“Verder, laat die vrede van Christus in julle harte reegeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader dank. ”
Kol. 3: 15-17
Waardering is ‘n eerlike vorm van dank betoon, vir dit wat jou werklik intens roer. Menige van ons het al die ervaring van vreugde beleef wanneer iemand met ‘n opregte hart waardering toon vir iets wat jy gedoen het. Dit maak enige moeite wat moontlik gepaard gegaan het met waarvoor jy bedank word, dubbel en dwars die moeite werd. Dit moet natuurlik nie die motief wees om enigiets te doen nie. Die begeerte om iets te doen vir ander, moet ‘n intense drang binne-in jou wees, wat jy nie kan erkentlikheid verwag nie, selfs al vind mens plesier daarin wanneer daar waardering is, vir enige nietige en geringe of groot en sigbare daad wat jy gedoen het. Wanneer ‘n mens in die Christelike geloof leef, weet ons dat dit die Heilige Gees is wat ons dring om die regte en goeie dinge te doen, soos Johannes die Doper wat reeds van voor sy geboorte met die Heilige Gees gevul was (“Inderdaad, hy sal groot wees in die oog van die Here. Hy sal glad nie wyn drink nie, en hy sal reeds van voor sy geboorte af met die Heilige Gees verul wees.” (Luk. 1: 15)). Ons kan dus geen erkentlikheid vir dit wat ons doen, goeds moeds, net vir onsself toe-eien nie.
Ons moet dus in opregte waardering leef vir dit wat Jesus Christus vir ons hier op aarde kom moontlik maak. Ons moet nie een jota of titel afwyk van die leer van Jesus Christus nie (“Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid. Pasop dat niemand julle meevoer deur filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieê oor die kosmiese elemente, en nie op Christus nie.” (Kol. 2: 6-8)). Hoe ongelooflik is die Woord van God nie. Reeds in die tyd wat die Bybel geskryf is, is daar voorsien dat mense ons sal probeer afrokkel van God deur praatjies oor die kosmiese elemente. Hoe baie van ons aardse mense laat hulle nie wegvoer deur hierdie leuens van die leuenaars nie (“Hulle word beïnvloed deur die skynheiligheid van leuenaars, wie se gewete toegeskroei is. Hulle verhinder mense om te trou, en laat hulle sekere kossoorte vermy, terwyl God dit geskep het vir gelowiges, diegene wat die waarheid insien, om dit met dankbaarheid te geniet. Want alles wat God geskep, is goed, en niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, omdat dit die woord van God en gebed geheilig word.” (1 TIm. 4: 2-5)).
Teenoor hierdie waardering en dankbaarheid is daar die oordeel, die oordeel wat maak dat onsself onder die oordeel plaas (“Daarom is daar vir jou, o mens, wat oordeel, wie jy ookal is, geen verontskuldiging nie. Met die oordeel wat jy oor die ander persoon uitspreek, veroordeel jy immers jouself, omdat jy wat oordeel, dieselfde doen. Ons weet dat God se oordeel na waarheid oor mense kom wat sulke dinge doen. Dink jy, o mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen terwyl jy dieselfde dinge doen, dat jy God se oordeel sal vryspring?” (Rom. 2: 1-3); “Die oordeel is immers sonder ontferming oor hulle wat nie ontferming betoon het nie. Ontferming triomfeer oor die oordeel.” (Jak. 2: 13)). Ons moet hierdie veroordelende kwaad uit ons lewens ban, en ons lewens vul met die goeie, soos Christus vir ons kom wys het (“Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: “Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld, sê die Here. Maar: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te drink. Deur dit te doen, stapel jy vurige kole op sy hoof. Moenie dat die kwaad jou oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie.” (Rom. 12: 19-21): (“En as julle Hom wat nie volgens die uiterlike oordeel nie, maar ooreenkomstig elkeen se optrede, wel as Vader aanroep, tree dan met ontsag op in die tyd van julle vreemdelingskap. Julle weet tog dat julle nie met iets vergankliks, soos silwer of goud, losgekoop is uit julle sinlose leefwyse, watdeur julle voorvaders aan julle oorgelewer is nie, maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van Christus – Hy wat soos ‘n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek.” (1 Pet. 1: 17-19)).
Laat ons dus in opregte waardering en met dankbaarheid mekaar aanvaar, elkeen met sy eie genade gawes, en laat ons die Skepper Vader, die Seun en die Heillige Gees, loof en prys vir sy grootse Liefde en Genade (“Daarom, aanvaar mekaar, soos Christus julle ook aanvaar het, totn eer van God. Ek sê vir julle dat Christus ‘n Dienaar van die besnedes geword het ter will van die waarheid van God, sodat Hy die beloftes aan die vaders kon bevestig, en die nasies God oor sy ontferming kan verheerlik, soos daar geskryf staan: “Daarom sal ek U loof onder die nasies, en tot eer van u Naam sal ek ‘n lofpsalm sing.” En daar staan ook: “Wees bly, nasies, saam met sy volk.“ En weer: “Loof die Here, alle nasies! Prys Hom alle volke!”” (Rom. 15: 7-11); (“Want dit gebeur alles ter will van julle, sodat die genade, wat steedsmeer mense insluit, die dankbaarheid oorvloedig kan maak tot eer van God.” (2 Kor. 4: 15)).


