Atlete vir Christus 2023 – afsluiting by NG Kerk Groot-Brakrivier

Atlete vir Christus is ’n uitreikaksie van Kruiskerk/Moederkerk, Stellenbosch. Die span bestaan uit ’n groep Maties wat met entoesiasme en liefde Jesus se Naam verkondig, onder meer by ouetehuise en in gevangenisse. Hulle leuse is “Ons hardloop, sing en gesels Christus”. Elke jaar samel hulle fondse in vir die getuienis- en toerustingswerk wat Bybel-Media in Suid-Afrikaanse tronke doen.

Atlete vir Christus is in 1974 gestig en bestaan uit atlete, sangers, persoonlike werkers en ’n predikant. Hulle reis elke jaar in Junie en Julie van dorp tot dorp deur Suid-Afrika. Hulle volg ’n vooraf beplande roete om fondse in te samel en terselftertyd na mense uit te reik.

Vanjaar het hul roete hulle vanaf Springbok, in die Noord Kaap, oos in Kakamas se righting geneem. Vandaar is hulle suid oor Douglas, deur die Groot Karoo het hulle in Graaff-Reinet gaan draai en is verder suid tot by hul eindbestemming in die Kusdorp, Groot-Brakrivier, waar hulle met vreugde en aan bidding op die strand van Suiderkruis die wedloop voltooi het. Daar kan met reg van hulle gesê word “Ek het die goeie wedloop afgelê, ek het die wenstreep berei, ek het gelowig end-uit volgehou.” 2 Tim. 4:7.

Die atlete het die ongeveer 1800km in 2.5 weke afgelê. Hulle het op ’n aflosbasis die afstande tussen die dorpe gehardloop en het borge vir elke kilometer wat hulle aflê. In die dag is daar tussen deur Bybelstudie gehou. Die atlete het ondersteuning ontvang van ouers, vriende en gemeentes tydens die uitreike. Saans het die span opgetree by elke gasheergemeente langs die pad, om terug te ploeg in die dorpe wat hulle so gasvry ontvang het. Hul laaste aand het hulle ‘n rustige aand deur gebring in die Kerksaal van NG Kerk Groot-Brakrivier. Die gemeentelede, wat die voorreg gehad het om hul lewendige getuienis te beleef, is in verwondering gelaat oor hulle energieke vrolikheid en bereidwilligheid om te getuig. Hulle het 20 Julie 2023 weer die terugtog na Stellenbosch aangepak, met die wete dat sukses in die projek hul blyk van waardering aan God se grootheid is.

Fotos van hul besoek by Groot-Brakrivier

Atlete vir Christus