1 September – Sondag – Biddag vir Dowes
Ons offer vandag is vir die instituut vir Dowes en bid ons vir hulle wat die Bybel op ‘n ander manier verstaan en ook vir die hulp wat aan hulle verleen word om met hierdie gestremdheid te kan funksioneer in die samelewing.
2 September – Maandag- Lente
September is die begin van lente en sing die aarde hul lied en begin die bloeisels en groenigheid hul kleur te wys. Bedank die Skepper vir sy volgehoue sorg en lenteprag en fees van ‘n nuwe begin.
3 September – Dinsdag – Kerk projekte
Ons bid vir alle projekte wat in ons kerk geloods word en dat dit deur U geseën sal word. Ons dank U vir lidmate wat getrou is met die Kategese-klasse, projekte, sopkokers, nasorg-aktiwiteite, gebede groepe en bid vir kreatiewe idees, geduld en liefde om hierdie groot werk te doen.
4 September – Woensdag – Bybelvertaling
Daar is miljoene mense wat nog nie een woord van die skrif in hul eie taal gehoor of gelees het nie. Bid dat die Bybel binnekort in meer tale vertaal sal word en dat daar mense is wat dit daar buite sal deel.
5 September – Donderdag – Mediese personeel
Bring mediese personeel in hospitale, noodeenhede en nasorg fasiliteite in gebed na God. Bid vir hulle vir krag, akkurate diagnoses, geduld en liefdevolle sorg aan hul pasiënte.
6 September – Vrydag – Oorbesteding
Bid teen die neiging van oorbesteding en eerder te koop volgens ons behoeftes asook die behoeftes van die mense in nood.
7 September – Saterdag – Werksgeleenthede
Bid vir werksgeleenthede vir die studente wat hulle studies voltooi en hul grade, diplomas of sertifikate ontvang het. Bid ook dat hulle hul lewe en toekoms aan God sal toevertrou vir die regte geleenthede en leiding.
8 September – Sondag – Gemeente Instandhouding
Ons bid dat die leiers die regte besluite sal neem om ons kerk in stand te hou en ook om die fondse op die regte werk te spandeer en aktiwiteite te priotiseer. Ons bid ook dat die gemeente sal gee vir hierdie nodige werk.
9 September – Maandag – Gevangenes
Bid dat gevangenes, veral jongmense, ‘n persoonlike openbaring van die liefde van Christus sal ervaar. Ons bid dat hulle harte ontvanklik sal word en dat hulle gewillig sal wees om te leer en getrou aan die rehabilitasie projekte sal deelneem.
10 September – Dinsdag – Geestesgesondheid
Ons samelewing plaas baie druk op mense om te presteer. Ons bid vandag vir angs en spanning wat ervaar word a.g.v. die druk wat sosiale media plaas op die samelewing om onnatuurlik te presteer.
11 September – Woensdag – Verslawing
Ons bid vir soveel mense wat vasgevang is deur een of ander vorm van verslawing soos alkohol, dwelms, kos, tegnologie of slegte gewoontes. Vra vir die oortuiging van die Heilige Gees om hulle uit die duisternis na die lig te bring.
12 September – Donderdag – Ons dade
Kom ons bid vandag dat ons dade en ons woorde ooreenstem, laat ons met ons verlede breek en ‘n bewustelike keuse maak om ‘n verskil te maak daar waar ons is.
13 September – Vrydag – Verhoudings
Bid vandag vir huwelike, verhoudings tussen ouers en kinders en tussen kinders en kinders onder mekaar. Bid vir sagte harte in die daaglikse omgang met mekaar.
14 September – Saterdag – Oorlog
“Jesus, tree vandag in by die harte van mense in die oorloggeteisterde wêreldlande en lei hulle na ‘n vreedsame oplossing en algehele wêreldvrede. Mag ons vra dat U die leiers se optrede en denke verander.”
15 September – Sondag – Arbeidsbediening
Ons deurkollekte is vandag vir Arbeidsbediening en bid ons dat ons gemeente mildelik sal gee om ook hierdie onbaatsugtige diens te bevorder en so ook die Woord in die werksplek te versprei.
