Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 19 Julie 2026 – Kyk saam met God vorentoe

Dagstukkies April

Julie — Josua en Rigters

19 Julie

My gebed is dat jy vandag eers stil sal raak en die Here se wil sal soek. Hier is ’n boodskap uit die Bybel net vir jou.

Tema: Kyk saam met God vorentoe

Teks: “Julle het gesien wat die Here julle God alles aan hierdie nasies gedoen het ter wille van julle. Dit is Hy, die Here julle God, wat die oorlog vir julle gevoer het.” (Jos. 23:3)

  • Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar — jou kom en gaan, nou en altyd. (Ps. 121:7–8)
  • By God is jy altyd veilig.
  • Kyk net ’n bietjie na alles wat Hy reeds vir jóú gedoen het.
  • Wanneer jy bang voel, onthou: dieselfde God wat jou tot hier gedra het, sal jou help wanneer jy Sy planne uitvoer.

Gebed

Liewe Vader, dankie dat ek altyd veilig in U hande is.
In die Naam van Jesus Christus, die Here.

Amen.

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.

Stof tot nadenke: Genade en Waarheid

“En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid.”

(Joh. 1: 1420)

Genade

Ons hoor dikwels dat die evangelie genade alleen is. Dit is ‘n wonderlike gedeeltelike waarheid, waaraan ons so maklik vashou. Maar as ons net die genade alleen beklemtoon, sonder om ook tot die besef te kom, dat ons nie die sonde kan negeer nie, laat ons foute toe wat vir God onaanvaarbaar is. Dit kan lei tot die gebruik om onsself hoër te ag as God se eer.

Dit word dikwels deur die bekende manier van Christene, wat tog net nie wil aanstoot gee nie, gekenmerk. Ons wil net die vrede bewaar, en dan laat ons dikwels valshede toe, wat tot valse gerustheid in ons Christenwees lei. Dit kan tot die spreekwoordelike ‘kat op ‘n warm-wordende plaat’ lei, deurdat dit kan lei tot ‘ontoelaatbare’ gedrag, wat aanvaar word, ten koste van die waarheid.

Die evangelie van Jesus Christus is beide genade en waarheid.

Teksverse:

“Ja, ‘n son en skild is die Here God; genade en eer is wat die Here skenk. Hy hou wat goed is nie terug van hulle wat onberispelik leef.” (Ps. 84: 1220);

“Met spotters spot Hy self, maar aan magteloses skenk Hy genade.” (Spr. 3: 3420);

“Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade. Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Joh. 1: 16-1720);

“Maar ons glo dat ons op dieselfde manier as hierdie mense deur die genade van die Here Jesus verlos word.” (Hand. 15: 1120);

“Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos!” (Ef. 2: 4-520)

Waarheid

Volgens Stephan Joubert: ‘Wanneer kerkmense slegs die waarheid kil en kou beklemtoon, raak hulle gou-gou liefdeloos en onsimpatiek’. Dit is ‘n toestand wat die gelowiges ten alle koste moet vermy.

Die aanhaling van Braam Hanekom is ‘n waarheid wat ons nie kan agter weë kan laat nie: ‘Geen verhouding kan blom as die waarheid nie vrylik gedeel kan word nie. Waar eerlike en egte kommunikasie om een of ander rede gesmoor of geïnhibeer word, kan jy maar seker wees dat verhoudings gaan kwyn.’

God is waarheid, en sy liefde en trouheid bewys dit keer op keer. Ons kan nie sonder hierdie waarheid leef nie. Ons moet egter ook besef dat daar straf aan verbonde is, wanneer dinge nie die waarheid reflekteer nie. Dit moet in opregtheid en liefde vir mekaar toegepas word, net soos die Vader ons in liefde bejeën het, en besef het ons is te swak. Van daar die wonderlike genadegawe van Jesus Christus en die teenwoordigheid van die Heilige Gees.

