Stof tot nadenke: Stilte…

As die Here nie my hulp was nie, sou ek spoedig in die stilte gewoon het.

Ps. 94: 1720

Stilte, iets wat ons soms ongemaklik na woorde laat gryp. Ons weet nie altyd hoe om stilte te hanteer nie. Ons is so gewoond daaraan om ons woorde, so dikwels sonder nadenke, te laat vlieg; net omdat ons bang is vir stilte! Hoekom is dit so moeilik vir ons om ons denke en woorde te beteuel? Mens kan tog nie hoor wat gesê word, as jy nie stil raak om te hoor wat ‘n ander sê nie.

Wie sy naaste verkleineer, is sonder verstand, maar iemand met insig bly stil.” (Spr. 11: 1220);
’n tyd om te skeur en ‘n tyd om toe te werk; ‘n tyd om stil te bly en ‘n tyd om te praat;” (Pred. 3: 720);
Toe het ‘n groot stilte neergedaal en hy het hulle in die Hebreeuse taal toegespreek.” (Hand. 21: 4020)

Tog is dit stilte wat God van ons vra. Sodat ons kan luister na wat Hy vir ons wil sê. Hy wat selfs beheer het oor die winde en storms. Ook die storms van ons lewe. Daar word dikwels in die Ou Testament vir die volk gesê om stil te raak. Dis dan alleen wat ons ook God se stem kan hoor. Dis dan wat God ons kan seën met Sy wysheid soos die woorde van Job verseker.

Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Wees stil, bedaar!” Die wind het gaan lê, en daar het ‘n groot kalmte gekom. Hy vra toe: “Waarom is julle bang? Het julle nog steeds nie geloof nie?” Hulle is met diep ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”” (Mark. 4: 39-4120);
Wees stil voor die HERE, en krimp ineen van vrees voor Hom. Moet jou nie ontstel oor iemand wat sukses behaal op sy lewenspad nie, oor ‘n mens wat komplotte smee nie. Moenie kwaad word nie en laat vaar jou woede; moet jou nie ontstel nie, dit bring net kwaad. Want kwaaddoeners sal vernietig word, maar wie op die HERE wag – hulle sal die land besit.” (Ps. 37: 7-820);
God het my vrygekoop van die oorgang na die grafkuil; en my lewe mag hom in die lig verlustig.’ “Kyk, al hierdie dinge doen God selfs twee of drie maal met ‘n man, om hom van die grafkuil weg te keer, en die lig van die lewe te laat skyn. Gee aandag, Job! Luister na my! Wees stil, en ek sal praat! As jy woorde het, antwoord my! Praat want ek wil jou graag gelyk gee. Indien nie, luister jy dan na my! Wees stil, en ek sal jou wysheid leer.” (Job 33: 28-3320)

Moses het ook die volk Israel gemaan om stil te word voor God, net voor hulle uit Egipteland gered is. God se planne kom tot uitvoer, en ons is soos druppels in die diep blou see. Ons kan maar net stil word voor Hom, wat reeds eeue gelede vir ons die Verlosser laat kom het. Laat ons dan stil word voor God en met groot afwagting wag op die koms van die wederkoms van Jesus Christus, wat aan ons beloof is. Ons hoef nie in vrees te leef nie, maar kan rustig word soos Jakob, want God is te alle tye in beheer.

Maar Moses het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie! Staan stil en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle gaan bewerk. Want die Egiptenare wat julle vandag sien, sal julle nooit weer sien nie. Die HERE self sal vir julle veg. Julle moet net stil bly.” (Eks. 14: 13-1420);
Maar die HERE is in sy heilige tempel – wees stil voor Hom, o ganse aarde!” (Hab. 2: 2020);

Wees stil voor my Heer, die HERE, want die dag van die HERE is naby. Ja, die HERE het ‘n offer voorberei; Hy het sy genooides geheilig.” (Sef. 1: 720);
Wees stil voor die HERE alle mense, want Hy tree te voorskyn uit sy heilige woonplek.” (Sag. 2: 1320);
Maar jy, jy moenie bang wees nie, my dienskneg Jakob! Moet jou nie laat afskrik nie, Israel! Want kyk, Ek gaan jou verlos uit ‘n ver plek, jou nageslag uit die land van gevangenskap. Jakob sal terugkeer; hy sal stil en rustig wees, en niemand sal hom opjaag nie.” (Jer. 46: 2720)

Laat ons in afwagting en met gebed stil word, in hierdie Advent tyd in die kerklike jaar, voor God wat ons so lief gehad het dat Hy wil hê alle mense moet tot kennis kom van die almag en liefde van God, die Vader, Jesus Christus, die Verlosser, en die Heilige Gees wat ons leiding gee.

Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons ‘n rustige lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei. Dit is goed en reg in die oë van die God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens Christus Jesus, wat Homself as losprys vir almal gegee het, tot getuienis op die bestemde tyd.” (1 Tim. 2: 1-520);
Die dooies sal die Here nie loof nie, nie enige van hulle wat na die stilte afdaal nie. Maar ons, ons sal die Here prys, nou en vir altyd. Halleluja!” (Ps 115: 17-1820);