Jesus sê: “Die Koninkryk van die hemel is soos ’n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ’n boom sodat die voëls in sy takke kom nes maak” (Matt 13:31-32)
Matt 13:31-32
31Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar wanneer dit gegroei het, is dit die grootste van al die tuinplante en word dit ‘n boom, sodat die voëls van die hemel in sy takke kom nesmaak.”
en ook “Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang.” (Vgl. Op 4:11; Ps 24:7-10.)
Op 4:11;
11“U is waardig, ons Here en God,
om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang,
omdat U alle dinge geskep het;
deur u wil het alles ontstaan,
is dit geskep.”
Ps 24:7-10
7Lig op julle koppe, poorte,
ja, lig julleself op, ewige ingange,
sodat die roemryke Koning
kan ingaan.
8Wie is hierdie roemryke Koning?
Die Here, magtig en heldhaftig,
die Here, heldhaftig in die stryd.
9Lig op julle koppe, poorte,
ja, lig op, ewige ingange,
sodat die roemryke Koning
kan ingaan.
10Wie is Hy,
hierdie roemryke Koning?
Die Here, Heerser oor alle magte,
Hý is die roemryke Koning. Sela
Dis nodig dat jy jouself instel om in die teenwoordigheid van hierdie magtige Koning te kom – op ’n spesiale manier – asof in sy troonkamer. Lees gerus die eerste paar verse van Jesaja 6 voordat jy aangaan. Lees dit enkele kere deur en laat die visie van Jesaja jou bewus maak van die Een in wie se teenwoordigheid jy is.
Jesaja 6
61In die sterfjaar van koning Ussia het ek my Heer sien sit op ‘n hoë en verhewe troon. Die some van sy kleed het die •tempel gevul. 2Serafs het bo Hom gereedgestaan. Elkeen het ses vlerke gehad: Met twee vlerke het elkeen sy gesig bedek, met twee het hy sy voete bedek en met twee kon hy vlieg. 3Hulle het na mekaar geroep en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.” 4Die deurpenne in die drumpel het gebewe van die geluid van die een wat roep. Die tempel het vol rook geword.
5Ek het gesê:
“Wee my, want ek is verlore!
Want ek is ‘n mens
met onrein lippe,
en by ‘n volk met onrein lippe
woon ek.
Ja, my oë het die Koning,
die Here, Heerser oor alle magte,
gesien.”
6Een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool by hom wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het. 7Hy het my mond aangeraak en gesê:
“Kyk, dit het jou lippe aangeraak,
jou sondeskuld het gewyk,
daar is vir jou sonde
versoening gedoen.”
8Toe hoor ek die stem van my Heer wat sê:
“Wie sal Ek stuur
en wie sal vir ons gaan?”
Ek sê toe:
“Hier is ek, stuur my!”
Bring lof aan die Koning; betuig jou liefde teenoor Hom en raak bewus van sy onvergelykbare liefde vir jou. Praat met Hom – verlustig jou in Hom (Spr 8:30)!
Spr 8:30
30was ek ‘n lieflingskind aan sy sy –
ek was dag ná dag sy vreugde,
terwyl ek die hele tyd
voor Hom speel.
Luister na snit 10 (IMMANUEL, GOD REGEER) op die ingeslote CD.
IMMANUEL, GOD REGEER-Johann Botes
IMMANUEL, GOD REGEER-Johann Botes
In die vroegheid van die môre
Klink my lied na U o Heer
Al my lof en al my dank
My aanbidding meer en meer
My Koning is in die hemel
My lewe is in sy hand
Immanuel, God regeer
Hy’s almagtig, Hy is Here
Openbaar sy Majesteit
Al my liefde, my aanbidding
Na die God van ewigheid
My hart, my siel, my liggaam
Ja my lewe tot u eer
Immanuel, God regeer
Halleluja, Amen!
