Stof tot nadenke: Herinneringe van Christus

Daarom sal die Heer self vir julle ‘n teken gee; Kyk, die jongvrou is swanger, en gaan ‘n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel noem.

Jes. 7: 14

Ons is in die adventstyd vir die Christus fees. Reeds meer as twee eeue weet ons dat Jesus Christus na ons gekom het as die Immanuel, wat reeds lank te vore deur Jesaja aan Israel bekend gemaak is. Watter uitstaande herinneringe het elkeen van ons van hierdie mens wat die wêreld vir ewig kom verander het, om vir ons redding te bring? Dis wanneer ons hierdie reddende genade van God ons eie gemaak het, dat ons begin soek na ‘n beter begrip van Jesus Christus se bestaan. Ons wonder hoe ons hierdie mens navolg, te midde van soms moeilike omstandighede, in ‘n wêreld wat alles in hulle vermoë doen om die beeld van Christus in ons gemoedere te verdraai.

Hierdie seuntjie is deur die Heilige Gees verwek in die maagd, Maria, nadat die engel Gabriël haar verwittig het van die vooruitsigte (“Die engel het na haar gegaan en vir haar gesê: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou”. Sy was verward oor die woorde en het gewonder wat hierdie groet tog kon beteken. Die engel het vir haar gesê; Moenie bang wees nie Maria, want jy het genade by God gevind. Kyk, jy sal swanger word en aan ‘n seun geboorte skenk. Jy moet hom Jesus noem.” (Luk. 1: 28-31)). Sy koms is raakgesien deur sterrekykers en skaapwagters is in verwondering gelaat deur die aankondiging van die engele (“Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here.” (Luk. 2: 11)). Hy is gebore in die nederige omstandighede van ‘n stal. In die proses het die die woede van Herodus opgevlam, omdat hy nie onttroon wou word nie, en Josef, Maria en die babaseuntjie, Jesus, moes vlug vir hulle lewens. Hy het dus sy eerste jaar in die vreemde deurgebring (Matt. 2). Eers na Herodus se dood kon hulle terugkeer, maar steeds nie na die geboorte dorp, Bethlehem nie, maar na Nasaret in die landstreek, Galilea (Matt. 2: 23).

Sy ouers was wetsgetroue mense en het die wette van Moses noukeurig gevolg. Jesus is besny (“Na afloop van agt dae moes die Kindjie besny word.” (Luk. 2: 21)), hy is as eersteling seun in die tempel aan die Here gewy deur offerhande (“Soos in die wet van die Here geskryf staan: “Elke eerstelingseun wat gebore word, moet aan die Here gewy word. ” (Luk. 2: 23)). Die woorde van die Gees gevulde man, Simeon, by die tempel, nadat hy Jesus in sy arms geneem het, het vir Josef en Maria in verwondering gelaat (“Nou, Here, kan U u dienskneg in vrede laat sterf, soos U gesê het. My oë het inderdaad u verlossing gesien, wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het, ‘n lig wat vir die nasies tot openbaring dien, en eer aan u volk Israel.” Sy vader en moeder was verstom oor die dinge wat oor Hom gesê is. Simeon het hulle geseën en vir Maria sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en opstaan van baie mense in Israel, as ‘n teken wat betwis word, sodat die bedoelinge van baie mense aan die lig kan kom. En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.”” (Luk 2: 29-35)). Dit moes voorwaar ‘n swaard deur haar siel gewees het, toe sy Hom aan die kruishout sien hang het (“Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was, wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, kyk daar is u seun!” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk daar is jou moeder!” En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.” (Joh. 19: 26-27)), en geweet het het dat Hy selfs in sy doodsure aan haar hartseer gedink het.

Die gereelde jaarlikse Pasga is getrou deur Jesus Christus se ouers bygewoon in Jerusalem, en dis hier waar Hy op twaalfjarige ouderdom, sonder sy ouers se medewete, agtergebly het. Hulle het hom eers dae later gevind. As ouer, kan mens jou die angs voorstel wat deur Josef en Maria se gemoed ere gegaan het. Hulle het Hom in die tempel gevind tussen die leermeesters. Daar het hy geluister en vrae gevra. Hier is daar herinneringe gelaat van Sy insig en Sy antwoorde (“Ná drie dae het hulle Hom op die tempelterrein gekry, waar Hy tussen die leermeesters sit en luister en hulle uitvrae. Almal wat na Hom geluister het, was verstom oor sy insig en sy antwoorde. ” (Luk 2: 46-47)). Sy antwoord op sy ouers se angstigheid is die bekende antwoord “Waarom het julle na My gesoek? Het julle nie geweet dat Ek met die dinge van my Vader besig moet wees nie?” (Luk. 2: 49). Tog het Hy saam terug gegaan en was aan hulle gehoorsaam.

In Lukas 2: 52 kry ons ‘n klein blik op die jong Jesus (“Jesus het steeds wyser en al hoe meer volwasse geword en toegeneem in guns by God en onder die mense.”). Hy was dus ‘n geliefde onder die mense. Mens staan ook in verwondering by die eerste roeping van die dissipels, langs die see van Galilea. Hy moes ‘n oortuigende en aanneemlike persoonlikheid gehad het, as mense hulle aardse lewe net so kan los en in Sy voetspore volg, om eerder ‘vissers van mense’ te word (“Jesus sê toe vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense laat word. Hulle het onmiddelik hulle nette gelos en Hom gevolg.” (Mark. 1: 17-18)). Waar Jesus Christus, die Immanuel, ookal beweeg het en gepraat het, het die mense in verwondering gestaan en luister.

Van hier af is die herinneringe aan die werk van Jesus Christus legio, genesings, uitdryf van bose geeste, opwekking van afgestorwenes, begrip en leiding van mense en hulle seer in hierdie wêreld; tot so ‘n mate dat elkeen wat deur Hom geroep word, nie nee kan antwoord nie. Die Seun wat deur die genade van die Vader, mens kom word het, sodat ons die ewige lewe kan beleef, sou ons die regte keuse maak. Ook het Hy ons nie alleen gelaat toe hy opgevaar het nie. Die Heilige Gees was gestuur om Sy werk aan te voor in mense se lewens as Hulp, Trooster en Leidinggewer in moeilike omstandighede en te alle tye.

Die herinneringe aan wat Jesus Christus vir elkeen van ons kom doen het hier op aarde, is die herinnering wat elkeen van ons, wat in Hom glo, sal bybly en elke jaar weereens laat uitsien na die herinnering aan Sy geboorte.