- E-gebedsgids vir September 2022
September 2022
“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”
MATTEUS 7:12
September 2022
“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”
MATTEUS 7:12
Prediker: Ds. Danie Goosen
Skriflesing: Jeremia 18: 1 – 12
Tema: ‘n Gedaanteverwisseling
Begeleiding: Marida Bridges
Liedere:
Flam 105
“Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees ” Psalm 27: 1
In hierdie tyd waar ons dikwels onderwerp word aan kragonderbrekings, gryp ons dadelik na gastofies, flitse en kerse, sodat ons tog net nie in die duister hoef te sit nie. Ons het so gewoond geword om op ons eie krag staat te maak. Die lewe het so gemaklik geword, dat dit ons dikwels onkant van wanneer hierdie kragonderbrekings ons tref.
In ons geestelike lewe weet ons egter dat daar ‘n onuitputbare kragbron aan die werk is. Dit is nie op onsself wat ons hoef staat te maak nie. Ons sterkte en lig lê by God, Christus en die Heilige Gees. Die Psalmdigter, Dawid het so dikwels God se lof en bystand besing. Ps. 8:2 noem hoe glansryk alles is wat God in die hemelruim geplaas het.
Ps 16: 5 leer ons dat God vir ons sorg. Alles wat ek het kom van Hom af. Kan ons anders as om dankbaar te wees vir die pragtige deel wat vir elkeen van ons afgemeet is, en die mooi daarvan raaksien (Ps 16: 6). Self in die donkerste tye laat die Here ons lampe helder skyn, wan God gee ons lig wanneer dit donker om ons is (Ps 18: 29). God omsingel ons met krag (Ps 18: 33 en Ps 18: 40).
In Ps 19: 8 verseker Dawid ons dat die woord van die Here lewe gee en Ps 23:3 stel dit so mooi: “Hy gee my krag. Hy lei my op die regte paaie…”
Kan ons dan anders as om by hierdie ewigdurende kragbron in te skakel. Hy wat vir ewig was, is en sal wees. Hy wat die heerser van die uitspansel is. Hy wat ons nooit verlaat nie, al voel dit of ons deur donker skaduwees gaan. “U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” (Ps 23: 6).
Dit is met leedwese dat ons u meedeel van die afsterwe van
Lettie Müller
Ons dra ons innige simpatie en voorbidding oor aan die oorledene se geliefdes, mag die Here u troos in hierdie hartseer tyd.
Sondag – 11 September 2022 Kategese om 09:00. Erediens 10:00 Prediker: Dr. Gerdrie van der Merwe.
Maandag – 12 September 2022 Kooroefening om 17:15 by die orrel. Marida (082 471 0751). Alle belangstellendes is welkom.
Dinsdag – 13 September 2022 Ringsitting
Getuienisbediening Wolwedans boodskap, sop- en broodbediening is as volg: 7 en 21 September 2022
Vandag – Sondag 4 September 2022:
Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Jer. 29:12
DONDERDAG 1 September Gebed
Bid asseblief vir elke lidmaat wat hierdie Gebedsgids gebruik. “Here seën hulle en hulle dierbares met die keur van U seëninge. Dankie dat U self die waarborg is vir gebede wat in U Naam gebid word (vgl. Joh 14:13-14). Mag meer lidmate van hierdie materiaal gebruik maak.
VRYDAG 2 September Ons vervolgde Familie
Bid vir ons vervolgde familie in lande wat nie aldag in die nuus is nie. Bid dat hulle U vrede sal beleef, U krag sal ervaar en sal volhard in gebed en getuienis. Mag hulle vas staan teen aanvalle en verwerping. Ons moet volhard om hulle aan die Skepper op te dra.
SATERDAG 3 September Voorbereiding
Ons bid dat lidmate tyd sal maak om stil te word en hulle geestelik sal instel om môre ‘n ontmoeting met U te hê. Seën asb. ook elke leraar wat môre die Woord moet verkondig. Gee vir hulle kalmte, insig Goddelike wysheid wanneer hulle voor die gemeentes staan.
SONDAG 4 September Dowes
Ons deuroffers gaan vandag vir die bediening van dowes. Kom ons bid vir instansies betrokke en dat die Here daar sy seën sal bied. Gee mildelik en dank God vir elkeen van ons sintuie.
