“Vind rus by God alleen, my siel, want op Hom is my hoop gevestig. Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord. Ek sal nie wankel nie.”
Ps. 62: 6-7
Hoop is ‘n woord wat ons dikwels gebruik in verskeie kontekste. Dit is ‘n gedagte wat ons aan die lewe hou. ‘n Anonieme aanhaling stel die konsep goed. ‘Wie alle hoop om te oorwin verloor het, sal verloor’. Dit is die een ding wat ons nie wil doen nie. Ons wil nie sonder hoop lewe nie, want daardeur kan ons nie voortgaan nie. ‘Soos suurstof vir die longe is, so is hoop vir die sin van die lewe’ (Emil Brunner). Johannes Calvyn het ‘hoop as geloof’ gesien, ‘want hoop is niks anders as volgehoue geloof nie’. Daar is dus ‘n nou verband tussen geloof en om hoop in hierdie lewe te ervaar. Paulus noem die hopelose situasie in Handelinge, toe die skip sou vergaan, maar God het almal aanboord laat oorleef. Hoop is ook as een van die belangrikste aspekte van die lewe uitgewys naas, en as deel van die liefde en geloof.
”Die son en sterre het vir baie dae nie geskyk nie, en die storm het ook nie in hewigheid afgeneem nie, sodat alle hoop om gered te word, ons ontneem is.” (Hand. 27: 20);
“Dit (die liefde) bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles.” (1 Kor. 13: 7);
“En nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie -…” (1 Kor. 13: 13)
Ons kry vele verwysings na waarop die Psalmdigter se hoop gerig is, en kan vandaar leer waarop ons ons hoop moet vestig. Ons hoop moet op die beloftes van God die Vader, die evangelie van Jesus Christus, en die alomteenwoordigheid van die Heilige Gees gevestig wees, anders lei ons werklik bejammerenswaardige lewens. Wat hier op aarde is, is tydelik en ons hoop moet op die toekoms saam met God gefokus wees.
“En nou, wat verwag ek, my Heer? My hoop, op U is dit gevestig.” (Ps. 39: 8);
“My skuilplek en my skild is U; op u woord vestig ek my hoop.” (Ps. 119: 114);
“Laat my elke môre van u troue liefde hoor, want op U vertrou ek. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.” (Ps. 143: 8);
“Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes.” (1 Kor 15: 19-20);
“So loop die paaie van almal wat van God vergeet: Die hoop van die godeloses gaan tot niet – hy wat sy hoop vestig op dun spinnerakdrade, wat in ‘n spinnerak sy vertroue stel. As hy teen sy huis leen, bly dit nie staan nie; as hy daaraan vasgryp, hou dit nie stand nie. ” (Job 8: 13-15);
“Want dit is deur die Gees op grond van die geloof, dat ons die vryspraak verwag waarop ons hoop. Want in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur liefde werksaam is.” (Gal. 5: 5-6)
Johan Cilliers stel dit baie goed: ‘Die Christelike hoop is op geen manier vrug van óns genialiteit of óns godsdienstigheid nie. Ons kan dit nie sélf skep nie. Dis nie bloot die gevolg van die krag van óns sogenaamde positiewe denke nie. Nee, dis ‘n gawe van God wat Hy telkens weer aan ons moet skenk, elke keer weer vars en nuut in elke nuwe situasie van krisis en wanhoop. En die wonder is, Hy doen dit keer op keer!’ Hoop is dus ‘n genadegawe van God, wat al Sy beloftes getrou in stand hou.
”Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel hierin te kan hê aan die heerlikheid van God. Maar dis nie al nie: Ons beroem ons ook op ons verdrukking, omdat ons weet verdrukking bewerkstellig volharding, en volharding lei tot betroubaarheid, en betroubaarheid tot hoop. En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” (Rom. 5: 2-5);
“Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.” (Rom. 15: 13);
“Laat ons styf vashou aan die belydenis van wat ons hoop, sonder om af te wyk, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou.” (Heb. 10: 23)