Teksverse:

“Die Here het reg voor hom verbygegaan en uitgeroep: “Die Here, die Here, ‘n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie, …”” (Eks. 34: 6-720);

“Salomo het gesê: “U self het aan u dienskneg, my vader Dawid, oorvloedige troue liefde bewys, omdat hy voor U geleef het in waarheid en geregtigheid, en ook met opregtheid van hart teenoor U…”” (1 Kon. 3: 620);

“Leer my u pad, Here; ek wil in u waarheid leef. Gee dat ek heelhartig vir u Naam ontsag sal hê.” (Ps. 86: 1120);

“Deur troue liefde en waarheid word sondeskuld bedek, en deur ontsag vir die Here vermy ‘n mens die kwaad.” (Spr. 16: 620);

“En ek Nebukadnesar, besing en verheerlik en eer nou die Koning van die hemele, omdat al sy werke waarheid is en sy paaie reg, omdat Hy hulle wat met trots rondloop, kan verneder.” (Dan. 4: 3720);

“Dit is wat julle moet doen: Praat onder mekaar die waarheid; beoefen in julle stadspoorte slegs regspraak wat waar is en tot vrede lei.” (Sag. 8: 1620) 

Genade en Waarheid bring hoop

Die evangelie is genade en waarheid! Jesus Christus self was die genade en waarheid wat as mens hier op aarde vir ons foute kom sterf het. Hierdie een daad van God het dit vir elkeen van ons moontlik gemaak om die verlossings genade te ontvang. Ons is vrygemaak. Ons het egter ook ‘n verantwoordelikheid om mense in liefde tereg te wys, wanneer nodig.

Deur eerlik en opreg, en met ‘n omgee liefde, met iemand oor moontlike ontoelaatbaarhede te gesels, moet aanmoediging tot die hoop in Jesus Christus wees. Laat ons dus nie veroordelend wees nie, maar mekaar sagmoedig hanteer, sodat ons almal se lewenswyse tot eer van God kan wees.

Teksverse:

“Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God.” (Rom. 5: 220);

“Maar die genadegawe is nie soos die oortreding nie. Want as deur die oortreding van een mens baie gesterf het, het die genade van God, ja, die genadegawe wat deur die een mens, Jesus Christus, gekom het, vir baie mense nog soveel oorvloediger geword. En die genadegawe is nie soos gevolg van een mens se sonde nie; want die oordeel oor een mens het tot vryspraak van baie oortredings gelei.” (Rom. 5: 15-1620);

“En God is magtig om alle genade oorvloedig vir julle te laat wees, sodat julle in elke opsig selfversorgend kan wees, en oorvloedig kan bydra tot elke goeie werk.” (2 Kor. 9: 820);

“God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (Joh. 4: 2420);

“Toe het Jesus vir die Jode wat Hom geglo het, gesê: “ As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”” (Joh. 8: 31-3220);

“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei… ” (Joh. 16: 1320)

Nuusflitse Week 30+ van 2026

Nuusflitse NG Kerk Groot-Brakrivier

Sondag 19 Julie 2026 : Erediens om 10:00 GEEN Kleuterkerk en GEEN Kategese nie.
Woensdag 22 Julie 2026 – Kooroefening 16:45.
Woensdag 22 Julie 2026: Wolwedans Boodskap Sop en Brood.
Woensdag 22 Julie 2026: Christmas in July.
Donderdag 23 Julie 2026: Bloedskenk 14:00-19:00
Sondag 26 Julie 2026 : Erediens om 10:00 – Kategese & Kleuterkerk.
5 Augustus 2026: Klub 50 Pannekoek 10:00
22 Augustus 2026 – Frank Opperman


Lees die volledige afkondigings hier: Afkondigings 19 – 26 Julie 2026

Lief en Leed Week 30 van 2026

Lief en Leed

Sterftes

Dit is met leedwese dat ons kennis neem van die heengaan van
Gerhard de Villiers (Rheebokvillage) wat Maandagaand (13 Julie) oorlede is. Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

Verjaarsdae

Baie geluk aan al ons verjaarsdag maats

Verjaarsdae Week 29 NG Kerk Groot-Brakrivier
Verjaarsdae Week 29 NG Kerk Groot-Brakrivier

Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 18 Julie 2026 – Neem bestek op

Dagstukkies April

Julie — Josua en Rigters

18 Julie

Ek bid dat jy vandag rustig sal stilstaan en eerlik na jou eie lewe sal kyk. Neem God se boodskap vandag ernstig op.