As jy dink aan ’n koning – watter gedagtes kom by jou op? Skryf
kernwoorde waaraan jy kan dink neer.
Lees Matt 13:31-33, 44-49; Op 4:1-11
Matt 13:31-33, 44-49;
31Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar wanneer dit gegroei het, is dit die grootste van al die tuinplante en word dit ‘n boom, sodat die voëls van die hemel in sy takke kom nesmaak.”
33Hy het nog ‘n gelykenis vir hulle vertel: “Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ‘n vrou geneem en in drie saton koringmeel ingewerk het, totdat dit heeltemal deursuur is.”
44“Die •koninkryk van die hemele is soos ‘n skat wat in die veld begrawe lê. ‘n Man het dit ontdek en weer toegegooi. Uit blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het en koop daardie grond.
45“Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n handelaar op soek na goeie pêrels. 46Toe hy een baie kosbare pêrel vind, het hy gegaan en alles wat hy gehad het, verkoop en dit gekoop.
47“Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n treknet wat in die see uitgewerp is en van elke soort vis gevang het. 48Toe dit vol was, het hulle dit op die strand getrek. Hulle het toe gaan sit en die goeies in houers bymekaargemaak, maar die slegtes uitgegooi. 49So sal dit wees by die voleinding van die tyd: Die engele sal uitgaan, en hulle sal die bose mense tussen die •regverdiges uithaal
Op 4:1-11
1Hierna het ek gesien, en kyk, ‘n deur wat in die hemel geopen is, en die stem wat ek voorheen so hard soos ‘n basuin met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal aan jou wys wat hierna moet gebeur.” 2Onmiddellik het die Gees van my besit geneem, en kyk, daar was ‘n troon in die hemel, en Iemand wat op die troon sit. 3Die Een wat daarop sit, se voorkoms was soos •jaspis en •karneool, en rondom die troon was daar ‘n reënboog wat net soos •smarag lyk.
4Rondom die troon was daar vier-en-twintig trone, en op die trone het vier-en-twintig ouderlinge gesit. Hulle het wit klere gedra, met goue krone op hulle koppe. 5Vanuit die troon het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. En voor die troon het sewe vuurfakkels gebrand – die sewe Geeste van God. 6Voor die troon lyk dit soos ‘n see van glas, net soos kristal.
In die middel van die troon en rondom die troon staan daar vier lewende wesens, vol oë aan die voorkant en agterkant. 7Die eerste lewende wese lyk net soos ‘n leeu; die tweede lewende wese net soos ‘n kalf; die derde lewende wese het ‘n gesig net soos ‘n mens, en die vierde lewende wese lyk net soos ‘n arend wat vlieg. 8Die vier lewende wesens het elkeen ses vlerke, wat reg rondom en aan die binnekant vol oë is. Sonder om te rus, herhaal hulle dag en nag:
“Heilig, heilig, heilig
is die Here God, die Almagtige,
Hy wat was en wat is en wat kom.”
9En telkens wanneer die lewende wesens heerlikheid en eer en dank bring aan Hom wat op die troon sit, aan Hom wat vir ewig en ewig leef, 10val die vier-en-twintig ouderlinge in aanbidding neer voor Hom wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir ewig en ewig leef, en sit dan hulle krone voor die troon neer, terwyl hulle sê:
11“U is waardig, ons Here en God,
om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang,
omdat U alle dinge geskep het;
deur u wil het alles ontstaan,
is dit geskep.”
DIEPER DELF: Lees gerus ook Ps 22:28-32; 101:6-8
Ps 22:28-32;
28Almal tot aan die uithoeke
van die aarde
moet daaraan dink
en hulle tot die Here bekeer.
Al die familiegroepe van die nasies
moet voor U in aanbidding buig;
29want aan die Here
behoort die koningskap,
en Hy heers oor die nasies.
