Makhatini Nuus: Januarie 2023

(Spesifiek aan vennootskap gemeentes.)

Die afgelope Sondag was die eerste geleentheid vir my in 2023 om weer ‘n erediens te lei. Tydens die diens sing gogo Mthembu, soos gebruiklik, ‘n lied vir die gemeente. Philemon wat langs my sit, lig my in dat hy nie verstaan wat sy sing nie, en daarom nie vir my kan tolk nie. Sy sing ‘n lied in Tonga. Sy kom eintlik oorspronklik vanaf Mosambiek. Ongeag die verskil in taal en kultuuragtergronde, beleef ons saam die teenwoordigheid van die Here. Ons is weer tuis in Makhathini!!!!

Dankie vir elkeen wat saam met ons die pad stap!

Ek deel sommer net ‘n paar gedagtes hier aan die begin van die jaar.

  • Onthou die vennootskap vergadering van 7 Oktober 2023. Die beplanning is dat die vergadering vanjaar in Hartenbos omgewing sal wees.
  • Ons beplan nie vanjaar gemeente besoeke tydens Pinkster nie. Dit is tyd dat die vennootskap gemeentes ‘n slag hier kom kuier. Christopher Carelse is in proses om die moontlikheid te ondersoek om so ‘n toer na Makhathini te reël.
  • Bid besonder vir Lucky Kunene. Hy hoop om die einde van hierdie jaar sy teologiese studies te voltooi, sodat hy vroeg volgende jaar as ‘n voltydse leraar van die gemeente bevestig kan word.
  • Met die ander medewerkers (Bheka, Themba, Bonginkosi en Baba Ngwenya) gaan dit almal baie goed. Ek is baie opgewonde om te verneem dat hulle gereeld ontmoet en die “Bible GPS” kursus (voorloper tot Vertitas kursus) saam deur werk. Ons het volgende week ons eerste maandelikse byeenkoms en dan sal ek mooi hoor wat alles in die hart leef. Baba Daliso Kunene (afgetrede leraar) help ons ook nog hierdie jaar as ‘n voltydse werker.
  • Die eerste uitreikgroep arriveer einde Februarie. Die studente van “Global Challenge Academy” kom vanjaar vir hul twee weke praktiese opleiding na Makhathini. Ons gaan met die groep fokus op uitreikgeleenthede. Ons vertrou die Here vir ‘n besonder geseënde tyd. Ander groepe wat reeds bevestig het, is Wesvalia Hoërskool van Klerksdorp wat die week van 18 tot 23 Junie hier sal wees en die studente van UWK verwag ons 1 tot 9 Julie.
  • Lungani Mandlakazi is nou reeds vyftien jaar werksaam as Sosiale werker in die gemeente. Ons vertrou saam met hom vir die nodige fondse om vanjaar ‘n omvattende opleidingsprogram met die Sorgwerkers te deurloop. (Mediese en sanitere middele is altyd ‘n behoefte.)
  • Themba Mahlangu as kinder-evangelis, het in beplanning om vanaf 3 tot 14 Julie ‘n Tutor kursus aan te bied vir kinderwerkers, soos met die hulp en begeleiding van Dirk en Thalita Coetsee van Petra College as aanbieders. Terwyl Dirk hier is, gaan hy ook sommer ‘n paar sessies inwerk met gemeente leiers, met die tema “Intergenerasie bediening”.
  • Die oes van die bloekomplantasie vorder baie goed en bring ‘n inkomste in. Daar lê nog vir ons groot uitdagings voor in hierdie jaar, want die gedeelte van die plantasie wat gebrand het, sal verwyder moet word vanuit die plantasie. Dan sal ons ook moet besluit of ons die plantasie moet herplant (alle aanduidings is dat dit die beste is) en of ons dit so wil los vir ‘n verdere ses jaar.

Hierdie skrywe reflekteer geensins ‘n lys van behoeftes in ons midde nie. As enige iemand meer “detail” inligting wil bekom, is jul welkom om my te kontak. Daar is natuurlik baie geleenthede om praktiese onderhouds werk te doen. Daar is veral ook ‘n behoefte aan meer gespesialiseerde werk soos loodgieterwerk, skrynwerker werk en elektriese werk.

Groepe of individue wat by die bediening wil betrokke raak, sommer net wil kom kuier of iets daadwerkliks wil doen, is welkom om my te skakel by 0825164437 of per epos weshuis7@gmail.com. Ons gesels graag.

Baie dankie

Louwrens van der Westhuizen