Stof tot nadenke: “Hou vas aan die Evangelie”

En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus.

(Joh. 17: 320)

Waarom ons moet vashou aan die Evangelie?

Die woorde van die evangelie van Jesus Christus is waarheid. Dit dra die verlossingsboodskap vir elkeen van ons. Daar is geen ander God wat die mensdom liefhet, tot so ‘n mate dat Hy ons as mense wou verlos van ons sonde dade, en om ons verhouding met Hom te herstel. Dit is God wat sy hand na ons toe uitgereik het!

Jesus Christus het vir ons elkeen wat in Hom glo, verlossing gebring. Dié evangelie wat deur die dissipels en apostels na die uitstorting van die Heilige Gees verkondig is. Dit is weer Koningkrykstyd, in die kerklike kalender, en dit vra dat elkeen van ons ons geloof in die evangelie moet verdiep.

Jesus Christus het die dissipels en apostels die evangelie wat God, die Vader, deur hulle verder wou versprei, geleer. Dit is hierdie waarheid waaraan ons moet vashou. Ons moet ook leer om ander mense deur die bril van ons eie verlossing te sien. Dit is in die wete dat ons hierdie genade van God ontvang het, wat ons sal dring om die evangelie van Jesus Christus verder uit te dra en uit te leef.

Teksverse:

In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is. DIe Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid.” (Ef. 1: 13-1420);

Want so lief het God die wêreld gehaddat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word. ” (Joh. 3: 16-1720)

Hoe hou ons vas aan die Evangelie?

Hoe hou ons vas aan hierdie evangelie? Ons moet in meelewing met medegelowiges in eensgesindheid leef. Ons moet sterf aan onsself en in die nederige besef van ons eie swakhede, Jesus Christus en die Heilige Gees se oproep tot aktiewe betrokkenheid, navolg. Ons moet wegdraai van enigiets wat ons aandag aftrek van die enigste ware, en drie-enige God.

Ons moet in ooreenstemming leef met die evangelie, en voorbeeld van Jesus Christus, want daar is geen ander evangelie nie! Ons moet ook soos CS Lewis kan sê: ‘Ek glo in die evangelie van Jesus Christus net soos ek glo dat die son vanoggend opgekom het – nie omdat ek daarna kan kyk nie, maar omdat ek daardeur na alole ander dinge kan kyk.’ Ons ontwikkel die vermoë om ook die son oor ander te sien opkom en besef dat Jesus Christus ons kom dring het om die goeie nuus van die evangelie werklik te verstaan en te leef!

Laat ons vashou aan die enigste Skepper God. Hy wat alles wat ons het, as genadegawes vir ons gegee het, uit liefde.

Teksverse:

Die geheimenisse is nie aan vorige geslagte onder die mensdom bekend gemaak, soos dit tans deur die Gees aan sy helige apostels en profete geopenbaar is nie, naamlik dat heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is. Van dié evangelie het ek dienaar geword, ooreenkomstig die gawe van God se genade wat aan my betoon is volgens die werking van sy krag.” (Ef. 3: 5-720);

…op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag. Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei.”(Kol. 1: 5-620);

…Hoe julle omgedraai het na God, weg van die afgode, om die lewende en ware God te dien, en om sy Seun wat Hy uit die dode opgewek het, uit die hemel te bly verwag – Jesus, wat ons red uit die oordeel wat kom.” (1 Thes. 1: 9-1020);

Nog net dit: Tree so op dat dit die evangelie van Christus waardig is, sodat, of ek kom en julle sien, of nie teenwoordig is nie, ek aangaande julle omstandighede mag hoor dat julle in één gees vasstaan, en een van hart en siel saam stry vir die geloof in die evangelie,…” (Fil. 1: 2720)