Tema: Neem bestek op

Teks: “Die Here het aan Israel die hele land gegee wat Hy met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het.” (Jos. 21:43)

  • Die Here laat nie die werk van Sy hande vaar nie. Hy sal alles goed laat afloop. (Ps. 138:8)
  • Wat die Here aan jou belowe het, sál Hy doen — Hy is getrou.
  • Vat ’n oomblik om jou lewe weer in lyn te bring met God se plan.
  • Die Here is jou Beskermer — Hy sal jou beskerm, lei en help, elke tree van die pad wat jy stap.
  • Stap agter Hom aan.

Gebed

Liewe Vader, dankie dat U my beskerm en getrou is aan U beloftes.
In die Naam van Jesus Christus, die Here.

Amen.

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.

Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 17 Julie 2026 – Sorg vir ander mense

Dagstukkies April

Julie — Josua en Rigters

17 Julie

My gebed vir jou is dat jy met sagte oë na die mense om jou sal kyk. Hier is die Woord van God vir vandag.

Tema: Sorg vir ander mense

Teks: “Die Israeliete het toe die bevel van die Here uitgevoer en uit hulle woongebiede vir die Leviete dorpe met weivelde gegee.” (Jos. 21:3)

  • Die Here is vir almal goed en Hy ontferm Hom oor alles wat Hy gemaak het — laat jou hart ook so wees teenoor ander. (Ps. 145:9)
  • Die Here sien jou raak, en daarom sal Hy vir jou sorg.
  • Hy gebruik dikwels die mense wat jou pad kruis om vir jou te sorg — maak jou hart daarvoor oop.
  • Ontvang dit met dankbaarheid, maar onthou: jy kan ook vir iemand anders ’n helper wees.

Gebed

Liewe Vader, dankie dat U my raaksien — help my om ook ander raak te sien.
In die Naam van Jesus Christus, die Here.
Amen.

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.

Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 16 Julie 2026 – Moenie oorhaastig optree nie

Dagstukkies April

Julie — Josua en Rigters

16 Julie

My gebed is dat die Here jou hart vandag sal vul met rus, vreugde en vrede. God se Woord is vandag net vir jou. Lees dit.

Tema: Moenie oorhaastig optree nie

Teks: “Josua het die stad herbou en daar gaan woon.” (Jos. 19:50)

  • As die Here nie self die huis bou nie, swoeg die bouers tevergeefs — laat Hom in alles wat jy bou die Een wees wat lei. (Ps. 127:1)
  • Die Here gee regtig vir jou om, en Hy help jou om rustig klaar te maak met wat jy moet doen.
  • Jy hoef nie alles gejaagd en haastig te doen nie — gee dit tyd en doen dit reg.
  • So word jy met vrede in jou hart alles wat die Here jou bedoel het om te wees. Geniet die vreugde wat dit bring.

Gebed

Liewe Vader, baie dankie vir die nuwe geleenthede wat U oor my pad bring.
In die Naam van Jesus Christus, die Here.
Amen.

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.

Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 15 Julie 2026 – Van uitstel kom afstel

Dagstukkies April

Julie — Josua en Rigters

15 Julie

Ek bid dat jy vandag sal waag om te doen wat jy lankal weet jy moet doen. Neem die Woord van God ernstig op. Reageer daarop.

Tema: Van uitstel kom afstel

Teks: “Hoe lank gaan julle nog talm voordat julle die land in besit gaan neem wat die Here, die God van julle voorvaders, aan julle gegee het?” (Jos. 18:3)

  • Vra die Here om jou te leer om jou dae reg te gebruik, sodat jy wysheid kan kry en nie tyd mors nie. (Ps. 90:12)
  • Soms is ’n mens net bang om die ding aan te pak wat voor jou lê.
  • Maar die tyd het aangebreek om God se plan vir jou aan te gryp en uit te voer.
  • Hy gee jou geleenthede — gryp dit aan, sodat jy kan word wat Hy bedoel het jy moet wees.

