“Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: ‘Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ”
Matt. 13: 30
Ons weet dat ons hele lewe hier op aarde ‘n proses van groei is. Van voor geboorte vind daar groei plaas vanaf saad. Ons ontwikkel in baie klein mensies en ons hou nooit op groei tot ons fisiese volwassenheid bereik nie. Tydens hierdie fisiese groei proses, en selfs nadat ons fisiese volwassenheid bereik het, moet ons egter ook leer groei in begrip van ons aardse bestaan. Ons moet leer en groei om ook emosionele volwassenheid te bereik. Sodoende leer ons om werklik te lewe. Daar is ‘n bekende Ierse spreekwoord: “Dit maak nie saak hoe lank jou oupa was nie, jy moet self groei.” So moet ons elkeen groei tot volle potensiaal, wat ons slegs kan doen, as ons besef dat ons nooit regtig op ‘n punt kom waar ons kan ophou groei in hierdie lewe nie.
Daar is vele gesegdes en spreekwoorde oor groei, waarvan die een van Robert Browning nogal treffend is. “As jy tevrede is met wat jy is, het jy alreeds ophou groei. As jy sê’ “Dit is genoeg!” is jy verlore. Hou aan met loop, beweeg immer vorentoe, streef na die eindstreep. Moenie op die pad stilhou nie, of terugdraai nie, of van die pad afwyk nie.” So is ook die gesegde van Frank A Clark baie toepaslik op hierdie aardse bestaan: “Ons vind veiligheid en vertroosting tussen hulle wat met ons saamstem, maar groei tussen hulle wat van ons verskil.” In Matt. 13: 30 se gelykenis van die koring en die onkruid, hoor ons duidelik in die woorde van Jesus Christus ‘dat die onkruid en die koring saam sal groei op die land, maar dat dit aan die einde van mekaar geskei sal word’. Ons moet dus groei in die teenwoordigheid van die wat anders as ons is en selfs soms vir ons wil verdring.
Die groei van ‘n gelowige Christen is nou gekoppel aan God. Want dis God wat die groei nader aan Hom, in ons bewerkstellig. IL de villiers het dit so mooi gestel: “Maar wat ons vir God doen, is deel van die koninkryk, sê Jesus. Dit groei en word ongemerk ‘n groot boom. Laat ons maar werk en glo: God sal laat groei. God voorsien die saad in ons lewens wat ons laat groei nader aan Hom.
“Ek het geplant, Appolos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei. Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk.” (1 Kor 3: 6-8); “God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer.” (2 Kor. 9: 10); “Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.” (Kol. 2: 19)
Wat is die belangrikste groeipunt vir ons lewens? Ons moet groei in die liefde. Liefde vir God en die liefde vir ons medemens. Daardie medemens waartussen ons geplaas is, deur God self. Dit is hoe ons nader aan God en Jesus Christus groei. Al kan ons as mense vergelyk word met die belangrike daaglikse speserye, soos sout, peper en ook ander kruie, vul ons mekaar aan om die perfekte samestelling vir God se verheerliking te bewerkstellig. Ons moet besef dat wanneer ons ons oorgee aan die groei wat God in ons bewerkstellig, maak dit vir ons die pad oop om meer soos Christus te wees.
“Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdelee pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homselfop in liefde.” (Eff. 4: 15-16); “Mag God on Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak! En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele.” (1 Tess. 3: 11: 13)
Laat ons groei in die liefde vir God en die liefde vir mekaar en dan sal ons dalk ook soos Israel van harte liefgehê kan word, wanneer God se toorn afgewend is. Want dan sal God vir ons wees soos die dou vir die plante, en ons sal geil kan groei en sterk wees soos die olyfboom.
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag. Die tweede is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Geen ander gebod is groter as dié twee nie.” (Mark. 12: 30-31); “Ek sal hulle van harte liefhê. Wanneer my toorn van hom afgewend is, sal Ek vir Israel wees soos die dou. Hy sal bloei soos ‘n lelie en hy sal vas staan soos die Libanon. Hy sal geil groei. Hy sal so sterk wees soos die olyfboom en hy sal ruik soos die plante van Libanon.” (Hos. 14: 5-7))


