heerlikheid.
13In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid,
die evangelie van julle verlossing,
gehoor en tot geloof gekom het,
verseël met die Heilige Gees, wat beloof is.
14Die Gees is die waarborg van ons erfenis,
om ons los te koop as God se eiendom,
tot lof van sy heerlikheid.

22Hy het alles onder sy voete gestel,
en Hom aan die kerk gegee,
as Hoof oor alles,
23die kerk wat sy liggaam is,
die volheid van Hom
wat alles in almal vul.

Ef 4:1-7, 11-16

41Daarom spoor ek julle aan, ek, wat ter wille van die Here ‘n gevangene is, om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is, waardig is: 2deur mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra, 3en julle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede –
4een liggaam en een Gees,
soos julle ook deur julle roeping
tot een hoop geroep is:
5een Here, een geloof, een doop,
6een God en Vader van almal,
wat oor almal en deur almal
en in almal is.
7Maar aan elkeen van ons is ‘n genadegawe geskenk, soos •Christus dit uitgedeel het. 

11En Hy het sommige as •apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee, 12om die •heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou, 13totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die •Seun van God, en tot ‘n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus. 14Die doel hiervan is dat ons nie meer klein kindertjies sal wees nie, wat deur onstuimige golwe rondgeslinger word en rondgewaai word deur elke wind van lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan; 15maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof 16uit wie die hele liggaam, harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig, volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook 1 Kor 12:3, 7; Joh 15:1-8, 16; Fil 2:12-13, 4:13.

1 Kor 12:3, 7;

3Daarom maak ek aan julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God praat, sê “Jesus is vervloek!” nie, en niemand kan sê “Jesus is die Here!” behalwe deur die Heilige Gees nie.

7Aan elkeen egter word die openbaring van die Gees gegee, met die oog op wat bevorderlik is:

Joh 15:1-8, 16;

DRUIWESTOK EN LOTE

151“Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer. 2Elke loot aan My wat nie vrug dra nie, sny Hy weg; maar elkeen wat vrug dra, snoei Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. 3Julle is egter reeds skoon deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie. 5Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy soos ‘n loot buite uitgegooi, en verdroog. Hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur. 8Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.”

16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrug te dra, vrug wat blywend is, sodat, wat julle die Vader in my Naam vra, Hy dit aan julle mag gee. 

Fil 2:12-13, Fil 4:13.

LIGDRAERS IN DIE WÊRELD

12Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was – nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook nog veel meer in my afwesigheid – werk met vrees en bewing aan julle verlossing. 13Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.

Fil 4:13

13Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee. 

Gebed

Stel jouself nou oop voor God sodat Hy jou gedagtes kan vul met sy volmaakte wil, goddelike wysheid en liefde. Doen bewustelik afstand van jou vermoëns (spiere) en bely jou afhanklikheid van Hom (en sy vermoëns). Stel jou in op sy teenwoordigheid sodat jy sy stem kan hoor.

Skryf / Vul in

Skryf nou neer wat jy by God in sy Woord en deur sy Gees gehoor het.


Binne die Liggaam van Christus, die Kerk, is daar verskillende liggaamsdele wat bymekaar pas en saam ’n eenheid vorm. Elke lid van die Liggaam het ’n belangrike en unieke rol om te speel en ’n funksie om te vervul. Binne hierdie Liggaam, met die groot verskeidenheid, word almal wat daarvan deel is opgeroep om geduldig te wees, mekaar in liefde te verdra en eenheid na te streef. Ons het mekaar nodig en moet vir mekaar ruimte maak (1 Kor 12:12- 31).
Daarom mag ons nie die verskeidenheid binne die Kerk sien as ’n bedreiging nie, maar as wonderlike voorsiening deur God.

1 Kor 12:12- 31

12Want soos die liggaam ‘n eenheid is, maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met •Christus. 13En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. 14Inderdaad, die liggaam bestaan nie uit een ledemaat nie, maar uit baie.

15As die voet sou sê,
“Omdat ek nie ‘n hand is nie,
behoort ek nie
aan die liggaam nie,”
behoort hy daarom nie
aan die liggaam nie?
16En as die oor sou sê,
“Omdat ek nie ‘n oog is nie,
behoort ek nie
aan die liggaam nie,”
behoort hy daarom nie
aan die liggaam nie?
17As die ganse liggaam oog was,
waar sou die gehoor wees?
As alles gehoor was,
waar sou die reuk wees?
18Maar nou het God die ledemate, elke enkele een van hulle, in die liggaam geplaas volgens sy besluit. 19As alles een ledemaat was, waar sou die liggaam wees? 20Maar nou is daar wel baie ledemate, maar net een liggaam. 21Die oog kan tog nie vir die hand sê, “Ek het jou nie nodig nie,” of die kop weer vir die voete, “Ek het julle nie nodig nie.” 22Inteendeel, die oënskynlik swakker liggaamsdele is baie meer noodsaaklik; 23en daardie dele van die liggaam wat ons as minder eerbaar beskou, klee ons met meer as die gewone eer, en die minder elegante dele met meer elegansie, 24terwyl ons meer elegante dele dit nie nodig het nie. Maar God het die liggaam so saamgestel, dat Hy meer respek toegewys het aan die deel wat dit die meeste nodig het, 25sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sal wees nie, maar die ledemate in gelyke mate vir mekaar sal sorg. 26As een ledemaat ly, ly al die ledemate saam; as een ledemaat vereer word, is al die ledemate saam bly.

27Julle is die liggaam van •Christus, en elkeen individueel ‘n ledemaat. 28In die •gemeente het God aangewys: eerstens •apostels, tweedens •profete, derdens leraars; daarna kragtige vermoëns, sowel as gawes van genesing, vermoëns om te kan help, om te lei, en verskillende soorte tale. 29Is almal dan apostels? Is almal dan profete, of almal leraars? Het almal miskien kragtige vermoëns? 30Het almal miskien gawes van genesing? Spreek almal dalk in tale? Kan almal dit dalk uitlê? 31Julle lê julle toe op die belangriker genadegawes, maar ek wys julle die heel beste weg.

Skryf / Vul in

Skryf jou gewaarwording oor die verskeidenheid van die Liggaam van Christus neer. Wees prakties en dink aan maniere hoe jy saam met ander gelowiges hande kan vat en ter wille van die Koninkryk van God kan saamwerk tot sy eer.


Week 3 Dag 13 God gebruik die verskeidenheid wat Hy geskape het tot voordeel van sy koningkryk
Week 3 Dag 13 God gebruik die verskeidenheid wat Hy geskape het tot voordeel van sy koningkryk
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Ons is die Plan handboek, p 69-72, 85-90
Lees gerus ook Joh 10:14-16.

Joh 10:14-16
14Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie, en my eie ken My, 15net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken. En Ek lê my lewe af vir die skape. 16Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder.


Sien Figuur 3 in Bylae 2, p 171

Figuur-3-Bylaag-2
Figuur-3-Bylaag-2
Wenk

WENK: Dink hieroor na: Voel jy bedreig deur ander (wat van jou verskil) se teenwoordigheid, of voel jy verryk en soek jy na oplossings tot samewerking?

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za