Inleiding
Vandag kyk ons na die kruispaaie in die lewe van Naomi. Naomi is eintlik ‘n naam met ‘n mooi betekenis: Dit beteken iets soos lieflik, mooi, aangenaam of die lieflike een. Die kruispaaie van haar lewe laat haar egter haar naam verloor.
Afdraande pad na bitterheid (Rut 1: 1-14, 19-22)
Drie kruispaaie
Die kruispaaie op haar pad voel eintlik meer soos doodloopstrate. Die droogte in Betlehem (wat huis van brood beteken) maak dat hulle brood in Moab gaan soek. Daar sterf eers haar man dat ons lees:“sy en haar twee seuns het alleen agtergebly” As die seuns sterf lees ons: “sy het alleen agtergebly sonder haar seuns en sonder haar man” Dis ‘n hopelose situasie ; ‘n vrou hulpeloos, alleen, eensaam, in doodloopstraat!
Haar aanvanklike reaksies by die kruispaaie
Sy sê vir haar skoondogters:
“My lot is swaarder as julle s’n. Die Here het teen my gedraai” (1: 13b)
En wanneer sy in Betlehem aankom, dan sê sy vir haar vriende; (1: 21)
“Noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my bitter gemaak.
Die Here het teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring.”
Opdraande pad na geluk (Rut 4: 14-17)
Gelukkig kies Naomi tog die opdraande pad na geluk by hierdie kruispaaie. Sy keer nie net terug Betlehem toe nie, maar ten diepste vind sy uiteindelik rus, geluk en vrede by God. Op hierdie opdraande pad was daar medereisigers wat haar kon ophelp.
- Rut: se lojaliteit, ondersteuning en getroue liefde
- Vrouens: se skouers waarop sy kon huil, ore waarin sy haar lot kon bekla
- Boas: die familielid wat haar onselfsugtig te hulp kom
Wanneer sy die kruin bereik sing die vroue: (4: 14)
“Aan die Here kom die lof toe”
Bertha Cronje, weduwee van Hansie Cronje, sê dat sy lank aan die verlede vasgehou het en dat haar reis na aanvaarding van sy dood soms ‘n bitter donker pad was. Daar was dae dat sy wou omdraai, terug na die seer en verlede. Maar dan sê sy dat ander se liefde haar help vorentoe kyk het. En sê sy:
“Deur die genade het ek die lewe gekies
Ek het weer hoop, verwagtinge, ‘n toekoms”
By die T-aansluitings en doodloopstrate van die lewenspad, sê Naomi vir ons:
Kies die opdraande pad na geluk!