Gebed

Liewe Vader, maak my gewillig en bekwaam om te waag.
In die Naam van Jesus Christus, die Here.

Amen.

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.

Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 14 Julie 2026 – Leef met integriteit

Dagstukkies April

Julie — Josua en Rigters

14 Julie

Vandag wil ek jou herinner hoe kosbaar eerlikheid is en hoe belangrik dit is om ’n mens van jou woord te wees. Die Here wil jou vandag ’n stukkie lewenswaarheid leer.

Tema: Leef met integriteit

Teks: “Josua het sy seën uitgespreek oor Kaleb … en aan hom Hebron as besitting gegee.” (Jos. 14:13)

  • Die Here weerhou niks goeds van dié wat opreg leef nie — leef daarom met integriteit en vertrou Hom daarvoor. (Ps. 84:12)
  • Kaleb het op die ou end gekry wat aan hom belowe is — al was hy toe al 85 jaar oud.
  • Hou jou beloftes, kom jou woord na en wees eerlik. Op hierdie manier maak jy ander mense se lewens gelukkiger en makliker.
  • Soms neem dit tyd voordat jy ontvang wat aan jou belowe is, maar die Here sorg getrou vir jou.
  • Glo dit en vertrou Hom hierin.

Gebed

Liewe Vader, gee my ’n hart van integriteit en help my om altyd my woord te hou.
In die Naam van Jesus Christus, die Here.

Amen.

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.

Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 13 Julie 2026 – Kyk na die suksesse wat behaal is

Dagstukkies April

Julie — Josua en Rigters

13 Julie

Mag dit hierdie jaar goed met jou gaan — sukses op sukses. Sy boodskap is vandag spesiaal net vir jou.

Tema: Kyk na die suksesse wat behaal is

Teks: “Die Israeliete het die volgende konings van die land oorkant die Jordaan … verslaan … Dit was altesaam een en dertig konings.” (Jos. 12:1, 23)

  • Dink terug aan al die magtige dinge en wonders wat die Here al vir jou gedoen het. (Ps. 105:5)
  • Wanneer die lewe deurmekaar voel, raak ’n mens maklik bekommerd.
  • Kyk dan ’n bietjie terug oor jou lewe — die Here het jou elke keer weer opgetel, deurgehelp en die onmoontlike laat gebeur.
  • Dink net waarvandaan jy kom en waar jy vandag is. Daarom kan jy positief wees — dít is geloof.
  • Gaan dus met hoop, vertroue en geloof vorentoe.

Gebed

Liewe Vader, gee my die geloof om te weet dat U my weer sal help.
In die Naam van Jesus Christus, die Here.

Amen.

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.

Stof tot nadenke: Wees ‘n omgee-mens

“Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.”

(Ef. 2: 1020)

Omgee-mense

Het jy al ‘n eerlike en opregte omgee-mens ontmoet? Dis daardie mens wat jou waarlik laat tuis voel. Dis daardie mens wat jou laat voel jy het by die beloofde “groen waters waar rus is” uitgekom. Hierdie mense het die vermoë om elkeen waarmee hulle in aanraking kom, te laat voel dat hier ‘n omgee is wat jy nie altyd verstaan nie. Jy verdien nie soveel omgee nie!

Dit is baie spesiale mense wat die belangrikste kuns in die lewe ontdek het. Hulle het besef dat elke mens nodig het om aanvaar te word. Elke mens het nodig om raakgesien te word. Elke mens wil belangrik genoeg geag word, om ‘n vriendelike groet, ‘n glimlag, of ‘n dankie te kry waar nodig.

Dis mense wat dit in hulle het om ‘n lafenis vir almal om hulle te wees! Maar nie almal het daardie kennis nie.

Teksverse:

“In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my.” (Ps. 23: 220);

“…deur elkeen nie net aan sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.” (Fil. 2: 420);

“Die Broederliefde moet bly!” (Heb. 13: 120);

“Maar almal het nie hierdie kennis nie.” (1 Kor. 8: 720)

Hoe word ek ‘n omgee-mens?

