Missie Japan: Konnichiwa Nuusbrief – 29 June 2021

Konnichiwa Nuusbrief  Liewe ondersteuner,
Met die toename van Covid-19 in Suid-Afrika, dink en bid ons voortdurend vir u. Ons hoor van meer en meer mense waarvan ons weet wat weens Covid-19 siek geword het. Dit is kommerwekkend dat die daaglikse hoeveelheid infeksiestelling teen so ‘n tempo styg. Ons is bewus daarvan dat Suid-Afrika na vlak 4 geskuif is en besef dit hou verskeie uitdagings in.


 
Ons het onlangs ‘n kort boodskap by die Sondagskool gedeel. Die boodskap was onder andere waar God manna vir die Israeliete in die woestyn voorsien het. In die middel van ‘n woestyn het God in die behoeftes van Sy volk voorsien. Dit is ‘n bekende verhaal, maar weereens is ons daaraan herinner dat die daaglikse brood wat die Here vir ons gee, voldoende is vir elke dag. Die geloof, genade en deursettingsvermoë wat ons nodig het, is genoeg vir vandag.
    Missie Japan bestuur, het vanweë die huidige stygende Covid-19 syfers in Suid-Afrika en die onsekerheid oor die nabye toekoms in die land, besluit om ons vroër na Suid-Afrika toe te laat vlieg.

Hierdie besluit is gemaak om te verseker dat ons wel hierdie jaar Suid-Afrika, ons ondersteuners en ons familie kan besoek. Ons is dankbaar hiervoor!
Ons vorige vlugte was beplan vir 15 Julie, nou vertrek ons reeds DV 1 Julie uit Japan en land in Suid-Afrika op 2 Julie.

Ons voel baie opgewonde om na Suid-Afrika te kan kom, hoewel ons ook ‘n bietjie oorweldig voel met alles wat gedoen moet word voordat ons uit Japan vertrek. Ons is tans albei besig met drie teologiese vakke deur die “South African Theological Seminary”. Dit beteken dat ons tussen die pakkery, die PCR-toets en afhandeling van ander verantwoordelikhede, tyd moet inruim vir take en eksamen-voorbereiding. 

Ons PCR-toets is vir Woensdag 30 Junie bespreek. Ons beplan om DV Vrydagmiddag in Suid-Afrika aan te kom en vir tien dae te self-isoleer.  Soos ons die kweekskoolstudente, lidmate van Kita Kobe gemeente en vriende groet en afskeid neem, word ons herinner aan ons innige liefde vir hierdie land en die ‘Japannese familie’ wat die Here aan ons gegee het. Ons sien uit na die moontlikheid om met u oor ons lewe en bediening in Japan te deel. Ons besef dat ons deputasie-tyd in Suid-Afrika uitdagend mag wees as gevolg van Covid-19, maar ons sal probeer om kreatief ons tyd in Suid-Afrika te benut.   Sien hieronder fotos van bedieningsgeleenthede waarby ons die afgelope maand betrokke was.  Nadine deel ‘n boodskap in Japannese by die Sondagskool.  Elmar deel ‘n boodskap in Japannese by die Sondagskool.  Elmar en Ansaki san (‘n eerstejaar kweekskoolstudent)  Ons vorige taal-juffrou, Kitagawa sensei, het tee kom drink.   Nadine en juffrou Kitagawa  Elmar en juffrou Kitagawa  Weeklikse tennis oefeninig