Elmar en Nadine se Konnichiwa Nuusbrief

Konnichiwa Nuusbrief  
こんにちは “Dit is nie geluk wat ons dankbaar maak nie, dit is dankbaarheid wat ons gelukkig maak”.

Liewe ondersteuner,
dis met groot dankbaarheid dat ons hierdie nuusbrief aan u skryf. Ons is dankbaar vir die Here se onverdiende genade, voorsiening en omgee oor ons lewens. Ons is dankbaar vir elke oop deur en oop hart wat net die Here kon bewerk het. Ons is dankbaar vir ‘n gesonde baba-dogtertjie wat groei, vir elke kerk wat hulle erediens vir ons beskikbaarstel en ons is dankbaar vir elkeen van u. 

Tans lees ons deur ‘n paar ou sendingverhale. Ons staan ​​verstom wanneer ons lees van al die uitdagings en ontberinge wat hierdie getroue sendelinge moes verduur. Ten spyte van al hulle swaarkry het hulle getrou en blymoedig voortgegaan om die mense te dien tot wie hulle geroep is om die Evangelie te deel. Hulle het vanweë hul liefde vir die Evangelie en hul sielelas volhard om te sien hoe mense Jesus as hul Verlosser leer ken het. George Muller het God vertrou vir honderde weeskinders, Watchmen Nee het ‘n hart gehad vir sy eie Chinese landgenote. Adoniram Judson, het vrou na vrou (drie in totaal) en sewe kinders op die sendingveld van Birma verloor, tog het hy steeds volhard ter wille van die Evangelie. Soos ons hierdie boeke lees, besef ons, ons uitdagings is klein in vergelyking met hierdie groot sendelinge. Ons vereenselwig met die gedagte van die Hebreërs skrywer wat van die groot geloofshelde gesê het: “die wêreld was hulle nie waardig nie” (Hebreërs 11:38). Die wêreld was hierdie getroue sendelinge nie waardig nie.    
 Leah du Rand リア    デュ ランド

Ontmoet Leah du Rand. Tans geniet sy nog die gemak van haar mamma se moederskoot, maar DV oor nie meer as 3 maande nie sal ons hierdie dierbare dogtertjie ontmoet. Sy is ‘n aktiewe dogtertjie. Nadine roep my gereeld om te kom voel hoe sy in haar maag skop of boks. Dit is ongelooflik hoe ons reeds soveel liefde teenoor haar voel. Terwyl ons vir haar bid, vertrou ons dat sy reeds sal weet dat sy geliefd en verwelkom is in ons familie. Sy is tog die een wie ons ‘n gesin gaan maak en nie meer net ‘n getroude paartjie nie. Nadine is gesond en ek is dankbaar dat Nadine hierdie swangerskap in Suid-Afrika onder baie minder stres kan geniet. 

Ons is so dankbaar vir die guns wat ons van Nadine se ginekoloog ontvang het. Ons mediese fonds dek nie die dokter ten volle nie, maar hy het ingestem om met sy konsultasiefooi af te kom op die mediese fonds-skematarief. Ons het nog nooit gehoor van ‘n ginekoloog wat dit doen nie. Meeste van die tyd sal hulle net sê jy sal dan ‘n dokter moet kry wat ten volle deur jou mediese fonds gedek word. Dit is net die Here wat hierdie genade aan ons kon gee.
     
Studies  
勉強

Ons het ons eksamenuitslae van ons vorige semester ontvang en ons is dankbaar dat ek en Nadine goeie punte vir al ons vakke gekry het. Ons weeksdae is gevul met die lees van artikels en theologiese boeke om opstelle te skryf en voor te berei vir komende eksamens. Hierdie semester leer ons van Christelike berading, kinderberading, die dogmatiek van verlossing, ‘n diepgaande studie van die boek Hebreërs en Psalms. Nadine nader amper die einde van haar studies en het haar begeerte uitgespreek om verdere studies in berading te doen. Daar is ‘n groot behoefte in Japan vir berading. Alhoewel die Japannese-volk trots is en nie regtig hul stryd met mekaar deel nie, het ons in ons ervaring gesien dat Japannese mense meer vertroue het om hul uitdagings met buitelanders te deel. Om beter toegerus te wees in Berading kan dus tot groot bedieningsvoordele wees.  
Radio Kansel Onderhoud

7 Junie het ons ‘n onderhoud op Radio Kansel gehad. Ons het gedeel oor ons roeping na Japan en ons liefde vir Japannese volk. Waar ons ook al ons roeping en hart vir Japan deel, of dit nou by ‘n kerkdiens of ‘n bybelstudiegroep of selfs op radio is, voel ons ‘n sterk verantwoordelikheid om verteenwoordigers van sendelinge regoor die hele wêreld te wees. Ons bid dat die Here ons roeping en getuienis sal gebruik om meer sendelinge na die sendingveld te roep asook om ‘n beroep op alle Christene te doen om getrou te bid vir ander sendelinge en hulle ook te ondersteun. 
   
Kaléo Klets onderhoud

Ons het ook ‘n onderhoud op ‘n kerk-geselsprogram wat beskikbaar is op hulle Facebook-blad gehad. Ons het ‘n Japannese liedjie gesing en het ook ‘n paar prettige ervarings in Japan gedeel. Ons kon ons roeping en getuienis deel tydens ‘n kerkdiens by hierdie gemeente. Ons woon ook ‘n weeklikse Bybelstudiegroep by die kerk by. Ons is baie dankbaar vir hierdie gemeente se oophart teenoor ons. 
  Gemeente besoeke  
Nadine, Thys Malan en Elmar.  Getuienisgeleentheid in Frankfort.  
Joreth (skoonsus), Elmar, Nadine en Albie (broer).   Getuienisgeleentheid in Rustenburg. Program
 Sondag 25 Junie-30 Junie                    Lofdal Konferensie (Tzaneen)
          Sondag 3Julie                                       Phalaborwa 
          Sondag 17 Julie                                    Montagu       
       Sondag 24 Julie                                    Tygerberg 
              Sondag 31 July                                     Somerset Wes  Dankbaar:
Leah se mooi groei en ontwikkeling.
Die guns wat ons ontvang het van Nadine se ginekoloog.
Ons is dankbaar vir elke oopdeur by gemeentes en individue.
Vordering met ons teologiese studies.
Nuwe ondersteuners wat by gekom het.

Gebedsversoeke
Bid asseblief vir die volgende:

*Leah se verdere groei en ontwikkeling.
*Leah se geboorte (DV September). Ons bid vir n natuurlike geboorte.
*Verdere finansiële ondersteuning sodat ons OMF se vereiste begrotingsbedrag kan behaal.
*Ons program vir die maand van Julie (bid asseblief vir ons veiligheid op die pad).
*Ons teologiese en Japannese taalstudies.