Stof tot nadenke: “Oorwin droefheid”

”Want die droefheid, volgens die wil van God, bewerk inkeer, wat tot verlossing lei, en waaroor niemand ooit spyt is nie; maar wêreldse droefheid lei tot die dood.”

(2 Kor. 7: 1020)

Wat maak ons bedroef?

Almal van ons ervaar droefheid deur die loop van ons lewe. Dit kan die verlies van ‘n geliefde wees. Dit kan die verlies van iets wat vir ons kosbaar is, wees. Dit kan die ongenaakbaarheid van die wêreld wees. Dit kan die seer en pyn van ‘n ander wees. Wat dit ookal vir jou beteken, en wat jou bedroef maak, ons almal moet dit verwerk en voort gaan met ons lewens.

2 Korintiërs 7 stel dit duidelik dat droefheid wat oor ons pad kom, volgens die wil van God plaasvind. Ons word nooit gevrywaar van daardie seerkry nie. Daardie magtelose hartseer wat jou beetpak, wanneer dit met jou gebeur nie. Ons word soms lamgelê en dink dat ons nie weer sal kan aangaan nie. Maar wat ookal met ons gebeur dit is die werk van die Here om ons te lei na ons verlossing. Want Hy het ons so lief gehad dat Hy sy eniggebore seun gegee het om vir ons sonde te ly.

Jesus Christus het ook die droefheid ervaar, en verstaan ons lyding in die geval van hartseer.

Teksverse:

“Toe Hy ná sy gebed opstaan, gaan Hy na sy dissipels, en vind hulle van droefheid aan die slaap.” (Luk. 22: 4520);

“Hy is verag, deur mense verlaat, ‘n mens van smarte, bekend met siekte, soos iemand vir wie ‘n mens jou gesig verberg. Hy is verag, en ons het hom nie geag nie. Nogtans, ons siektes, hy het dit gedra, en ons smarte, hy het dit op hom gelaai. Maar ons het hom beskou as iemand wat gekasty word, geslaan deur God, en verneder. Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor pns sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar genesing vir ons..” (Jes. 53: 3-520);

“As ek vrees vir ‘n verskrikking, dan kom dit my oor; dit waarvoor ek bang is, oorval my.” (Job. 3: 2520)

Die doel van droefheid?

Die doel van droefheid is om ons kans te gee om daardeur te werk, en steeds te besef dat God die Vader ons liefhet. Dit is God wat vir ons weer bemoedig, tydens, en na enige droefheid wat ons teëgekom het.

Soos Job moet ons steeds besef dat ons die Here kan loof, te midde van hartseer. Dit is Hy wat vir ons die vertroosting bewerkstellig. Ons moet besef dat hierdie hartseer en pyn slegs van tydelike aard is. Dit is die ewige nalatenskap, wat vir ons deur die verlossingsdaad van Jesus Christus bewerkstellig is, wat belangrik is.

Hoe kry ons dit reg? Ons vra die Heilige Gees om ons te kom vul met die vrede wat alleen van God af kom! Alleen is ons nie in staat daartoe nie. Die Here se nabyheid, wat ons altyd kan ervaar, is die enigste hoop wat ons het, in die wete dat God ons lief het. Elkeen van ons!

Teksverse:

“Want kyk nou net watter toewyding julle droefheid volgens die wil van God vir julle bewerk het: ja, watter verontskuldiging, watter verontwaardiging, watter ontsag, watter verlange, watter ywer, watter bestraffing! In elke opsig het julle getoon dat julle ontskuldig is wat hierdie saak betref.” (2 Kor. 7: 1120);

“Maar God, wat die neerslagtiges bemoedig, het ons bemoedig.” (2 Kor. 7: 620);

“Dan sal jongvroue vreugde vind in kringdanse, ook jong manne en ou manne saam met hulle. Ek sal hulle rou verander in vrolikheid; Ek sal hulle troos, en aan hulle vreugde gee in die plek van droefheid…” (Jer. 31: 1320);

“Die Gees van my Heer, die Here is op my, omdat die Here my gesalf het. Hy het my gestuur om ‘n goeie boodskap te bring aan magteloses, om dié met gebroke harte se wonde te verbind, om dié wat weggevoer is se vrylating aan te kondig en bevryding vir dié wat geboei is, om die genadejaar van die Here aan te kondig, ons God se dag van wraak, om almal wat rou, te troos,…” (Jes. 61: 1-220);

“Want ons ligte en tydelike verdrukking bewerk vir ons ‘n gewigtige en allesoortreffende ewige heerlikheid.” (2 Kor. 4: 1720);

“Broers, ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees oor diegene wat ontslaap nie, sodat julle nie treur soos ander mense wat nie hoop het nie.” (1 Tes. 4: 1320);

“Hy het gesê: “Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek na die skoot van die aarde terugkeer. Die Here het gegee en die Here het geneem. Mag die Naam van die Here geprys word!” (Job 1: 2120)