“In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was woes en leeg, en donkerte was oor die oerwater. Maar die Gees van God het oor die water gesweef, en God het gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.”
Gen. 1: 1-3
Ons as Christene glo in die skeppings-’teorie’. Daar kan tog sekerlik nie eens ‘n stoel wees om op te sit, of ‘n tafel om by te eet, indien iemand nie die skeppingsdrang beleef, beplan en uitgevoer het nie. Hoe is dit dan vir mense moeilik om te begryp dat die perfeksie van die natuur, die dag en nag rotering van die aarde, die sonnestelsels, natuur se siklusse en die menslike liggaam, sonder enige twyfel, deur ‘n almagtige God geskep is. Nie eers die klere wat ons dra, die kos wat ons op ons borde opdis en die tegnologiese ontwikkellings van hierdie wêreld kan daar wees sonder ‘n skeppings drang, beplanning, en die uitvoer daarvan nie.
Hoe is dit dan so moeilik vir wetenskaplikes om te begryp dat al hulle navorsing, na die oorsprong van alles; slegs die soeke is na hoe God hierdie ongelooflike en asemrowende heelal, met alles wat daarop leef; binne-in die perfekte geskepte niches vir elke spesie, geskep het en laat werk, deur al die eeue van die aarde se bestaan heen (“God het gesê: “Laat daar ‘n gewelf wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen water en water. God het die gewelf gemaak, en Hy het die water wat onder die gewelf was, geskei van die water wat bo die gewelf was. Dit het so gebeur. God het die gewelf hemel genoem. En dit was aand en dit was oggend – die tweede dag.” (Gen. 1: 6-8)). Die werking van die natuur en die siklusse van dag en nag, seisoene, die weerstelsel en alles wat daarmee gepaard gaan, is in fyn balans beplan, geskep en word nog steeds daagliks so onderhou.Ons kan nie anders as om in verwondering te staan wanneer ons al die intrinsieke samestellings, en samewerking van organismes in elkeen se habitat waarneem nie (“God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit – gewasse wat saad gee, bome wat op land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin saad is.” Dit het so gebeur. Die land het toe groen plante voortgebring, gewasse wat saad gee volgens elkeen se aard, en bome wat vrugte dra waarin hulle saad is, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is.” (Gen. 1: 11-12); (“God het gesê: “Laat die water wemel met lewende wesens, en laat voëls oor die aarde vlieg langs die hemelgewelf. God het volgens hulle aard die groot seediere geskep en al die lewende wesens wat rondbeweeg, waarvan die water wemel, en alle vlieënde voëls, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is.” (Gen. 1: 20-21); (“God het gesê: “Laat die land lewende wesens voortbring volgens elkeen se aard: mak diere, kruipende diere en wilde diere van die land, volgens elkeen se aard.” Dit het toe so gebeur. God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens elkeen se aard, en al die diere wat op die grond kruip volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is.” (Gen. 1: 24-25)). Die liefde en versorging van die natuur se ouers van hulle kleingoed, is iets om na te streef in die mens se bestaan.
Dan besef ons dat deur ons skepping na die beeld van God, dalk ook dui op die skeppingsdrang wat in menige van ons skuil. Dit alles is vir ons die vertoonvenster van God se Almag. Hy wat nadat Hy ons geskep het (“God het die mens geskep na sy beeld, na die beeld van God het Hy hom geskep, manlik en vroulik het Hy hulle geskep.” (Gen. 1: 27)) ons so lief gehad het dat Hy sy eie unieke Seun gestuur het (“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seungegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, …” (Joh. 3: 16-17)), sodat ons nie verlore sal gaan nie, maar dat ons in Sy Liefde kan leef, deur Jesus Christus as Verlosser aan te neem. Dan kan ons ook seker weet dat die Heilige Gees ook vir ons as Trooster sal lei in hierdie, soms bitter moeilike omstandighede (“Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur. Hy sal julle in alles onderrig en julle herinner wat Ek vir julle gesê het. Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld word en bang wees nie.” (Joh. 14: 26-27)).