Kan elkeen van ons so wees? Ons het elkeen ons eie persoonlikhede. Ekstroverte, introverte, boelies, en so kan ons aangaan. Ons skuil so graag agter ‘n persoonlikheids-fout, wat ons kan beskuldig, dat ons nie vir ander kan omgee nie. Daarmee kan ons onsself veronskuldig. Ek is te skaam. Ek kan nie so maklik met ander praat nie. Ek kan nie so maklik my emosies vir ander wys nie.

Tog word daar vir ons duidelike riglyne in die Bybel neergelê. Jesus Christus het vir ons kom wys hoe om vir mekaar om te gee! Ons is heeltemal reg dat ons dit nie uit onsself kan doen nie. Maar God self bemoedig ons. Deur die Heilige Gees raak dit vir ons al hoemakliker om die omgee gawe te ontwikkel. Ons kan seker wees as ons die beheer in ons lewens oorgee, sal ons lewenswyse al hoe meer soos Christus s’n wees.

Ons sal minder en minder die verkeerde dinge doen wat die kenmerk van ons ou lewens is, en meer en meer omgee-mense word. Mense wat net die beste vir ons medemense wil hê. Mense wat nie wraakgierig is nie, en net goed vir mekaar wil doen. Mense wat nie leuens oor ander vertel of mense uitbuit nie.

Laat elkeen van ons in gebed nederig voor God vra om ons elke dag by te staan, sodat ons opregte en eerlike omgee-mense kan wees. God het ons oorgemaak deur Jesus Christus. Ons moet goed wees vir mekaar. Jy moet altyd ‘n ander in ag neem, waar jy ookal is. Jy moet tot die besef kom dat jy nie hier is net vir eie gewin nie. jy moet ook ‘n ander se hartseer en pyn verstaan. Jy moet begrip hê vir enigeen wat anders is as jy! God het ons geskep om goed te doen aan ander, sodat ook elkeen van ons ‘n veilige hawe kan wees vir iemand wat die nodig het.

Teksverse:

“Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word;” (2 Kor. 1: 420);

“Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het.” (Ef. 4: 3220);

“Jy mag nie jou naaste se grens verskuif nie.” (Deut. 19: 1420);

“Jy mag nie die reg van vreemdelinge en vaderloses verdraai nie, en jy mag nie die bokleed van ‘n weduwee as pand neem nie.” (Deut. 24: 1720);

“Daarom bemoedig mekaar, en laat die een die ander in geloof opbou, soos julle inderdaad doen.” (1 Thes. 5: 1120);

“Sorg dat niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar streef altyd na wat goed is vir mekaar en vir alle mense.” (1 Thes. 5: 1520)

Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 12 Julie 2026 – Daar kom ’n tyd wanneer alles rustig raak

Dagstukkies April

Julie — Josua en Rigters

12 Julie

Ek bid dat jy diep binne-in vrede sal hê, selfs al gaan dit buite soms moeilik. Laat God se Woord vandag vir jou hoop gee.

Tema: Daar kom ’n tyd wanneer alles rustig raak

Teks: “Die land kon toe rus van oorlog.” (Jos. 11:23)

  • Kom tot rus, want die Here was goed vir jou — jy kan weer rustig asemhaal. (Ps. 116:7)
  • Voel jy soms net bang, onseker, moeg en moedeloos? Jy is nie die enigste een nie.
  • Dit neem soms tyd, maar die Here sal jou herstel en jou weer laat asemhaal. Hy sal jou weer laat lag.
  • Jy sal jou pad en jou doel weer terugkry. Hy gee jou nuwe krag en ’n tyd van rus en vrede.

Gebed

Liewe Vader, laat my in U rus en vrede ingaan.
In die Naam van Jesus Christus, die Here.

Amen.

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.