MAANDAG 5 September Verhoudings
Egskeiding, konflik in gesinne en spanning by die werk, lei daartoe dat baie mense alleen, verlore, ongeliefd en wanhopig voel. Bid vandag dat elkeen wat worstel met ‘n diep verlange na liefde en versorging, vervulling sal vind in die liefde van Jesus Christus en sy verlossing. Bid vir versoening in verhoudings in ons land. (Johannes 14:1).
DINSDAG 6 September Enkellopendes
“Hemelse Vader, ons het vandag die behoefte om alle enkellopendes, weduwees, wewenaars en geskeide persone na U toe te bring. Oordek hulle met U liefde, sorg en genade en gee hulle die versekering dat U met hulle is tot aan die voleinding van die wêreld en dat U eensaam en verlate in Getsémané moes wees sodat ons nimmermeer deur U verlaat sal word nie. Mag lidmate in liefde uitreik na ons eensame ’’familielede’’.
WOENSDAG 7 September Landsburgers se veiligheid
Bid vir seën oor personeel van veiligheidsinstansies wat oor ons veiligheid waak: polisie-; brandweer-; noodhulp- en sekuriteitswerkers. Bid ook vir hulle gesinne wat dalk in vrees en angs verkeer wanneer lang en ongereelde ure hul van mekaar verwyder.
DONDERDAG 8 September Huwelike
“Vader, die aanslag van die duiwel is tans sterker as ooit op ons huwelike. Ons vra vir die nodige respek, geduld en getrouheid in die huwelik en dat egpare die leiding van ons God en Here eerste sal stel in hulle verhouding”. Egpare bid vir- en saam met mekaar!
VRYDAG 9 September Nigerië
Christene wat deur Fulani-militante ontwortel is, staar voor die algemene verkiesing in 2023 groter vervolging in die gesig. Bid dat hulle sal onthou dat God se Naam ‘n sterk vesting is tydens onsekerhede. (Spr. 18:10)
SATERDAG 10 September Bejaardes
“Dierbare Vader, vanoggend wil ons met liefde en deernis dink aan al die pensioenarisse wat swaar trek weens verskillende omstandighede – dikwels buite hulle beheer. Omvou hulle met U liefde en mag hulle nie moedeloos word nie, maar die oog op U gerig hou”
SONDAG 11 September Melaatses
Dit is ongelukkig waar dat daar nog melaatses in ons land te vinde is. Ons kerk het al baie jare lank ‘n bediening om Christus se liefde ook onder hulle te laat leef. Bid vir hierdie mense en vir gelowiges wat hulle op geestelike gebied versorg en bystaan.
Ons het vandag die geleentheid om hulle met ons bydraes te ondersteun.
MAANDAG 12 September Gesinsgeweld
Dit is moeilik om saam met ‘n gewelddadige (fisies of verbaal) persoon te leef. Bid dat die Here met Sy liefdevolle goedheid en genade verlossing van vernietigende gedrag en woorde in gesinne sal bewerk. “‘n Sagte woord laat woede bedaar” (Spreuke 15:1).
DINSDAG 13 September Kerkraadsvergadering
Dank die Here vir Kerkraadslede wat in ons gemeente dien. Bid vir vanaand se vergadering, dat dit in ‘n goeie gees, met wysheid en onder leiding van die Gees sal plaasvind. Dat die fokus op die Koninkryk van God en Christus se groot opdrag sal wees.
WOENSDAG 14 September Geestesgesondheid
Bid vandag vir hulle wat aan depressie, angs en ander sielkundige kwale ly. Vra dat hulle God se stem in hulle lewens sal hoor en dat hulle hul vertroue in Hom sal wees vir verlossing en genesing. Bid dat hulle hul skeppingsdoel en hoop in Jesus Christus sal vind. (Ps 42:6).
DONDERDAG 15 September Betrokkenheid
Loof vandag die Here dat Hy Hom verbind het om self Sy Kerk in stand te hou en dat Hy ons as lidmate juis daarvoor wil gebruik. Vra dat die Heilige Gees lidmate sal inspireer en motiveer om meer betrokke te raak by ons gemeente se verskeie bedieningsterreine, want iewers kan elke persoon se gawes en talente gebruik word.
