Week 7 Dag 33 – Vir burgers van die Koninkryk – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Die Bybel sê: “Julle daarenteen is die uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet 2:9).

Gebed

Wat ’n toesegging! Watter groot genade! Buig voor dié God wat ook vir jou van ewigheid af liefhet en geroep het uit die duisternis tot sy wonderbare lig en verootmoedig jou voor Hom in aanbidding.

Lees die Skrif

Lees 1 Pet 2:1-10; Gal 4:1-7.

1 Pet 2:1-10;

21Lê daarom alles wat sleg is, en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie, en alle geskinder af, 2en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing, 3noudat “julle die goedheid van die Here gesmaak het”.

4Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is; 5en laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus •Christus, vir God aanneemlik is. 6Daar staan immers in die Skrif:

“Kyk, Ek sit in Sion ‘n klip neer,
‘n hoeksteen, uitverkore en kosbaar;
maar wie in Hom glo,
sal vir seker nie beskaamd staan nie.”
7Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld,
“Juis die klip wat die bouers afgekeur het,
het die hoeksteen geword,”8en
“’n klip waaroor ‘n mens kan struikel,
ja, ‘n rots wat jou kan laat val.”Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem.

9Julle, egter, is “’n uitverkore geslag”, “’n koninklike priesterdom”, “’n heilige nasie”, “’n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig –

10julle wat eers nie ‘n volk was nie,
maar nou volk van God is;
wat eers nie ontferming ontvang het nie,
maar nou ontferming ontvang het.

Gal 4:1-7

41Hiermee bedoel ek: Solank as die erfgenaam nog minderjarig is, verskil hy niks van ‘n slaaf nie, alhoewel hy die eienaar van alles is. 2Maar hy staan onder die beheer van voogde en bestuurders, tot die tyd aanbreek wat deur sy vader bepaal is. 3Net so is dit ook in ons geval: Toe ons nog minderjarig was, was ons as slawe onderwerp aan die elementêre beginsels van die wêreld;

4maar toe die tyd vervul is,
het God sy Seun uitgestuur,
gebore uit ‘n vrou,
gebore onder die wet,
5sodat Hy dié onder die wet
kon loskoop,
sodat ons as sy kinders
aangeneem kon word.
6En omdat julle sy kinders is,
het God die Gees van sy Seun
uitgestuur tot in ons harte,
die Gees wat roep: “Abba, Vader!”
7Jy is dus nie meer slaaf nie,
maar seun;
en as jy seun is,
is jy ook erfgenaam deur God.

Eergister het ons gedink oor die Koninkryk en gister oor die Koning. Jy behoort daarvan oortuig te wees dat die Koning en die Koninkryk nie sommer net ’n manier is om iets van ons verstaan van die Bybel te illustreer nie. Nee, dit gaan oor veel meer as dit!

Skryf / Vul in

Hoe voel jy oor die stelling wat deur baie teoloë gemaak word, dat die Koning en die Koninkryk in die sentrum van ons geloofslewe lê? Sommige is nog meer uitgesproke daaroor – hulle sê dat ons weinig of niks van die evangelie verstaan as ons nie die perspektief van die Koning en die Koninkryk verstaan nie. Iemand anders beweer dat elke uitspraak en optrede van Jesus se aardse bediening net reg verstaan kan word as dit binne die konteks van die Koninkryk geïnterpreteer word. Toets hierdie stelling gerus! Wat dink jy daarvan? Skryf jou gedagtes neer


Vandag gaan ons ’n stap verder. God neem ons aan (Gal 4:3-7). Ons is Koningskinders. Dit is baie duidelik in die Bybel dat God ons wil gebruik om in die wêreld en in sy Koninkryk die wonder van sy Naam te verkondig. Ons is medewerkers in diens van die Koning. Ons word geroep tot ’n lewe van lof en aanbidding. Dis ons bestaansdoel! Ons voer dit uit deur alles wat ons doen. As kinders van die Koninkryk is ons ook erfgename – erfgename van dit wat die Bybel met die woord heerlikheid beskryf. Die inhoud wat deur hierdie woord geïmpliseer word, kan ons nie werklik vasvat nie – ons kan maar net daaroor peins en wonder Die woord is verwant aan uitdrukkings soos: oorvloed, rykdom, welvaart, prag, praal, majestieus, ens. Dit is God se wil dat sy grootheid, almag en heerlikheid sigbaar sal word in en deur ons lewens. Om dus passief te wees en so elke nou en dan ons Sondaglewens ten toon te stel, is nie Bybels nie. Ons is geroep om as God se medewerkers in die wêreld betrokke te raak, sodat die Koninkryk van God op alle lewensterreine kan kom (2 Kor 6:1 1As medewerkers van God doen ons ‘n ernstige beroep op julle om nie die genade van God tevergeefs te ontvang nie!).

