Stof tot nadenke: Nuwe Lewe

Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat net soos Christus deur magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só ‘n nuwe lewe kan lei.

Rom. 6: 4

Nuwe lewe is ‘n konsep wat ons as so dikwels met die geboorte van ‘n mens assosieer. Daardie klein lewetjie wat in hierdie wêreld aankom. Ons, as ouer mense, besef so dikwels hoe ‘n moeilike pad moontlik vir hierdie nuwe lewetjie hier op aarde wag. Ons kyk ons vas in die hier en nou. Die aardse bestaan, sonder God. Dis wanneer ons so dikwels miskyk hoe wonderlik God dit vir ons gewil het. Dat ons die nuwe lewe in Christus mis kyk. Christus waarborg vir ons die lewe as ons op God vertrou, soos ‘n kind op sy ouers vertrou, en soos wat die voëls van die hemel op God vertrou vir elke ding wat hulle nodig mag hê (“Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor wat julle sal drink, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Let op die voëls van die hemel: Hulle saai nie en hulle maai nie, en hulle versamel niks in skure nie. Tog sorg julle hemelse Vader vir hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie? Wie van julle kan deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg?” (Matt. 6: 25-27)).

Hoe moet ons dan hierdie Nuwe Lewe in Christus verstaan, beleef en uitleef? Moet ons net die Bybel en ander godsdienstige geskrewe boeke bestudeer? (“Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle dink dat die ewige lewe daarin te vinde is. En dit is juis hulle wat oor My getuig. Maar julle wil nie na My kom, sodat julle die lewe kan hê nie.” (Joh. 5: 29-30)). Stellig nie! Wat kan ons doen om vir ons hierdie Nuwe Lewe toe te eien? (“Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind. Wat sal dit ‘n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy lewe?” (Matt. 16: 25-26)). Dit raak al hoe meer duidelik dat dit nie in ons hand is om ons saligheid te bewerkstellig nie. Ons word wel leiding gegee en atent gemaak op moontlike valstrikke op die pad, wat ons moet vermy (“So mag dit nie by julle wees nie; maar wie belangriker onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het die Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee.” (Matt. 20: 26-28); (“Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.”” (Luk. 12: 15); (“As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” (Rom. 12: ); (“En wanneer julle staan en bid – as julle iets teen iemand het, vergeef hom, sodat julle Vader in die hemele julle ook julle oortredings kan vergeef.” (Mark. 11: 25-26); (“Verdra mekaar en, as enigiemand ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe.” (Kol. 3: 13)).

Ons word egter duidelik daarop gewys, dat dit alleen deur Jesus Christus is wat ons hierdie Nuwe Lewe saam met God kan stap. Ons verlossing is dus geheel en al die genade gawe en werk van God (“Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh. 10: 28); (“En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus.” (Joh. 17: 3); (“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het.” (2 Kor. 5: 17-18)).

Hoe lewe ons hierdie nuwe genade gegewe lewe? Deur mekaar te dien, soos Jesus Christus so goed vir ons gedemonstreer het deur die loop van sy aardse bestaan (“Want ook die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.” (Mark. 10: 45)). Jesus Christus is die lewe, die weg en die waarheid wat ons kan vry maak (“As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” (Joh. 8: 31-32)). In Hom is lig, ‘n lig wat in ons lewens moet reflekteer (“In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie. ” (Joh. 1: 4-5)). Die lig wat vir die wêreld kan help kom na die bron van alle lewe (“…maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ‘n fontein word wat opborrel tot die ewige lewe.” (Joh. 4: 14)). Sodat ons almal in vrede, met dieselfde doel voor oë, kan leef. Die verheerliking van God, die Vader, die Seun en Verlosser, Jesus Christus; en onder leiding van die Heilige Gees van God. Dit is ‘n vrymakende Nuwe Lewe!