Bybelstudie RUT – Kruispaaie: Rut se kruispaaie – Dr. Gerrie van Deventer

    Inleiding

    Vandag kuier ons by die hoofkarakter van die Rut verhaal – by Rut self. Haar naam het betekenisse soos ‘vriendin’, ‘verkwikking’, ‘om te sien/ om te lewe’ of selfs ‘tortelduif’!!!

    Kruispaaie wat lei na hoofpaaie van geluk!

    Die kruispad

    Wanneer ons haar ontmoet, dan is dit daar waar die groot kruis op haar pad geplant is, by die ramp op die kruising in haar lewe. Haar man sterf en sy is kinderloos! Sy’t by die gesin uit Betlehem iets geleer van geluk, ‘n nuwe lewenstyl en van ‘n God wat sy nie geken het nie. En nou dreig die ramp om ‘n stopteken daar te plaas! Die een logiese pad vir haar is om om te draai en terug te gaan na haar eie land, familie en gode!

    Die snelweg na Betlehem = pad na God (1: 6-19a)

    Haar bekende woorde is seker wanneer sy dan hierdie groot kruising in haar lewe, die snelweg na Betlehem kies, met die woorde (1: 16)

    “…want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly;
    u volk is my volk en u God is my God

    Wat ‘n keuse! ‘n Keuse vir lojaliteit en liefdestrou teenoor haar skoonma. Sy kies ‘n ander land en volk en dus ‘n ander kultuur, maar bo alles kies sy vir die god “wat uitkoms gee

    Later erken Boas die betekenis van die keuse wanneer hy bid om God se seën (2: 12)

    Mag jy ‘n welverdiende beloning ontvang van die Here, die God van Israel onder wie se vleuels jy kom skuil het

    Die stofpad na die lande = die pad na sekuriteit (2: 1-4)

    Sy kies die stofpad na die lande vgl 2: 1-4 wanneer sy vra:

    Mag ek lande toe gaan om are op te tel by iemand wat my toelaat…
    (…agter dié een in wie se oë ek genade vind – OV)

    Dit dui op haar nederigheid en gewilligheid om hard te werk.

    Die liefdespad na geluk en ‘n nuwe toekoms – die pad na liefde

    Vanaf die 2de hoofstuk ontvou hier een van die mooiste ‘love-stories’ wat jy jou kan voorstel! En Boas sien al meer die karakter, troue liefde, hardwerkendheid en inisiatief van Rut raak. Sy sien sy genade, ontferming en vriendelikheid. En so ontluik ‘n liefde wat groot betekenis in die God se planne sou hê.

    Ons Oscar-wenner, Charlize Theron, was ook by ‘n groot kruispad díe nag toe haar pa dronk en dreigend in die huis inkom en haar ma hom doodskiet. Maar daarna kies sy ook die pad na harde werk, van risiko’s neem en ideale najaag. ‘n Verhaal van hoe ‘n eenvoudige meisie van Springs die lugweë neem om beste aktrise te word! Haar boodskap is: Hoop is alles! Ons sou dalk sê: God se genade gee ons in alles hoop!