Stof tot nadenke: Ontvanklik?

As broers moet julle mekaar altyd liefhê. Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.

(Heb. 13: 1-3)

Vandag is die tema ‘ontvanklik? ’. Die begrip van ontvanklik word gedefinieer as die manier om iets met openheid, oplettendheid of gewillheid te ontvang, of te aanvaar. Wanneer ons ontvanklik is gee ons aandag aan die behoeftes van ander. Ons luister en kyk met empatie en begrip na ‘n ander se lewe. Dis om te probeeer verstaan hoe dit is om in die skoene van ‘n ander te staan. Dit is nie altyd vir ons maklik om so na ander te kyk nie. Ons is so gewoond aan ons manier van dinge doen; ons is so gewoond aan dinge wat by ons uitkyk inpas, dat ons dikwels nie die emosionele toestand en behoefte van ‘n ander raak sien nie. Wanneer ons lewe sonder uitermate rukke en stote gegaan het, besef ons nie altyd hoe ‘n ander getref kan word, en emosioneel afgebreek kan wees nie.

Tog wys Christus ons daarop om bedag te wees op die behoefte van ander, want in hoedanig ons goed was vir ander, het ons dit vir Christus gedoen!

Want Ek was honger, en julle het vir My iets te ete gegee; Ek was dors, en julle het vir My iets te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My as ‘n gas verwelkom; Ek was nakend, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My versorg; Ek was in die tronk, en julle het My besoek.” (Matt. 25: 35-36);
Aristargus, my medegevangene, stuur groete vir julle, en ook Markus, Barnabas se neef. Oor hom het julle reeds opdragte ontvang – wanneer hy by julle kom, verwelkom hom.” (Kol. 4: 10)

Menige mense het oor gasvryheid en om ontvanklik vir ander se behoefte te wees gedink en hier is ook enkele aanhalings wat gasvryheid en die implikasies daarvan op ons lewe so goed beskryf, en ek glo, wat ook weerkaats wat Jesus Christus van ons sou verwag. Om ontvanklik te wees om situasies wat anders is as waaraan ons gewoond is te hanteer, is dikwels moeilik, maar kan ongelooflik verrykend wees vir elkeen wat die waagmoed het om in onbekende waters in te beweeg. Ons mense bestaan gaan nie net oor onsself nie, maar oor wat elkeen deur die leiding van die Heilige Gees vir ander mense kan beteken. Ons moet besef dat ons onlosmaaklik aan mekaar verbind is vir ‘n rede; om mekaar te dien soos wat Jesus Christus so wonderlik vir ons kom demonstreer het. Hy was ingestel op die behoefte van ander in nood, en het hulle innig lief gehad.

Wanneer ons hart vol is van onsself, bly daar geen ruimte meer oor om ander gasvry te ontvang nie.” (Vader Deschacht); “Dis die diepste sin van gasvryheid: dat die een mens aan die ander ‘n rusplek verleen op sy groot tog na die ewige huis.” (Romano Guardini); “Gasvryheid gaan nie net oor ander mense nie, maar oor die vermoë om ‘n stukkie van jouself te kan weggee. Gasvryheid is ‘n konkrete manier waarmee jy die genade en goedheid wat jy van God ontvang het, kan aangee.” (Braam Hanekom); “Ons is deur ontelbare bande met mekaar verbind. Ek het ander nodig nie net omdat hulle soveel vir my kan doen nie, maar ook omdat ek soveel vir hulle kan beteken. Ek het oë en ore om ander te ontdek, voete om na hulle te gaan, hande om te gee en te help en ‘n hart om lief te hê.” (Phil Bosmans)

Jesus het besef dat dit nie vir ons maklik sal wees nie, en het dit vir ons duidelik kom sê, dat ons onsself sal verloor! Maar met watter onbeskryflike genade reddingsprys. Ons moet mekaar, en almal om ons liefhê! Dis slegs in innige liefde en deur leiding van die Heilige Gees, wat die omgee vir ‘n ander jou in staat stel om jouself te verloën, en elke dag die kruis op te neem. Laat ons elke dag die genade gawe van die Vader, die Seun en die Heilige Gees in gebed vra, sodat ons die vermoë kan ontwikkel om ontvanklik te wees vir mense wat anders is, en met empatie die nood van ander raak te sien en te verlig; en dit elke dag deel van ons lewe te maak.

In al hulle nood was ook Hy in die nood. Die Engel van sy teenwoordigheid het hulle verlos. In sy liefde en medelye was dit Hy wat hulle vrygekoop het. Hy het hulle opgetel en hulle gedra, al die jare van lank gelede af.” (Jes. 63: 9);
Toe het Hy vir almal gesê: “ As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg; want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red. Want wat help dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins bekom, maar homself verloor of skade aangedoen het?” (Luk. 9: 23-25);
Bo alles moet julle mekaar innig liefhê, omdat die liefde ‘n menigte sondes bedek”. Wees gasvry teenoor mekaar, sonder om te mor.” (1 Pet 4: 8-9)