VRYDAG 16 September Kenia
Bid vir vroue wat weens hul geloof in Christus slagoffers van mishandeling word. Bid dat hulle God se liefde en omhelsing van die Heilige Gees sal ervaar. Dat hulle Sy vrede beleef.
SATERDAG 17 September Teologiese Opleiding
Daar is baie kommentaar en standpunte in die media en dalk wanbegrip oor die lektore en opleiding van leraars by ons verskillende Universiteite. Kom ons bid ernstig dat saam met die suiwere Waarheid en Kennis, daar ook by elke student geroepenheid, passie, toewyding, erns en opregte gebed deel van hul vorming sal wees.
SONDAG 18 September Arbeidsbediening
Die hele arbeidswêreld behoort aan die Here. Mense se werk is vir Hom belangrik. Kom ons bid vir vrede, hardwerkendheid, geregtigheid en versoening by almal wat werk het. Bid ook vir mededeelsaamheid en sorg tussen werkloses en werkendes. Ons offers gaan vandag vir die werkers in hierdie sinodale bediening.
MAANDAG 19 September Huishulpe en Tuiniers
“Here, Laat ons wat in ‘n lewende verhouding met U staan, teenoor hulle wat so naby ons leef en werk, getuig van U Verlossing vir elkeen. Leer ons om U liefde teenoor hulle uit te leef, laat ons werklik dissipels vir U wees en hulle na U te lei.”
DINSDAG 20 September God se Skepping
Dank God vir die voorreg om ‘n nuwe dag te kan ervaar en om die pragtige natuurskoon te aanskou. Heer help ons, om as rentmeesters van u skepping, U handewerk te waardeer en ook met verantwoordelikheid te versorg. U is groot o Skepper-God. (Ps 8)
WOENSDAG 21 September Die Kerk van Jesus
Ons dank God vir Sy Kerk – die Heilige Algemene Christelike Kerk wat ons Sondae bely. Dankie dat Hyself Sy Kerk in stand hou en mag ons lewende stene wees wat tot Sy eer sal leef en getuig. Mag Jesus se gebed vir eenheid in Joh 17:21 in ons harte leef.
DONDERDAG 22 September Arbeiders in die oesland
Ons bid vir sendelinge wêreldwyd mag hul daagliks krag en wysheid ontvang om Jesus aan ‘n stukkende wêreld voor te stel. Dat God elke gesprek of preek sal seën en harde harte sal verander. Bid vir hul dierbares, gesondheid en volharding in hul roeping.
VRYDAG 23 September Indië
Bid vir die beskerming van die prokureurs wat vroeër vanjaar gedreig is omdat hulle probeer het om ses vervolgde Christene by te staan. Bid dat God meer mense sal oproep om ‘n stem vir ons vervolgde broers en susters in Indië te wees. “Here seën u kerk in Indië.”’
SATERDAG 24 September Erfenisdag
Hierdie dag word op vele maniere gevier, ons as gelowiges het egter ‘n ewige erfenis. Kom ons sê dankie vir die ewige hoop wat ons erfenis is: “Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. (Kol 1:12)”
SONDAG 25 September Bediening aan Jode
Ons dink vandag aan ons Joodse Christene en dank God dat hulle hul Messias gevind het. Mag al meer Jode en mense van ander godsdienste deur ons getuienis en ons lewens die Weg, die Waarheid en die Lewe ontdek. Bid vir alle bedienings wat na vreemdes uitreik.
MAANDAG 26 September Geestelike Groei
Kom ons bid vandag vir geestelike groei en volwassenheid by al ons lidmate, oud en jonk
en dat geleenthede vir onderrig, Bybelstudie en gebed aangegryp sal word om ons geestelik te laat lewe en groei. (Kol. 4:12)
DINSDAG 27 September Christelike Televisie
Prediker: Ds. Danie Goosen
Skriflesing: Spreuke 22: 1 – 2, 8 – 9, 22 – 23
Tema: Triomfeer!
Begeleiding: Mev. Annalene de Swardt
Liedere:
Lied 202: 1 – 3
Flam 406: 1 – 3