“Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”
Rom. 6: 23
Wanneer mens ‘n woordsoektog, in die elektroniese Bybel, doen, is daar menige teksverse wat uitstaan oor gawes. Daar is duidelik ‘n klemverskuiwing vanaf die Ou Testament (OT) na die Nuwe Testament (NT).
In die OT verwys alle gawes na die offers wat deur die mense aan God en aan die Tempel gebring moes word, vir verskeie doeleindes. Sommige gawes was as heilig beskou, besonder heilige gawes en gewyde gawes. Die heilige gawes was in die vorm van diere en produkte wat die Israeliete vir die Here na die Tempel gebring het. Die besonder heilige gawes was die deel wat deur die priesters gebruik kon word en dit moes in die heilige gebied van die tabernakel of tempel geëet word (“Die voedsel van sy God uit die besonder heilige gawes en uit die heilige gawes mag hy eet.” (Lev. 21: 22)); (“Die volgende van die besonder heilige gawes, dit wat nie verbrand word nie, is wat jou toekom: al hulle offers – al hulle graanoffers, al hulle reinigingsoffersen al hulle hersteloffers wat hulle vir My bring. Die besonder heiliges gawes kom jou en jou seuns toe. Op ‘n besonder heilige plek moet jy dit eet. Elke manspersoon mag dit eet. Dit moet vir jou iets heiligs wees.” (Num. 18: 9-10)). Die gewyde gawes het aangedui op die hantering van die gawes by die altaar. Dit was duidelik die danksegging van die mense aan God, op voorskrif soos aan die leiers van daardie tyd, gegee was deur God. Dit versinnebeeld die gawes tot op die tyd wat die Evangelie van Jesus Christus ‘n werklikheid geword het (“Dit versinnebeeld tot op hede hoe gawes en offers gebring is wat nie in staat was om die gewete van die een wat die offer bring, volkome te reinig nie.” (Heb. 9: 9)).
Die mense wat in God geglo het het hierdie gawes gebring omdat hulle besef het dat God die Hemel en die aarde geskape het (“Want wie is ek, en wie is my volk, dat ons in staat is om vrywillge gawes soos hierdie te gee? Ja, van U kom alles, en uit u hand het ons dit aan U gegee. ” (1 Kron. 29: 14)). Hy is dus die Almagtige Opperwese waaraan danksegging toekom. Die bekende verhaal van Kain en Abel se offers is ‘n goeie voorbeeld hiervan (“Ná verloop van tyd het Kain van die vrug van die grond ‘n offer vir die Here gebring. En Abel, ook hy het ‘n offer gebring uuit die eersgeborenes van sy kleinvee, van hulle vetr. _ Die Here het Abel en sy offer met guns beskou. Maar Kain en sy offer het Hy nie met guns beskou nie.” (Gen. 4: 3-5)). God het egter die harte van die twee mans geken, en geweet dat een in opregtheid geoffer was, terwyl die ander se offer nie in opregtheid en oortuiging van die hart gedoen is nie. Ook die gebruik om die tiende van alles aan God te offer, is ‘n gebruik wat uit die OT kom (“Die Israeliete en Judeërs wat in die dorpe van Juda gewoon het, ook hulle het die tiendes van beeste en kleinvee afgestaan. Die tiendes van die heilige gawes wat aan die Here hulle God gewy was, het hulle gebring en dit hoop vir hoop neeregesit.” (2 Kron. 31: 6)). Maria se lofsang aan God, nadat sy by Elizabeth, ma van Johannes die Doper, gaan kuier het, wys daarop dat die gawes van God afkomstig is (“Hongeriges versadig Hy met goeie gawes,…” (Luk. 1: 53)), die eerste gebruik van die woord gawes in die NT.
