“Tonge asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. En almal is vervul met die Heilige Gees.”
Hand. 2: 2-3
Ons herdenk nou die Uitstorting van die Heillige Gees. Hierna kon die apostels en dissipels spontaan begin getuig het. Hulle wat voorheen ongeletterd en vissermanne was, het die lewensveranderde ervaring beleef, nadat hulle vir drie jaar saam met Jesus Christus geleef het en by Hom geleer het (“By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel: “Ek prys U, Vader, Here van Hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling. ” (Luk. 10: 21); (“Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees!” (Joh. 20:22)). Hulle het ook dikwels nie verstaan presies wat Hy vir hulle gesê het nie. Met hierdie uitstorting van die Heilige Gees, kon hulle egter skielik beter verstaan, en het met oortuiging die Evangelie van Christus verkondig, waar hulle ookal heen gegaan het (“’En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God: ‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort – julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongmense sal visioene sien, en julle ou mense sal drome droom…” (Hand. 2: 17)).
Van Johannes die Doper wat die voorspel tot Christus se werk was is daar gesê dat hy met die Heilige Gees vervul sal wees (“Hy sal ‘n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oq van die Here. Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie uit die volk van Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. ” (Luk. 1: 14-16)). Ook Sagaria, pa van Johannes die Doper, is reeds met die Heilige Gees vervul (“Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesë: “Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk. ‘n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan uit die huis van sy dienaar Dawid.” (Luk. 1: 67-69)). Met die bekende doop van Jesus Christus het God dit vir ons meer duidelik kom wys, deur die Heilige Gees in die vorm van ‘n duif op Jesus Christus te laat neerdaal, maar ook deur sy stem erkenning te gee aan ons Verlosser, as Sy seun (“…en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”” (Luk. 3: 22)).
So was daar ook ander mense wat reeds op stil maniere die Heilige Gees ontvang het, en onder Sy leiding was. Hier dink ons aan die twee-en sewentig sendelinge wat Christus uitgestuur het om twee-twee saam voor Hom uit te gaan. Hulle ervaring was een van verwondering (“Die twee en sewwentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.”” (Luk. 10: 17)). Jesus het hulle egter ook gewaarsku om nie net bly te wees oor die vermoë om die bose geeste aan hulle te onderwerp nie, maar vir die feit dat hulle name opgeteken sal wees in die hemel (“En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.” (Luk 10: 20)). Ook die geval van die diep geliwige Simeon wat in Jesrusalem gewoon het. Hy is verseker deur die Heilige Gees se teenwoordigheid dat hy nie sou sterwe, voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie (“Daar het destyds ‘n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. ” (Luk. 2: 25-26)). Selfs die Psalmdigter het God gesmeek om nie die Heilige Gees van hom weg te neem nie (“Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u heilige Gees nie van my wegneem nie. ” (Ps. 51: 13)).
Jesus het ons telkemale belowe dat ons vir God kan bid om ons ook nader aan Hom te bring en die Heililge Gees oor ons te laat waak en in ons te laat werk (“… die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heillige Gees gee vir dié wat vra.” (Luk. 11: 13)). Ons hoef ons nie te bekommer oor wat ons moet sê of doen nie, want wanneer ons onder die leiding van die Heilige Gees is, lê Hy ons die woorde in die mond, en lei Hy ons in wat ons moet doen (“… die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leere wat gesê moet word.” (Luk. 12: 12)). Christus het ons ook verseker dat Hy moes weggaan omdat dit tot ons voordeel sou wees, want die Voorspraak sou na ons toe kom (“Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.” (Joh. 16: 7)).
Die gebeurtenis van die groot uitstorting van die Heilige Gees is goed beskryf in die Bybel, en waartoe dit gelei het (“Toe staan Pettrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe:…” (Hand 2: 4)). Op die skare se vraag oor wat hulle moes doe, het Petrus hulle duidelik geantwoord. “Bekeer julle” (“Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.” (Hand. 2: 38)). Daar is duidelike leiding waardeur ons ons kan laat lei (“En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.” (Hand. 5: 32)). Dis wanneer ons in harmonie leef met die volle evangelie van Jesus Christus, en onder leiding van die Heilige Gees is, dat die getalle van gemeentes toegeneem het (“In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk ‘n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe. Die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.” (Hand. 9: 31)).
Selfs Paulus het tot die besef gekom, dat die Heilige Gees die volharding en liefde in ons harte bewerkstellig en ons gehoorsaam aan God maak (“Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” (Rom. 5: 3-5); (“Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.” (Rom. 14: 17)). Petrus wys ons ook daarop dat daar verskillende manier van uitleef van die teenwoordigheid van die Heilige Gees is. Ons moet mekaar dus nie verhinder, wanneer dit tot verheerliking van God geskied nie (“Skaars het ek begin praat , of die Heilige Gees kom op hulle net soos op ons in die begin. Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ Hulle het net soos ons in die Here Jesus Chriustus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?” (Hand. 11: 15-17)). Ons moet dus besef dat hierdie onbeskryflike groot gawe daar is vir almal om te ontvang. Ons moet nie ‘n hindernis raak vir God omdat ons dink net ons het die reg om gelowiges te wees nie.


