Stof tot nadenke: “Die koninkryk van die hemele”

Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele.

Matt. 7: 21

Ons is nou, na Pinkster, in die Koninkrykstyd op die kerk kalender. Wat beteken dit vir ons? Waarvan praat die Bybel wanneer daar na die koninkryk van die hemele verwys word? Waarvoor is ons veronderstel om ons in hierdie tyd te beywer? Hoe moet ons hierdie tyd benader? Wanneer ons die Bybel lees, sien ons dat dit net Matteus is wat deurgaans verwys na die koninkryk van die hemele, terwyl Markus en Lukas verwys na die koninkryk van God. Ons besef dat dit die hoof rede was vir Jesus Christus se koms na die aarde, sodat ons van ons sondes verlos kan word; en dit tot eer en verheerliking van God se koninkryk!

Bekeer julle want die koninkryk van die hemele is op hande.” (Matt 3: 2);
Van toe af het Jesus met sy verkondiging begin en gesê “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele is op hande.” (Matt. 4: 17);
Tot en met Johannes het die Wet en die Profete gegeld, maar van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen probeer met alle mag daar ingaan.” (Luk16: 16)

Jesus het die dissipels die opdrag gegee om die evangelie van God te gaan verkondig. Tot so ‘n mate dat die Woord van God tot aan die uithoeke van die aarde sal versprei. Tog was Sy aanvanklike opdrag dat hulle net na die Jode toe moet gaan. Hierdie opdrag het later, na die uitstorting van die Heilige Gees, verander, om ook die uithoeke van die aarde in te sluit.

Jesus het hierdie twaalf uitgestuur, nadat Hy hulle die volgende opdragte gegee het: “Moet julle nie begewe op ‘n pad na die heidene, en moenie in ‘n Samiritaanse dorp ingaan nie, maar gaan eerder na die verlore skape van die huis van Israel.”Gaan verkondig die volgende, ‘Die koninkryk van die hemele is op hande.’” (Matt: 10: 5-7);
Wie dus een van die geringste van hierdie gebooie afskaf en die mense so leer, sal die geringste in die koninkryk van die hemele genoem word. Maar wie dit onderhou en ander daarin onderrig, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. ” (Matt 5: 19);
Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” (Hand. 1: 8)

Is daar enigiets wat ons kan doen om die koninkryk van die hemele te aanskou? Klaarblyklik nie daadwerklik nie. Ons moet soos kindertjies glo. Onomwonde, en in ootmoed moet ons die genade van God aanvaar. Christus waarsku teen daadwerklike aksie, want nie elkeen wat ‘Here, Here’ sê, sal in die konikryk van die hemele ingaan nie. Ons moet in volkome opregtheid en afhanklikheid voor God staan, die Verlossing van Jesus Christus aanvaar en die leiding van die Heilige Gees erken en getrou volg. Ons moet volkome oorgee aan die verandering wat in ons lewens deur die Heilige Gees bewerkstellig word deur ‘n ‘Nuwe geboorte’, want alleen onder die leiding van die Heilige Gees kan ons sterf aan ons ou self, en die wil van God soek.

Want Ek sê vir julle , as julle geregtigheid nie aansienlik meer is as die van die skrifkenners en die Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie.” (Matt. 5: 20);
Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele.” (Matt. 7: 21);
Waarom noem julle My ‘Here, Here!’ maar julle doen nie wat Ek sê nie?” (Luk.6: 46);
“Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.” (Mark. 10: 15);
Amen, Ek sê vir julle: Onder diegene wat uit vroue gebore is, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie; en tog is die geringste in die koninkryk van die hemele groter as hy.” (Matt. 11:11);
Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle ook julleself bewapen met dieselfde insig, naamlik dat iemand wat liggaamlik gely het, met die sonde klaar is. Daarom laat hy hom, gedurende die oorblywende tyd van sy bestaan, nie langer deur menslikke begeertes lei nie, maar wel deur die wil van God.” (1 Pet 4: 1-2)

Ons moet besef dat almal streef om die ewige lewe te beërf, maar dit is God alleen wat dit aan ons kan gee! Die heel belangrikste is dat ons onder leiding van die Heilige Gees, na die koninkryk van God moet soek, en ons nie bekommer oor die aardse dinge nie.

Tot en met Johannes het die Wet en die Profete gegeld, maar van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen probeer met alle mag daar ingaan.” (Luk. 16: 16);
Dit is immers alles dinge waarna die nasies van hierdie wêreld soek; maar julle Vader weet wat julle nodig het. Soek eerder sy koninkryk, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die koninkryk aan julle te gee.” (Luk. 12: 30-32)