30Ja, voor Hom sal almal
wat oordadig leef,
in aanbidding neerbuig;
voor Hom sal alle sterflinge kniel,
elkeen wat nie die lewe kan behou nie.
31‘n Nageslag sal Hom dien;
hulle sal van my Heer vertel
aan die volgende geslag.
32Hulle sal kom en sy geregtigheid
bekend maak aan mense
wat nog gebore moet word:
Hy het dit gedoen.
Ps 101:6-8
6Ek is op die uitkyk
vir betroubares in die land,
sodat hulle by my kan bly;
wie ‘n onberispelike lewenswyse
handhaaf, hulle mag my dien.
7Daar sal niemand in my huis
woon wat bedrog pleeg nie.
Wie leuens vertel,
sal nie voor my oë standhou nie.
8Elke môre sal ek al die goddeloses
in die land vernietig,
om so almal wat onreg pleeg,
uit die stad van die Here uit te roei.
In sy Koninkryk is dit God wat laat groei en wat seën (1 Kor 3:5-7).
1 Kor 3:5-7
5Wat is Apollos nou eintlik? En wat is Paulus? Hulle is dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, soos die Here dit vir elkeen van hulle gegee het. 6Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het laat groei. 7Daarom is nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi iets, maar slegs God wat laat groei.
Jesus se storie oor die mosterdsaadjie verduidelik dit baie mooi. Jesus verwys hier na ’n Joodse spreekwoord vir iets wat onbeduidend klein is. (Nie letterlik nie!) Kleinste van alles ; onbenullig – en daaruit laat God ’n boom spruit waarin voëls kan rus met takke waartussen hulle kan skuil. So handel God – soms is die begin oënskynlik uiters nietig en onbenullig, maar as Hy eers handel, word daardie onbenullige saak ’n verstommende wonder.
Dink aan so ’n voorbeeld waarvan jy weet, of wat jy dalk self beleef het. Skryf dit op die week se groepgesprekblad (p 131) neer, sodat jy dit teen die einde van die week by die groepgesprek kan vertel.
Dit is God wat met ’n klein begin sy groot Koninkryk vestig. Juis daarom moet ons al hoe meer God-gerig lewe; al hoe minder vanuit onsself en al minder probeer om self God te wil wees. Ons is in God se diens. Hy laat groei en Hy laat sy Koninkryk kom.
Wat dink jy beteken hierdie tweede bede van die Ons Vader gebed in die praktyk (Matt 6:10)?
Matt 6:10
10Laat u koninkryk kom.
Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
Op baie plekke in die Ou Testament (oa Ps 21; 45; 72) word verwys na die heerlikheid van die koning. Telkens staan ons verstom oor die heerlikheid van die aardse konings waarvan ons in die Bybel lees – oor hulle swier, prag en praal. In hierdie Skrifgedeeltes word die koning beklee met heerlikheid en erken as die koning, as die gesalfde van die Here. Die beeld van die koning word ook verder gebruik om na die Groot Koning te verwys. Die Here is die groot Koning, die ware Koning, wat heers oor die konings van die wêreld en oor die konings van Israel (Ps 24:10 10Wie is Hy, hierdie roemryke Koning? Die Here, Heerser oor alle magte, Hý is die roemryke Koning. Sela”). Die gesalfde van Israel is maar slegs in diens van die ware Koning, die ware Here wat oor hulle heers. Die gesalfde koning van Israel, moet dus ook buig voor die ware Koning. Die Here is die Koning van sy Koninkryk. Hierdie beeld word gebruik om die majesteit en die heerlikheid van God te beklemtoon. Uit hierdie gedeeltes kan ons aflei hoe groot en heerlik die majesteit van God werklik is. (As jy kan, kyk gerus na die grootsheid van die skepping van die grote en onbeskryflike God, soos gevind op die Indescribable en How great is our God-reeks DVD s van Louie Giglio.)
