Week 7 Dag 31 – Uit die mode – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Die Bybel sê Jesus het sy dissipels leer bid: Laat u Koninkryk kom.

Gebed

Verbeel jou jy is een van Jesus se dissipels wat Hom gevra het om julle te leer bid. Bid dan Matt 6:9-13 asof vir die eerste keer en in afhanklikheid van Hom.

Matt 6:9-13

9“Só moet julle dan bid:

“Ons Vader wat in die •hemele is,
laat u Naam geheilig word.
10Laat u koninkryk kom.
Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
11Gee ons vandag ons daaglikse brood.
12En vergeef ons ons skulde,
soos ook ons hulle vergeef
wat teenoor ons skuldig staan.
13En bring ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. •Amen.

Lees die Skrif

Lees Matt 5:3-12; Joh 15:9-17

Matt 5:3-12;

3“Gelukkig is die armes van gees,
want aan hulle behoort
die •koninkryk van die hemele.
4Gelukkig is dié wat treur,
want hulle sal vertroos word.
5Gelukkig is die sagmoediges,
want hulle sal die aarde erf.
6Gelukkig is dié wat honger en dors na •geregtigheid,
want hulle sal versadig word.
7Gelukkig is die barmhartiges,
want hulle sal barmhartigheid ontvang.
8Gelukkig is dié wat suiwer van hart is,
want hulle sal God sien.
9Gelukkig is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.
10Gelukkig is dié wat vervolg word
ter wille van geregtigheid,
want aan hulle behoort
die koninkryk van die hemele.
11Gelukkig is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is.
12Wees bly en jubel, omdat julle beloning groot is in die hemele. Hulle het immers die profete vóór julle net so vervolg.”

Joh 15:9-17
LIEFDE VIR MEKAAR
9“Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde. 10As julle my gebooie onderhou, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader gehoorsaam het en in sy liefde bly. 11Dit het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan wees, en julle blydskap volkome kan wees. 12Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het. 13Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. 15Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat ‘n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrug te dra, vrug wat blywend is, sodat, wat julle die Vader in my Naam vra, Hy dit aan julle mag gee. 17Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê.”

Skryf / Vul in

Jy moet nou eers jou gedagtes laat gaan en dink aan ’n gewone aardse koninkryk. Maak ’n lys in die eerste kolom hieronder van die belangrikste eienskappe van ’n koninkryk.

Kolom 1Kolom 2
..
..
..
..
..
..
..
..
Eienskapp van ‘n/die koningkryk

In Mark 1:15 word vertel hoedat Jesus sê: “Die tyd het aangebreek en die Koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” Vandag is daar net enkele koninkryke in die wêreld oor en huidige konings vervul hoofsaaklik ’n seremoniële rol. Daarom verstaan ons min van tradisionele koninkryke. Wat meer is, dit wil lyk asof koninkryke al meer onpopulêr raak – kyk nou maar na Swaziland. In die Bybelse konteks is dit egter ’n ander storie – daarom maak Jesus hierdie ingrypende stellings. Met reg kan ons wonder:

  1. Waaruit bestaan hierdie Koninkryk waarvan Hy praat?
  2. Waarom sien ons so min van hierdie Koninkryk?
  3. Waarom lyk dit asof hierdie Koninkryk byna geen effek in die wêreld het nie?
  4. Is God se Koninkryk van mense afhanklik?
Skryf / Vul in

Dit is 4 wesenlike vrae wat ons goed moet bedink. Doen dit en praat met die Here daaroor. Skryf jou reaksie op elkeen van die vrae neer.

Waaruit bestaan hierdie Koninkryk waarvan Hy praat?


Waarom sien ons so min van hierdie Koninkryk?


Waarom lyk dit asof hierdie Koninkryk byna geen effek in die wêreld het nie?


Is God se Koninkryk van mense afhanklik?


Die eerste en waarskynlik belangrikste ding wat ons moet verstaan, is dat hierdie Koninkryk God se Koninkryk is! Sonde beduiwel ons gedagtes maklik om te glo dat die mens self ’n koninkryk kan bou. Maar, dis slegs Jesus wat God se Koninkryk naby bring. Dis nie van mense afhanklik nie. Jesus sê wel dat daar bekering moet kom, sodat die Koninkryk van God in sy volheid gedemonstreer kan word. Die Koninkryk kom deur God se handelinge; deur dit wat Hy doen; deur sy optrede. Waar hierdie Koninkryk die duister deurbreek, sluit dit alle aspekte van ons lewens in. Die Koninkryk kom nie net Sondae in die kerk of by Bybelstudiegeleenthede nie – dit moet op elke terrein van die lewe kom. Die implikasie hiervan is verreikend. Ons uitreik moet dus nie op die mens self nie, maar op die Koninkryk van God gerig word. God se Koninkryk is naby waar Jesus teenwoordig is.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Ps 127:1-2; Joh 3:3-6; 6:63-65; Gal 5:21; Ef 5:5.