Nuusflitse Week 29+ van 2026

Nuusflitse NG Kerk Groot-Brakrivier

Sondag 12 Julie 2026 : Erediens om 10:00 GEEN Kleuterkerk en GEEN Kategese nie.
Woensdag 15 Julie 2026 – Geen Kooroefening nie.
Sondag 19 Julie 2026 : Erediens om 10:00, GEEN Kategese. GEEN Kleuterkerk
Sondag 19 Julie 2026: GEEN LEEFkerk nie
Woensdag 22 Julie 2026: Wolwedans Boodskap Sop en Brood.
Woensdag 22 Julie 2026: Christmas in July.
Donderdag 23 Julie 2026: Bloedskenk 14:00-19:00
22 Augustus 2026 – Frank Opperman


Lees die volledige afkondigings hier: Afkondigings 5 – 12 Julie 2026

Sendingnuus uit Oekraïne – Junie 2026

Oekraïne

Liewe familie en vriende

Die Here het vir my gisteraand die woord gegee. 

Psalm 30:11 “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek.

“Hear, O Lord, and have mercy on me; Lord, be my helper!” You have turned for me my mourning into dancing; You have put off my sackcloth and clothed me with gladness,”
Psalms 30:10-11 NKJV

Vandag glo ek. Ek vat hierdie woord van Hom. Hy is die bron van my vreugde, vrede en lewe. 

Dit is my gebed en hoop vandag. Dat die Here my genadig sal wees en vreugde sal gee. 

Dat Hy my sal beklee met Sy vreugde. 

Ja, ek verlang en ek mis vir Ockert en Mari-Alena. Ek verlang, ek huil soms vir dae aanmekaar, maar vandag weet ek dat die Here my vashou en vertroos en dat Hy so naby is. 

Baie dankie vir elkeen wat bid en saam met ons die Here vertrou. Ons waardeer julle liefde, ondersteuning en voorbidding opreg.

Prys die Here vir Sy getrouheid en goedheid! Ek het wonderlike nuus ontvang. Albei my biopsies het goed verloop en is skoon – geen kanker nie! Ek is die Here só dankbaar vir Sy sorg en genade. Ons prys Hom ook dat Hy voorsien het, en dat die koste van die biopsies en operasie wat nie deur die mediese fonds gedek is nie, reeds betaal is! 

Ek was verlede week by die ortopediese chirurg in Stellenbosch. Ná die ondersoek was hy bekommerd oor wat agter my patella (knieskyf) in my regterknie aangaan. Hy het my dieselfde dag vir ’n MRI gestuur om die oorsaak van die pyn, swelling en ander probleme vas te stel. Hy het ook artritis in my knie opgemerk. Ek sien hom Donderdag weer, wanneer hy die MRI-uitslae met my sal bespreek en die verdere behandeling of prosedures sal bepaal.

Met die gemeente in Suid-Oekraïne gaan dit, onder die moeilike omstandighede, goed. Ons dank die Here vir Sy troue sorg. Ek het vandag met Tuta (Tannie) Meina gepraat om die gebedsversoeke te ontvang.

Verlede week was daar twee begrafnisse van soldate in Suid-Oekraïne wat in die oorlog gesneuwel het, en hierdie week is daar weer ’n jong soldaat dood. Die oorlog eis steeds elke dag baie lewens. Bid asseblief vir die mense van Suid-Oekraïne, vir die mans wat daar dien, en vir die Here se beskerming, troos en vrede te midde van hierdie moeilike omstandighede.

By die Kleuterskool is hulle besig met broodnodige herstelwerk aan die gebou. Al die onderwyseresse en werkers help self om die herstelwerk te doen.

Die Light Café is ’n belangrike deel van ons bediening in Suid-Oekraïne. Dit is die enigste manier waarop ons plaaslik fondse kan genereer om die bediening aan die gang te hou. Die speelarea is ’n groot trekpleister vir gesinne en help om ’n inkomste te skep wat weer gebruik word om die bediening te ondersteun. Elke koppie koffie wat gekoop word en elke besoek aan die speelarea maak ’n verskil.

Oor die jare het die speelarea baie skade opgedoen. Daar was selfs gate in die mure, en dit het so vervalle gelyk dat mense nie meer kinderpartytjies daar wou hou nie. Gister het hulle uiteindelik met die herstelwerk begin.

Ons is baie dankbaar vir die Gemeente en Wev wat reeds begin het om fondse in te samel vir die herstel van Light Café, sodat die werk kon begin. Bid asseblief saam met ons vir die nodige finansies om al die herstelwerk by Light Café en die Kleuterskool te voltooi.

