God se wil is baie spesifiek vir ’n gemeente binne ’n bepaalde tyd, plek en
omstandighede. So ook vir my as gelowige.
- Dit vra:
- Voortdurende afhanklike verwagting dat Christus ons van oomblik tot oomblik sal lei hoe om ons gawes en vermoëns in sy diens te gebruik.
- ’n Ingesteldheid van luister.
Ons vertel ons verhaal verder:
Die bos waar hierdie toneel van Die Mossie met die spiere afspeel, is God se
bos – met sy groot verskeidenheid. God is betrokke by sy bos – van die
grootste eeu-oue bome tot by die mikroskopiese minuut-oue organismes. God
is betrokke by die sterk diere – die leeu, buffel, renoster en olifant, maar ook by
die klein vaal mossie. Dit is egter nie waar hierdie verhaal eindig nie. Binne
hierdie bos is daar ook mense – ’n hele gemeenskap van bosbouers. Soos vir
die diere en plante, sorg God ook vir die bosbouers. Hy is tot die dood toe lief
vir hierdie mense. Hy wil hê hulle moet weet en glo dat hulle sy bosbouers is en
dat hulle in sy bos woon en werk. Daarom is daar ’n gemeente van God onder
die bosbouers. Hy weet presies hoe Hy sy liefde aan die ander bosbouers wil
kommunikeer. Hy kies om dit deur sy gemeente te doen, maar ’n baie vreemde
verskynsel kom egter in hierdie gemeente voor. Niemand in hierdie gemeente
het meer ore nie. In die beste gevalle is die gemeentelede se ore net
inwendige orgaantjies wat hulle help om hul balans te hou. Hierdie gemeente
weet nie meer hoe om na God te luister nie. Hulle hoor net genoeg om self
regop te bly!
Die tragedie is dat hulle dink hulle het klaar geluister en klaar gehoor

Buig voor die Skeppergod wat in sy alwysheid besluit het om die skepping veelkleurig en met ’n verskeidenheid skepsels te skape. Hy het ook vir jou gemaak: uniek, met ander gawes, talente, vermoëns en belangstellings as ander mense. Eer Hom daarvoor en laat sy Woord en Gees jou oortuig van sy wil met jou lewe.