16 September – Maandag – Christene wȇreldwyd
Bid asb. vir alle Christene wat in die Midde- Ooste en Asië woon om steeds met vrymoedigheid van die liefde van Christus teenoor ander te getuig en dat hulle sal getrou bly aan U.
17 September – Dinsdag- Bedank God
Dank en loof God vir die kere wat hy jou gebede verhoor het en uitkoms gebied het toe jy dit aangevra het.
18 September – Woensdag – Sending
Ons bid vandag vir al ons sendelinge op ons dorp asook op die uithoeke van die aarde wat die woord van die Here verkondig dat hulle die krag sal ontvang om die goeie werk getrou te doen.
19 September – Donderdag – Onderrigwerk
Ons bid vandag baie ernstig vir die belangrike taak van opvoeders en vra dat probleme wat tans ondervind word, spoedig opgelos sal word, sodat leerders hulle volle potensiaal kan bereik. Ons bid ook vir ouers wat hieraan meewerk.
20 September – Vrydag – Skoolvakansie
Vandag sluit die skole en bid ons vir welverdiende rus vir die Leerkragte, die leerders en bid ook dat die matrieks ‘n laaste ruskans neem voor die groot eksamen wat voorlê.
21 September – Saterdag – Eer aan die Vader
Bid dat ons gemeente elke dag van die week en nie net Sondae, alle eer aan ons Hemelse Vader sal gee en besef dat Hy die middelpunt van alles en elkeen is.
22 September – Sondag – Kinders in ander lande
Here, ons bring vandag ons kinders wat in ander lande werk na U en vra dat U hulle daar waar hulle is sal ondersteun en lei en dat hulle positief sal bly en U woord sal uitleef daar waar hulle is.
23 September – Maandag – Geestelike leiers en Ring
Vandag bid ons in besonder vir ons geestelike leiers en leraars in ons Ring – vir hulle gesinne, hulle gesondheid en hulle huwelike.
24 September – Dinsdag – Erfenisdag
Vandag vier ons Erfenisdag en bid ons dat al die kulture in vrede sal saam leef maar ook dat hul mekaar se verskille sal verstaan en met ‘n oop gemoed saam in Suid Afrika sal werk en leef.
25 September – Woensdag – Wyksbyeenkomste
Elke Woensdag word Blok byeenkomste gereël waar ons in klein groepe bymekaar kom. Bid dat die nuwe intrekkers hier sal inskakel en deel van die gemeente sal word. Laat dit ook ‘n samesyn tussen die wykslede bewerkstellig.
26 September – Donderdag – Regering
Ons bid vandag vir ons Regering (Rom 13:1-7). Die owerhede is daar deur God se beskikking. Ons vra ernstig dat U Gees harte en lewens sal verander en dat magsug, hebsug, korrupsie en misdaad uitgeroei sal word.
27 September – Vrydag – Moslems
Vandag is dit die Moslems se “kerkdag”. Bid dat hul die woord sal hoor en tot inkeer sal kom. Ons bid ook vir die baie bekeerde Moslems wat nie in hul eie huise en families aanvaar word nie, maar daagliks vervolg word.
28 September – Saterdag – Radio Feba
Om die Goeie Nuus in Afrika te deel bring baie uitdagings. In lande soos Mali, Niger en Soedan het FEBA te kampe met meerderheid-Moslem gemeenskappe. Bid God se seën en beskerming af op FEBA Afrika, sodat Sy Woord die kontinent se onbereiktes kan bereik.
29 September – Sondag – Bejaardes
Ons deurkollekte is vandag vir BADISA-Huis JJ Watson en dink ons en bid vir ons vir bejaardes in ons gemeente asook die tehuise vir bejaardes. Bid dat hulle die nodige sorg sal ontvang met liefde en geduld en dat hulle behoeftes ook bevredig sal word.
30 September – Maandag – Gestremdhede
“Vader, ons lê ons vriende met gestremdhede voor U voete en vra dat U hulle die nodige geduld sal gee en sal wys op alles waarvoor hulle nog kan positief wees. Ons bid ook dat U hulle vriende se harte sal aanraak om hulle nood raak te sien.”
Gebed verander alles. Moenie angstig wees nie. Bid tot God. As God vir ons is, wie kan teen ons wees.