Ons oë bly gevestig op die Here. Hy is getrou en Hy sal aanhou voorsien.

Baie liefde en seën,

Link vir Light Cafe se herstelwerk: 

https://www.zeffy.com/en-GB/peer-to-peer/40mile-bikeride

Deel asseblief met ander. 

Rekening vir projekte:
Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067 
in die naam Nuwe Dag

My persoonlike rekening:
Capitec

Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010

Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 11 Julie 2026 – Jy sal die jaar staande kan bly

Dagstukkies April

Julie — Josua en Rigters

11 Julie

My gebed is dat jy hierdie jaar staande sal bly, wat ook al oor jou pad kom. Ontvang vandag hierdie troos uit God se Woord.

Tema: Jy sal die jaar staande kan bly

Teks: “Moenie vir hulle bang wees nie. Ek gee hulle in jou mag oor. Nie een van hulle is teen jou bestand nie.” (Jos. 10:8)

  • Vir slegte nuus hoef jy nie bang te wees nie — jou hart kan rustig wees, want jy vertrou op die Here. (Ps. 112:7)
  • Die Here belowe dat Hy jou geloofsplanne sal laat slaag, selfs deur wonderwerke.
  • Soms is daar dinge wat jou wil afbreek — spanning, gesinsprobleme, finansiële druk, uitdagings by die werk, politieke onsekerheid, gesondheidsprobleme of seer in ’n verhouding, om maar net ’n paar te noem.
  • Niks hiervan is te groot vir Hom nie. Die Almagtige God van wonderwerke gee oorwinning, sodat jy in vryheid kan leef.

Gebed

Liewe Vader, dankie dat niks teen my kan standhou wanneer U aan my kant is nie.

In die Naam van Jesus Christus die Here.

Amen.

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.

Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 10 Julie 2026 – Geloof vra ook aksie

Dagstukkies April

Julie — Josua en Rigters

10 Julie

Mag jy vandag die moed hê om met geloof ’n plan te maak en ’n besluit te neem. Neem die boodskap van die Bybel vandag ernstig op.

Tema: Geloof vra ook aksie

Teks: “Maar toe die inwoners van Gibeon hoor wat Josua met Jerigo en Ai gedoen het, het hulle ’n slim plan gemaak …” (Jos. 9:3)

  • Mag die Here vir jou gee wat jou hart begeer en al jou planne laat slaag. (Ps. 20:5)
  • Partykeer staan jy voor ’n deur wat lyk asof dit nooit sal oopgaan nie.
  • In sulke tye het jy geloof, vertroue in Hom en gehoorsaamheid nodig.
  • God gee jou die wysheid en die moed om te waag, sodat jy kan slaag.
  • Moenie bang wees om nuut te dink en dan op te tree nie — dít is wat geloof in aksie beteken.

Gebed

Liewe Vader, dankie vir die moed om te waag.

In die Naam van Jesus Christus die Here.

Amen.

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.

Splitsekondes met God. Bybel dagstukkie vir vandag: 09 Julie 2026 – Wag eers, doen dan

Dagstukkies April

Julie — Josua en Rigters

9 Julie

My gebed vir jou vandag is ’n hart wat geduldig op die Here kan wag. Hier is die Woord van God vir vandag.

Tema: Wag eers, doen dan

Teks: “Die manne van die stad het haastig klaargemaak en hulle het Israel vroeg die môre tegemoet getrek vir die veldslag.” (Jos. 8:14)

  • Stel jou hoop op die Here en wag rustig op wat Hy sê — Hy is die wag werd. (Ps. 130:5)
  • God wil jou herstel en jou weer op die been bring.
  • Hy doen dit wanneer jy stil raak en met wysheid na Sy Gees luister.
  • Moenie haastig wees nie. Wag ’n oomblik, luister na Sy stem en doen dán wat Hy sê.

Gebed

Liewe Vader, dankie dat U my altyd weer ’n nuwe kans gee.

In die Naam van Jesus Christus die Here.

Amen.

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.