As ons na die groter prentjie van getuienis kyk, is dit baie duidelik dat ons in afhanklikheid van God moet lewe. Dit is glashelder en onmiskenbaar, dat God die wêreld deur sy Koninkryk wil verander. Dit geld ook die feit dat ons nooit ’n nuwe wêreld sal kry indien God dit nie deur die werking van sy Heilige Gees doen nie. Daarom moet ons biddend vertrou dat die Koninkryk van God in hierdie wêreld sal kom, sodat God se Naam verheerlik sal word. (Vgl Matt 6:9- 13; Jes 42:8; 48:11; Eseg 20:9.)
Matt 6:9- 13;
9“Só moet julle dan bid:
“Ons Vader wat in die •hemele is,
laat u Naam geheilig word.
10Laat u koninkryk kom.
Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
11Gee ons vandag ons daaglikse brood.
12En vergeef ons ons skulde,
soos ook ons hulle vergeef
wat teenoor ons skuldig staan.
13En bring ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. •Amen.
Jes 42:8;
8Ek is die Here, dit is my Naam.
My heerlikheid sal Ek nie afstaan
aan ‘n ander nie,
my roem nie aan gesnede beelde nie.
Jes 48:11;
11Ter wille van Myself,
ja, ter wille van Myself
tree Ek op.
Want hoe sou my Naam
nie ontheilig word nie!
En my heerlikheid –
aan geen ander sal Ek dit gee nie.
Eseg 20:9
9Maar Ek het toe ter wille van my Naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word in die oë van die nasies tussen wie hulle was nie – die nasies voor wie se oë Ek My aan Israel bekend gemaak het met die belofte om hulle uit Egipteland uit te lei.
’n Laaste gedagte. Ons deelwees van God se Plan, is in die liefde gewortel. Dis juis waarom ons na ander mense uitreik – om God se liefde aan hulle te demonstreer, sodat hulle uit die duisternis tot sy wonderbare lig kan kom. Jesus is die Koning van hierdie unieke Koninkryk wat liefde demonstreer. Dit is waarom Hy gekom het: “Want God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh 3:16; 20:21).
Ons burgerskap van hierdie radikaal anderse Koninkryk, word hoofsaaklik op 2 maniere uitgeleef:
- Deur betoning van liefde.
- Deur die heerlikheid van die ware Koning te vertoon.
Dien en volg jy die Koning met passie? Is sy eer vir jou ’n prioriteit? Is jy dalk
soms aandadig aan ’n subtiele, of meer openlike, paleisrewolusie?
Hoe voel jy oor die volgende opmerking van Andrew Murray: “Dit is geen wonder dat daar min entoesiasme vir die Koninkryk is nie – daar is dan so min entoesiasme vir die Koning!”
Buig nou weer in aanbidding voor hierdie waardige God en Koning. Loof Hom, eer Hom, prys Hom, besing sy grootheid, sy almag, sy liefde en trou, sy genade en voorsiening. Erken dat Hy Koning is – ook in jou lewe!
DIEPER DELF: handboek, p 126-137
Lees gerus ook Neh 9:34-37; Spr 16:10-15; 21:1; 22:8; 25:4-5; 29:12, 14, 16; 31:4-9; Pred 4:13-16.
Neh 9:34-37;
34Ons konings en leiers,
ons priesters en voorouers
het u wet nie uitgevoer nie.
Hulle het nie ag geslaan
op u gebooie en bepalings
waarmee U hulle gewaarsku het nie.
35Hulle het, met hulle eie koninkryk,
te midde van u groot goedheid
wat U aan hulle geskenk het,
en in die wye en vrugbare land
wat U vir hulle aangebied het,
U nie gedien nie;
hulle het nie weggedraai
van hulle bose dade nie.
36“Kyk, ons is vandag slawe;
die grond wat U aan ons voorouers
gegee het om die vrugte
en die goeie daarvan te geniet –
kyk, ons is slawe daarop.
