Stof tot nadenke: “In God se vrugteboord”

”Elke loot aan My wat nie vrug dra nie, sny Hy weg; maar elkeen wat vrug dra, snoei Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.”

(Joh. 15: 220)

Die vrugteboord van God

Elkeen wat al tuin gemaak het weet dat snoei van die plante, bome en veral vrugtebome ‘n noodsaaklike jaarlikse aktiwiteit is. Wanneer ons kyk na die wingerde, weet ons dat hierdie plante jaarliks so terug gesnoei word dat dit na ‘n dooie en droë land lyk. Wanneer dit egter nader aan die oestyd kom, begin hierdie oënskynlike droë lote vrug dra wat mens telkens verstom.

God gebruik ons seer en swaarkry in die snoei proses, om ons belangrike lewenslesse te leer. Hy doen dit nie om ons opsetlik te laat ly nie, maar om ons ruimte te gee om geestelik te groei. Soos met die plante, word die snoei aan ons lewens, wat vir ons soms soos onoorkomelike probleme lyk, geleenthede om meer en beter vrugte te dra. Ons moet egter met ‘n goeie gesindheid hierdie snoeiskêr aanvaar. Dit word gedoen om ons na genesing en herstel aan te spoor.

God is die Groot Tuinier, wat ons wil suiwer van swakhede en tekortkomings. Die Tuinier benader altyd sy plante met liefde en begrip. Sy tydsberekening is altyd perfek en sy metodes is die beste wat jy kan kry.

Teksverse:

“Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer.” (Joh. 15: 120);

“So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Soos met die naoes van ‘n wingerdstok, sal hulle die oorblyfsels van Israel skoon afoes. Bring jou hand telkens terug na die lote soos een wat druiwe snoei!”.” (Jer. 6: 920);

Hoekom word ons gesnoei?

Wanneer ons toelaat dat God aan ons lewens kom snoei, in dankbare ontvanklikheid, beloof Hy vrugbaarheid en ‘n ryke oes in sy koninkryk en tot sy eer. Onder hierdie wonderlike sorg van die hemelse Tuinier, herstel die wonde wat die snoeiskêr gelaat het. Oral oor kan die prikkelende nuwe groei deurbreek, deur die weefselwonde.

Dit is die versekering dat God se snoeiskêr die gewenste gevolge in jou lewe laat gebeur. Gee jou oor aan die seer van die snoeiskêr van God, en Hy sal sy beloftes hou. Jy word bevry om ‘n lewe tot eer en verheerliking van God te kan lewe. Dit bring die vrede, wat alle verstand te bowe gaan. Dit laat jou besef dat ongemaklike en pynlike gebeure, maar net gebeur of toegelaat word, sodat jy ‘n beter jy kan wees in God se koninkryk.

Teksverse:

“Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.” (Joh. 15: 820);

“Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei.” (Kol. 1: 620);

“…om ‘n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God.” (Kol. 1: 1020);

“Die saad wat egter op die goeie grond gesaai is, dit is hy wat hierdie woord hoor en begryp. En hy dra vrug – die een honderd-, die ander sestig- en die ander dertigvoudig.” (Matt. 13: 2320);

“…mag daar vrede wees by jou verdedigingswal, rustigheid in jou vestings. Ter wille van my broers en vriende sê ek graag: “Mag daar vrede in jou wees!”” (Ps. 122: 7-820)