Ps 127:1-2;

1‘n •Pelgrimslied. Van Salomo.
As die Here die huis nie bou nie,
swoeg die bouers tevergeefs daaraan.
As die Here oor die stad nie wag hou nie,
bly die wagte tevergeefs wakker.
2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan,
eers laat tot rus kom,
kos eet wat moeisaam verkry is.
Netsowel gee Hy dit
aan sy geliefdes in die slaap.

Joh 3:3-6;

3Jesus het hom geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die •koninkryk van God nie sien nie.” 4Nikodemus sê vir Hom: “Hoe kan ‘n mens weer gebore word as hy reeds oud is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie?” 5Jesus antwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie binnegaan nie. 6Wat uit die vlees gebore is, is vlees, en wat uit die Gees gebore is, is gees. 

Joh 6:63-65;

63Dit is die Gees wat lewend maak; die vlees is van geen nut nie. Die woorde wat Ek tot julle gespreek het, is Gees en is lewe. 64Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie.” Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie Hom sou verraai. 65Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê: Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie.”

Gal 5:21;

21afguns, dronkenskap, gefuif, en hierdie soort dinge – waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die •koninkryk van God nie sal beërf nie.

Ef 5:5.

5Want dit moet julle goed begryp: Geen hoereerder of onreine of gierigaard – so iemand is ‘n afgodedienaar – het ‘n erfdeel aan die •koninkryk van Christus en van God nie.

Daar is ook ’n ander aspek van die Koninkryk waarvan ons moet kennis neem. In die Johannes-evangelie sê Jesus dat sy Koninkryk nie van hierdie wêreld is nie, anders sou sy volgelinge geveg het en sy Koninkryk op so ’n manier probeer vestig het. Hierdie wêreld se koninkryke word hoofsaaklik met wapengeweld tot stand gebring omdat mag en gesag vir hulle so belangrik is. Ons sou kon sê dis eintlik die sin van hulle bestaan. Meer nog, in hierdie wêreld is die mens self in die middelpunt met die heersende vraag en uitgangspunt: “What’s in it for me?” Jesus se Koninkryk lyk radikaal anders. Volgens Johannes lyk dit asof Hy totaal weerloos is, asof Hy alles prysgee, asof Hy nie in staat is om iets te doen nie. Die rede hiervoor gee Hyself: Sy Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; Hy is Koning van ’n ander Koninkryk. Hy’s nie die Koning van hierdie wêreld se magsbehepte koninkryke nie. Sy Koninkryk is ingrypend anders. Jesus se Koninkryk is die Koninkryk van die liefde: Liefde vir God, maar ook vir ander mense. So kry hierdie anderster Koninkryk gestalte – deur die liefde!

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Matt 20:20-28; Mark 10:21-31; Luk 9:60; Joh 18:36.

Matt 20:20-28;

20Toe het die moeder van die seuns van Sebedeus met haar seuns na Hom gekom. Sy het gekniel om Hom iets te vra. 21Hy het vir haar gevra: “Wat wil jy dan hê?” Sy antwoord Hom: “Beveel dat in u •koninkryk hierdie twee seuns van my, een aan u regterhand en een aan u linkerhand, sal sit.” 22Jesus het geantwoord: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek moet drink?” Hulle antwoord Hom: “Ons kan.” 23Hy sê vir hulle: “Julle sal inderdaad my beker drink, maar om aan my regterhand en my linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie. Daardie plekke behoort aan hulle vir wie my Vader dit voorberei het.” 24Toe die tien hiervan te hore kom, was hulle verontwaardig oor die twee broers. 25Maar Jesus het hulle nader geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel, en die maghebbers oor hulle gesag uitoefen. 26So mag dit nie by julle wees nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, 27en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. 28Net so het die •Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee.”

Mark 10:21-31;

21Jesus het stip na hom gekyk, hom liefgekry en vir hom gesê: “Een ding kom jy kort – gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. En jy, kom hier, volg My.” 22Maar hy het terneergedruk geword oor hierdie antwoord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23Jesus het toe om Hom rondgekyk en vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik sal hulle wat rykdom het, in die •koninkryk van God ingaan!” 24Die dissipels was verbysterd oor sy woorde. Jesus sê toe weer vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit tog om in die koninkryk van God in te gaan! 25Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” 26Die dissipels was heeltemal uit die veld geslaan en het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?” 27Jesus het stip na hulle gekyk en gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie, want by God is alles moontlik.”

28•Petrus het vir Hom gesê: “Kyk, óns het alles agtergelaat en U gevolg.” 29Jesus het geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle: Daar is niemand wat, huis, broers of susters, moeder, vader of kinders of grond ter wille van My en ter wille van die evangelie agterlaat, 30en nie nou in hierdie tyd honderd maal soveel sal ontvang nie: huise, broers en susters, ma’s en kinders, en grond – en vervolgings daarmee saam – en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. 31Maar baie wat eerste is, sal laaste wees en wat laaste is, eerste.”

Luk 9:60;

60En Jesus het vir hom gesê: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe; maar jy, gaan verkondig jy die •koninkryk van God.”

Joh 18:36.

36Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie.”