37Die opbrengs daarvan word meer
vir die konings wat U oor ons
gestel het –
en dit as gevolg van ons sondes.
Oor ons liggame heers hulle,
ook oor ons vee, soos hulle wil.
Ons verkeer in groot nood.”
Spr 16:10-15;
10‘n Orakelspreuk is op die lippe
van ‘n koning;
by ‘n vonnis mag sy mond
nie ontrou wees nie.
11 ‘n Skaal, ‘n betroubare weegskaal,
is van die Here;
al die gewigte in die sak
is sy handewerk.
12Afstootlik vir konings
is die pleeg van ‘n goddelose daad,
want deur geregtigheid
staan ‘n troon vas.
13Regverdige lippe
stel konings tevrede,
en hulle het die een lief
wat die regte dinge sê.
14Die woede van ‘n koning
is ‘n boodskapper van die dood,
maar ‘n wyse mens
bring dit tot bedaring.
15In die stralende gesig
van ‘n koning is daar lewe,
en sy goedkeuring is soos die wolke
van laatreëns.
Spr 21:1;
1Die koning se hart is waterstrome
in die hand van die Here:
Hy lei dit waarheen Hy wil.
Spr 22:8;
8Wie onreg saai, sal boosheid oes,
en die lat van sy woedebui
sal tot niet gaan.
Spr 25:4-5;
4Verwyder die metaalskuim
uit silwer,
dan kom daar reeds ‘n kruik uit
vir die silwersmid.
5Verwyder ‘n goddelose
voor die koning,
dan is sy troon reeds
in geregtigheid gevestig.
Spr 29:12, 14, 16;
12‘n Heerser wat luister na leuentaal –
almal wat in sy diens is, is goddeloos.
14‘n Koning wat armes billik oordeel –
sy troon sal vir altyd standhou.
16Wanneer goddeloses meer word,
neem oortredings toe;
maar regverdiges sal hulle val beleef.
Spr 31:4-9;
4Dit is vir konings nie gepas nie,
Lemuel,
dit is vir konings nie gepas
om wyn te drink nie,
vir hooggeplaastes om te wees
waar daar sterk drank is nie.
5Anders drink hy, en vergeet
wat as voorskrifte neergelê is,
en skend hy die regte
van al die magteloses.
6Gee sterk drank aan die een
wat ten gronde gaan,
en wyn aan mense
met verbitterde siele.
7Laat hy drink en sy armoede
vergeet,
sy swaarkry nie meer onthou nie.
8Maak jou mond oop
vir die stemlose,
vir die regsaak van almal
wat wegkwyn.
9Maak jou mond oop,
oordeel regverdig,
en handhaaf die reg
van die magtelose en behoeftige
Pred 4:13-16
13‘n Arm, maar wyse jong man
is beter as ‘n ou, maar dwase
koning wat nie meer weet
om op ‘n waarskuwing
ag te slaan nie,
14al het die jong man
uit die tronk gekom
om koning te word,
selfs al is hy arm gebore
in die koning se ryk.
15Ek het gesien dat almal wat leef,
wat onder die son beweeg,
die tweede jong man
wat in sy plek gekom het, volg.
16Daar was nie ‘n einde
aan al die mense
wat elke vorige koning
ondersteun het nie;
tog sal die mense in die toekoms
nie oor die jong man
verheug wees nie.
Ja, ook dit is sinloos
en die najaag van wind.
Kyk gerus ook die film Facing the Giants
WENK: Maak vandag ’n kaartjie met die eenvoudige, maar ingrypende, stelling daarop: Jesus is Koning. Dra dit saam met jou en sit dit op plekke neer waar jy besig is, sodat jy voortdurend daaraan herinner kan word. (Agter in die gids is ’n bladsy met kaartjies vir hierdie doel wat uitgeskeur kan word.)
Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!
Inhoudsopgawe
Kopiereg
Dr. Frans Hancke.
Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).
Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie
Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za