Lees 1 Kor 12:1-31; Rom 12:3-8; Hand 16:6-10; Kol 4:2-4
1 Kor 12:1-31;
BAIE GAWES MAAR EEN LIGGAAM
121Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie. 2Julle weet dat, toe julle heidene was, julle dikwels na die stom afgode meegevoer is, op watter manier julle ook al daartoe verlei is. 3Daarom maak ek aan julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God praat, sê “Jesus is vervloek!” nie, en niemand kan sê “Jesus is die Here!” behalwe deur die Heilige Gees nie.
4Daar is ‘n verskeidenheid genadegawes,
maar dit is dieselfde Gees;
5en daar is ‘n verskeidenheid dienste,
maar dit is dieselfde Here;
6en daar is ‘n verskeidenheid aktiwiteite,
maar dit is dieselfde God
wat al hierdie dinge in almal bewerk.
7Aan elkeen egter word die openbaring van die Gees gegee, met die oog op wat bevorderlik is:
8Aan een word ‘n woord van wysheid
deur die Gees gegee,
aan ‘n ander ‘n woord van kennis
deur dieselfde Gees;
9aan een geloof
deur dieselfde Gees,
aan ‘n ander gawes van genesing
deur die één Gees;
10aan een dinamiese kragte,
aan ‘n ander weer die gawe van profesie;
aan een die onderskeiding van geeste,
aan ‘n ander verskillende soorte tale,
en aan nog ‘n ander die uitleg van tale.
11Een en dieselfde Gees bewerkstellig al hierdie dinge, wat Hy aan elkeen afsonderlik uitdeel volgens sy wil.
12Want soos die liggaam ‘n eenheid is, maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met •Christus. 13En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. 14Inderdaad, die liggaam bestaan nie uit een ledemaat nie, maar uit baie.
15As die voet sou sê,
“Omdat ek nie ‘n hand is nie,
behoort ek nie
aan die liggaam nie,”
behoort hy daarom nie
aan die liggaam nie?
16En as die oor sou sê,
“Omdat ek nie ‘n oog is nie,
behoort ek nie
aan die liggaam nie,”
behoort hy daarom nie
aan die liggaam nie?
17As die ganse liggaam oog was,
waar sou die gehoor wees?
As alles gehoor was,
waar sou die reuk wees?
18Maar nou het God die ledemate, elke enkele een van hulle, in die liggaam geplaas volgens sy besluit. 19As alles een ledemaat was, waar sou die liggaam wees? 20Maar nou is daar wel baie ledemate, maar net een liggaam. 21Die oog kan tog nie vir die hand sê, “Ek het jou nie nodig nie,” of die kop weer vir die voete, “Ek het julle nie nodig nie.” 22Inteendeel, die oënskynlik swakker liggaamsdele is baie meer noodsaaklik; 23en daardie dele van die liggaam wat ons as minder eerbaar beskou, klee ons met meer as die gewone eer, en die minder elegante dele met meer elegansie, 24terwyl ons meer elegante dele dit nie nodig het nie. Maar God het die liggaam so saamgestel, dat Hy meer respek toegewys het aan die deel wat dit die meeste nodig het, 25sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sal wees nie, maar die ledemate in gelyke mate vir mekaar sal sorg. 26As een ledemaat ly, ly al die ledemate saam; as een ledemaat vereer word, is al die ledemate saam bly.
27Julle is die liggaam van •Christus, en elkeen individueel ‘n ledemaat. 28In die •gemeente het God aangewys: eerstens •apostels, tweedens •profete, derdens leraars; daarna kragtige vermoëns, sowel as gawes van genesing, vermoëns om te kan help, om te lei, en verskillende soorte tale. 29Is almal dan apostels? Is almal dan profete, of almal leraars? Het almal miskien kragtige vermoëns? 30Het almal miskien gawes van genesing? Spreek almal dalk in tale? Kan almal dit dalk uitlê? 31Julle lê julle toe op die belangriker genadegawes, maar ek wys julle die heel beste weg.
Rom 12:3-8;
GELOWIGES SE OPTREDE IN DIE GEMEENTE
3Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle dat jy nie meer van jouself moet dink as wat jy behoort nie, maar dat jy jou gedagtes daarop moet instel om verstandig te wees, volgens die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. 4Want soos ons baie ledemate in een liggaam het, en nie al die ledemate dieselfde funksie vervul nie, 5net so is ons, al is ons baie, een liggaam in •Christus, en individueel lede van mekaar. 6Ons het gawes wat van mekaar verskil, volgens die genade wat aan ons gegee is:
As dit die gawe van profesie is,
beoefen dit dan
in ooreenstemming
met die geloof;
7as dit is om ander te dien,
gebruik dit dan vir dienswerk.
Wie onderrig kan gee,
moet onderrig;
8wie kan bemoedig,
moet bemoediging gee;
wie mededeelsaam kan wees,
moet dit met opregtheid doen;
wie leiding kan gee,
moet dit met toewyding doen;
wie barmhartigheid kan betoon,
moet dit met blydskap doen.
Hand 16:6-10;
PAULUS SE VISIOEN IN TROAS
6Hulle het deur Frigië en die landstreek van Galasië gereis, omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord in Asië te verkondig. 7Toe hulle naby Misië kom, het hulle probeer om na Bitinië te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. 8Hulle het toe by Misië verbygereis en afgegaan na Troas. 9Daardie nag het Paulus ‘n visioen gehad. ‘n Macedoniese man het daar gestaan en hom gesmeek met die woorde: “Kom oor na Macedonië en help ons!” 10Nadat hy die visioen gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedonië te gaan, omdat ons oortuig was dat God ons geroep het om aan hulle die evangelie te verkondig.
Kol 4:2-4
2Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid. 3Bid terselfdertyd ook vir ons, dat God vir ons ‘n deur vir die Woord sal oopsluit, om die misterie van •Christus te verkondig – dit waarvoor ek in boeie is – 4en bid dat ek dit met die regte woorde sal kan verduidelik.