Ons gestuurdheid as gelowiges en as kerk, word uit hierdie liefde gebore en moet dus in die lig van hierdie groot omvattende Koninkryk van God gesien word. God sluit ons van alle kante af in sodat sy Koninkryk juis deur ons in die wêreld kan kom. Dit beteken nie dat ons oor iets beskik wat die Koninkryk kan laat kom nie, maar dat God ons in diens neem. Ons is God se medewerkers wat in sy Koninkryk moet lewe en die Koninkryk sigbaar moet maak. Dit beteken dat ons so afhanklik van God moet lewe dat of ons eet of drink, werk of speel, kuier of studeer, of ontspan of TV kyk – óns die lig van God se Koninkryk sal uitdra.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Jes 49:3; Matt 5:14-18; 1 Kor 3:9; 10:31

Jes 49:3;

3Hy het vir my gesê:
“Jy is my dienskneg, Israel,
deur wie Ek my heerlikheid toon.”

Matt 5:14-18;

14“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie. 15Mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n maatemmer nie, maar op ‘n lampstaander, en so gee dit lig vir almal in die huis.

16“Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.”

17“Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul. 18•Amen, Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde tot niet gaan, sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is.

1 Kor 3:9;

9Ons is medewerkers van God; julle is God se saailand, God se bouwerk.

1 Kor 10:31

31Of julle dan eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God.

Skryf / Vul in

Ek wil hê dat jy teruggaan na die tabel met die 2 kolomme aan die begin van hierdie Bybelstudie. Skryf nou in kolom 02 hoe God se Koninkryk daar uitsien, as jy dit vergelyk met die koninkrykseienskappe wat jy in die eerste kolom neergeskryf het. Let mooi op vir ooreenkomste en verskille.

Kan dit wees dat daar hoekies, of areas, in jou lewe is waar God se Koninkryk nie deurbreek nie? Miskien is daar fasette van jou lewe waar jy verkies om onafhanklik van God te probeer lewe – amper asof daar No Entry -bordjies ingeplant is. Tree jy soms so op dat ander mense nie die Koninkryk wat naby gekom het, kan raaksien nie (Luk 11:52)?

Luk 11:52
52Wee julle, wetskenners, want julle het die sleutel van kennis weggeneem. Self het julle nie ingegaan nie, en diegene wat wou ingaan, het julle verhinder.”

Gebed

Ek wil voorstel dat jy ’n paar minute emosioneel en geestelik stil raak in God se teenwoordigheid. Luister na wat die Gees vir jou wil sê deur die gedeeltes wat jy vanoggend uit die Bybel gelees het. Vertel Hom hoe jy voel oor sy Koninkryk. Dalk moet jy bely dat sy Koninkryk maar tot dusver ’n onbenullige posisie op jou prioriteitslys beklee het.

Week 7 Dag 31 God se koningkryk is omvattend
Week 7 Dag 31 God se koningkryk is omvattend
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Ons is die Plan handboek, p 126-137
Lees gerus ook Matt 6:9-15; Mark 10:35-45; Kol 3:17.

Matt 6:9-15;

9“Só moet julle dan bid:
“Ons Vader wat in die •hemele is,
laat u Naam geheilig word.
10Laat u koninkryk kom.
Laat u wil geskied,
soos in die hemel, so ook op die aarde.
11Gee ons vandag ons daaglikse brood.
12En vergeef ons ons skulde,
soos ook ons hulle vergeef
wat teenoor ons skuldig staan.
13En bring ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. •Amen.

14“Want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. 15Maar as julle die mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

Mark 10:35-45;

35Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Hom gekom en gevra: “Meester, ons wil hê dat wat ons ook al van U vra, U vir ons moet doen.” 36Jesus vra hulle: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” 37Hulle antwoord Hom: “Beskik dat, in u heerlikheid, een van ons aan u regterhand en een aan u linkerhand mag sit.” 38Maar Jesus antwoord hulle: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?” 39Hulle sê vir Hom: “Ons kan.” Jesus sê toe vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. 40Maar om aan my regterhand of linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie, maar dit is vir hulle vir wie dit voorberei is.”

41Toe die tien dit hoor, het hulle verontwaardig geword oor Jakobus en Johannes. 42Jesus het hulle na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat hulle wat as heersers oor die nasies beskou word, oor hulle baasspeel en dat hulle maghebbers oor hulle gesag uitoefen. 43So is dit egter nie by julle nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, 44en wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. 45Want ook die •Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.”

Kol 3:17

17En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.


Sien Figuur 6 van Bylae 2, p 172

Week 7 Dag 31 Figuur 6
Wenk

WENK: Dit is nogal ’n openbaring as jy jou daarop instel om die
Koninkryk in ons alledaagse lewe te probeer waarneem. Probeer die volgende: Vat ’n kaartjie en skryfding en dra dit vir ’n volle dag met jou saam. Elke keer wanneer jy iets sien wat jy met God se Koninkryk in verband kan bring – maak ’n nota daarvan. Sommige van jou waarnemings sal positief wees en ander negatief. Vanaand voor jy gaan slaap, kyk jy na jou notas, deurdink dit en praat met die Here daaroor. Ek waarborg jou ’n nuwe Koninkryksbewustheid. (Agter in die gids is ’n bladsy met kaartjies vir hierdie doel wat uitgeskeur kan word.

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za