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Ps 50:14; 119:175; Rom 8:15-17; 1 Kor 3:9; Ef 1:4-6.

Ps 50:14;

14Offer dank aan God,
betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.

Ps 119:175;

175Hou my lewend
sodat ek U kan loof
en laat u beslissings my help.

Rom 8:15-17;

15Julle het immers nie ‘n Gees ontvang wat verslawing bring, sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons “Abba, Vader!” 16Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is. 17Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename – erfgename van God en mede-erfgename met Christus mits ons inderdaad saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

1 Kor 3:9;

9Ons is medewerkers van God; julle is God se saailand, God se bouwerk.

Ef 1:4-6.

4So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies,
sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees,
5nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem,
soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het,
6tot lof van die heerlikheid van sy genade,
waarmee Hy ons in die Geliefde begenadig het.

Dink na / Besin

Dink oor die Skrifgedeelte waarmee ons vandag begin het. Lees dit weer deur en merk die woorde wat vir jou uitstaan: “Julle daarenteen is die uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet 2:9 9Julle, egter, is “’n uitverkore geslag”, “’n koninklike priesterdom”, “’n heilige nasie”, “’n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig –).

Skryf / Vul in

Die volgende woorde kan ons nie mislees nie: (Vgl ook Kol 3:1-17.)

  • Uitverkore;
  • Koninklike priesterdom;
  • Vir God afgesonder;
  • Eiendom van God;
  • Verkondigers van sy verlossingsdade;
  • Hét geleef in duisternis;
  • Hy roep ons; en
  • Nou leef ons in sy wonderbare lig

Kol 3:1-17
31As julle dan saam met •Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. 2Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. 3Julle het immers gesterf, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. 5Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aardse gerig is, doodmaak: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is. 6As gevolg van sulke dinge, kom die toorn van God oor die seuns van die ongehoorsaamheid. 7Ook julle het vroeër daaraan meegedoen, toe julle nog onder hulle geleef het. 8Maar raak ook julle van al hierdie dinge ontslae: woede, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering, en onwelvoeglike taal wat uit julle mond kom. 9Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het, 10en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word. 11By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal. 12Daarom, omdat julle God se uitverkore •heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. 13Verdra mekaar en, as enigiemand ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. 14Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. 15Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. 16Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. 17En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.


Gebed

Ek wil hê jy moet elkeen van hierdie stellings bedink, daaroor bid en dit dan emosioneel aan jouself verbind, want dit is van sy mense wat God hier deur Petrus praat – dis van jou wat Hy hier praat!

  • Uitverkore;
  • Koninklike priesterdom;
  • Vir God afgesonder;
  • Eiendom van God;
  • Verkondigers van sy verlossingsdade;
  • Hét geleef in duisternis;
  • Hy roep ons; en
  • Nou leef ons in sy wonderbare lig
Skryf / Vul in

Dalk lê die Here iets op jou hart wanneer jy daarmee besig is – skryf dan jou gewaarwording, of besluit, langsaan die toepaslike stelling.


Week 7 Dag 33 Kinders van God is koningskinders
Week 7 Dag 33 Kinders van God is koningskinders

DIEPER DELF: Ons is die Plan handboek, p 132 -134
Lees gerus ook Ps 50:21; Kol 4:11; Jak 2:5.

Ps 50:21;

21Hierdie dinge het jy gedoen,
maar Ek het stilgebly.
Jy het gedink Ek is net soos jy!
Ek gaan jou teregwys
en vir jou die saak duidelik uiteensit.

Kol 4:11;

11Dieselfde geld ook Jesus, wat Justus genoem word. Van diegene wat uit die besnydenis kom, is hulle die enigste medewerkers vir die •koninkryk van God, en hulle het ‘n troos vir my geword.

Jak 2:5.

5Luister, my geliefde broers, het God nie die armes in die wêreld gekies om ryk in die geloof te wees nie? En om erfgename te wees van die koninkryk wat Hy beloof het aan hulle wat Hom liefhet nie?

Wenk

WENK: As daar vandag vir jou een kernwoord uitgestaan het, skryf dit op ’n kaartjie en dra dit in jou sak styf teenaan jou lyf. Haal dit kort-kort uit en kyk daarna; dink daaroor en dank die Here daarvoor! As jy meer onkonvensioneel of waaghalsig wil wees – skryf die woord met ’n pen in jou handpalm of op jou pols – jy gaan dan kort-kort daaraan herinner word! As jy jonk van gees is – sit dit op jou selfoon se reminder en herinner jouself later vandag weer aan hierdie waarheid.
(Agter in die gids is ’n bladsy met kaartjies vir hierdie doel wat uitgeskeur kan word.)

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za