Die klemverskuiwing en gebruik van gawes in die NT kom nadat Jesus Christus reeds Sy taak hier op aarde volvoer het. Die grootste genadegawe wat direk van God aan ons geskenk is (“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, – sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. ” (Joh. 3: 16)). Die gebruik van die woord ‘gawes’ word nou meer prominent as die gawes wat van God af, direk aan ons gegee is deur die uitstorting van die Heillige Gees (“…terwyl God dit verder bevestig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade, en deur die gawes van die Heilige Gees, wat uitgedeel is soos Hy dit goedgevind het.” (Heb. 2: 4)); (“Maar aan elkeen van ons is ‘n genadegawe geskenk, soos Christus dit uitgedeel het. Daarom staan daar: “Toe Hy opgevaar het na bo, het Hy krygsgevangenes weggevoer; Hy het gawes an die mense gegee.”” (Eff. 4: 7-8)). Dit is dus die direkte werking van God, om ons meer pertinent daarop attent te maak, dat alle gawes wat ons het, direk van Hom afkomstig is. Die raadsplan wat van die vroegste tye af sy pad in ons mense lewens gebaan het. Die koms van Jesus Christus, die grootste geskenk wat mens voor kon vra, sodat ons van ons sondes verlos kon word. Die uitstorting van die Heilige Gees van God, wat aan ons gawes gebring het wat dikwels bo ons menslike verstand is. God het ons uitverkies en Hy bemagtig ons deur die bystand en leiding van die Heilige Gees, sodat ons Hom deurgaans kan aanbid en verheerlik (“Die gawes en roeping van God is immers onherroeplik. ” (Rom. 11: 29)); (“Of wie het eers gawes aan Hom gegee, vir wie Hy dit sou vergoed? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe. ” (Rom. 11: 35-36)).
Die opdrag van die gebruik van die God gegewe gawes word goed beskryf in Korinthiërs (“So ook met julle. Aangesien julle julle beywer vir die gawes van die Gees, streef daarna om uit te munt met die oog op die opbou van die gemeente.” (1 Kor. 14: 12)). Alle gawes moet dus tot opbou van die Gemeente en tot verheerliking van God gebruik word. Die verskeidenheid van gawes word breedvoerig beskryf in Romeine 12 en 1 Kor. 12 (“Ons het gawes wat van mekaar verskil, volgens die genade wat aan ons gegee is: As dit die gawe van profesie is, beoefen dit dan in ooreenstemming met die geloof; as dit is om ander te dien, gebruik dit dan vir dienswerk. Wie onderrig kan gee, moet onderrig; wie kan bemoedig, moet bemoediging gee; wie mededeelsaam kan wees, moet dit met opregtheid doen; wie leiding kan gee, moet dit met toewyding doen; wie barmhartigheid kan betoon, moet dit met blydskap doen.” (Rom. 12: 6-8)); (“Daar is ‘n verskeidenheid genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is ‘n verskeidenheid dienste, maar dit is dieselfde Here; en daar is ‘n verskeidenheid aktiwiteite, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in almal bewerk. Aan alkeen egter word die openbaring van die Gees gegee, met die oog op wat bevorderlik is: Aan een word ‘n woord van wysheid deur die Gees gegee, aan ‘n ander ‘n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan een geloof deur dieselfde Gees, aan ‘n ander gawes van genesing deur één Gees; aan een dinamiese kragte, aan ‘n ander weer die gawe van profesie; aan een die onderskeiding van geeste, aan ‘n ander verskillende soorte tale, en aan nog ‘n ander die uitleg van tale. Een en dieselfde Gees bewerkstellig al hierdie dinge, wat Hy aan elkeen afsonderlik uitdeel volgens sy wil.” (1 Kor. 12: 4-11)). Dit onderskryf al hierdie gawes, en ons kan almal in eenstemming en samehorigheid leef as ons besef dat die liefde die basis hiervoor is (“Jaag die liefde na, en streef na die gawes van die Gees, veral om te profeteer.” (1 Kor. 14: 1)).
Ons moet mekaar dus in verdraagsaamheid en liefde toelaat om ons verskillende en uiteenlopende gawes, soos deur God en Sy Gees deur die loop van die lewe vir elkeen gegee het, uit te leef tot opbouing van die gemeente en sodoende ook tot uitbou van die Koninkryk van God.