DIEPER DELF: Lees gerus ook Ef 4:7; 1 Tess 5:17
Ef 4:7;
7Maar aan elkeen van ons is ‘n genadegawe geskenk, soos •Christus dit uitgedeel het.
1 Tess 5:17
17bid sonder ophou;

Hoe dink God in hierdie gedeeltes oor die liggaam van Christus (waarvan jy deel is)? Kan jy aan ander gedeeltes dink waar die Bybel ook hieroor praat?
Hoe maak jy daagliks plek om saam te werk met die verskeidenheid van God se mense?
Is jou gebedslewe ’n bewys dat jy leef met die verwagting dat Christus jou spesifiek wil lei? Het jy ’n luisterende ingesteldheid? Hoe goed is jou ore ontwikkel om God te hoor?
Wees prakties: Hoe stel jy jou Godgegewe gawes in diens van sy Koninkryk? (Weet jy watter gawes jy het?)
Is julle gemeente se gebedslewe ’n bewys dat julle leef met die
verwagting dat Christus julle as gemeente wil lei? Het die gemeente ’n luisterende ingesteldheid? Hoe goed is die gemeente waarvan jy deel is, se ore ontwikkel om God te hoor?
Op Paulus se tweede sendingreis beleef hy hoe die Heilige Gees hom twee
keer verhinder om na ’n plek te gaan. Hy wou na die groter stede van Asië
gaan, maar word verhinder en reis noordwaarts na Misië en Bitinië. Wanneer
hy na Bitinië wil gaan, word hy vir ’n tweede keer teëgehou. Hy gaan dan na
Troas waar ’n man van Masedonië in ’n gesig aan hom verskyn met die
versoek dat hy na hulle toe moes kom om te help.
- Moenie bang wees om foute te maak nie. God lei ons ook te midde van foute.
- God lei ons (en sy gemeente) dikwels na waar die behoefte die grootste is ( Masedonië ). Hy sou wel later vir Paulus stuur na die groter stede van Asië.
Besef jy dat die uitstaande waarheid die feit is, dat God in beheer is; dat dit GOD is wat deur sy Heilige Gees gee – soos Hy wil, wat Hy wil, vir wie Hy wil en selfs wanneer Hy wil! Hy is God. Hy het altyd sy eer en aanbidding in gedagte: Met ons redding, met die uitdeel van gawes en die leiding van die Heilige Gees. Wanneer ons dus met Hom praat, moet ons seker maak dat dit God se stem is wat ons hoor deur dit te toets aan sy Woord (Hand 17:11 11Die mense daar was meer welwillend as dié in Thessalonika. Hulle het die boodskap baie geesdriftig ontvang en die Skrifte daagliks bestudeer om vas te stel of dit so is. ).

Som dit wat jy van God geleer het kortliks op.


DIEPER DELF: handboek, p 72 -74
Lees gerus ook 1 Kor 12:3-7; 2 Kor 3:4-6; 1 Joh 4:1-3; Ps 115:1-3.
1 Kor 12:3-7;
3Daarom maak ek aan julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God praat, sê “Jesus is vervloek!” nie, en niemand kan sê “Jesus is die Here!” behalwe deur die Heilige Gees nie.
4Daar is ‘n verskeidenheid genadegawes,
maar dit is dieselfde Gees;
5en daar is ‘n verskeidenheid dienste,
maar dit is dieselfde Here;
6en daar is ‘n verskeidenheid aktiwiteite,
maar dit is dieselfde God
wat al hierdie dinge in almal bewerk.
7Aan elkeen egter word die openbaring van die Gees gegee, met die oog op wat bevorderlik is:
2 Kor 3:4-6;
4So ‘n vertroue op God het ons deur Christus. 5Nie dat ons uit onsself bekwaam is om te reken dat iets uit onsself kom nie – nee, ons bekwaamheid kom van God. 6Hy het ons bekwaam gemaak om bedienaars van ‘n nuwe verbond te wees – nie van die letter nie, maar van die Gees. Want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend.
1 Joh 4:1-3;
41Geliefdes, moenie elke gees glo nie, maar toets die geeste of hulle van God kom, want daar is reeds baie vals profete in die wêreld. 2Hieraan ken julle die Gees van God: Elke gees wat bely dat Jesus •Christus vlees geword het, is uit God, 3en elke gees wat dit nie van Jesus bely nie, is nie uit God nie, maar is die gees van die Antichris, van wie julle gehoor het dat hy kom, en wat nou reeds in die wêreld is.
Ps 115:1-3
1151Nie aan ons nie, Here,
nie aan ons nie,
maar aan u Naam kom die eer toe,
oor u troue liefde,
oor u bestendigheid.
2Waarom sê die nasies:
“Waar is hulle God dan?”
3Ons God is in die hemel;
alles wat Hom behaag, doen Hy.

WENK: Jy weet nou dat die Heilige Gees ook vir jou gawes gegee het. Stel jouself biddend beskikbaar deur jouself aan te meld vir diens in sy Koninkryk

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!
Inhoudsopgawe
Kopiereg
Dr. Frans Hancke.
Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).
Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie
Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za



